selfpraat
selfpraat

Selfpraat; ja hoe jy met jouself praat maak saak

Jou verhouding met jouself is die belangrikste aardse verhouding en daarom is selfpraat jou bewuste aandag werd. Jou hele menswees en die om jou sal daarby baat. Sal jy met ’n vriendin praat soos jy met jouself praat? Deur Gerdi van der Berg

Wat is selfpraat?

Magriet stap in en uit winkels. Sy hoop sy gaan genoeg tyd hê om ’n paar swart sandale te kry. Sy kyk op haar horlosie. Nog so 20 minute voordat sy die kinders moet oplaai. Haar oë vang haar weerkaatsing in ’n venster.

O my genade! Ek dra nooit weer hierdie broek nie! Hoe het ek nie gesien hoe ek hierin lyk nie?!’

Magriet draai om, stap so vinnig as moontlik terug na die parkeerplek, klim in die kar en jaag skool toe. Sy klim nie soos gewoonlik uit die kar om met die ander Mammas te praat nie. Sy probeer besig lyk, en sy is. Haar kop is volstoom besig met harde gesprekke oor dringende dieetplanne…

Ek en jy en al die Magriets in die lewe het gedurig binnegesprekke aan die gang. Dit is daardie onhoorbare opinies, idees en voorstelle. ‘Hoekom het ek nie eerder dit of dat gesê nie …’ Hierdie ongehoorde woorde verteenwoordig my binneredenasies. Net jý hoor hulle. Net jý onderhou hierdie gesprekke.

Die verhouding wat jy met jouself het, word onderhou deur sulke binnegeselsies. Siende dat jou verhouding met jouself die belangrikste aardse verhouding is, is hierdie binnekommunikasie of self-praat jou bewuste aandag werd. Jou hele menswees en dié om jou sal daarby baat.

Positiewe versus negatiewe selfpraat

Net soos die verhoudings wat ons in die daaglikse lewe met familie, vriende en kollegas het, het ons ’n verhouding met onsself. Net soos hierdie gesprekke opbouend of afbrekend kan wees, kan jou verhouding met jouself ook wees.

Positiewe selfpraat

Positiewe binnegesprekke behels eerlike en respekvolle kommunikasie. Hoe jy dus met jouself praat, openbaar of jy respek vir jouself het of nie. Jy hoef nie te kwalifiseer hiervoor nie, die blote feit dat jy gebore is, is voldoende.

Ek en jy dra die lewensasem in ons. Hierdie asem kan net van die Bron van lewe kom. Jou geboorte dui dus op jou reg om te mag lewe. Jy mag hier wees! Saam met hierdie bestaansreg, kom ook die reg om te mag kies en die reg om die waarheid te ken. Respek vir jouself spruit hieruit.

Wanneer jou binnegesprekke respekvol is, skep jy spasie om te mag foute maak én om suksesvol te mag wees.

Beide dra potensiaal vir persoonlike groei. Jy raak jou eie waarnemer wat op ’n manier langs jouself stap en objektief jou gedrag aanskou. Opregte waardering vir jou pogings sal hieruit vloei.

Negatiewe selfpraat

Negatiewe selfpraat kom dikwels as gevolg van lewenservarings wat min spasie vir mislukkings en teleurstellings gebied het. Die gevolge was afbrekend of vernederend.

Disrespek vir jouself raak dan die norm vir jou selfpraat. Jy kan moontlik die verwerping van ander na binne draai en jouself hanteer soos die persoon wat jou menswees so beskadig het. Jy vorm as’t ware ’n binneverteenwoordiger van daardie persoon. Dit kan ’n ouer, onderwyser, coach of vriend(in) wees. Later jare kan dit ’n eggenoot of werkgewer wees. Jy hoor daardie persoon se stem en kritiese woorde voortdurend soos jy deur jou dag stap.

Hierdie tipe binnepraatjies is geweldig skadelik en iewers lewer dit dalk vrug op wat die kommunikasie na buite ook beskadig en jou geliefdes is die eerstes wat daaronder sal ly. Iets wat ’n mens ten alle koste wil vermy.

6 Maniere hoe om jou selfpraat te verander

1. Staan op jou Geboortereg:

Hierdie onsigbare dokument is jou bestaansreg. Verklaar vandag sommer hardop vir jouself dat jy die reg het om op hierdie aarde te wees, die waarheid te ken en te mag kies hoe jy die lewe gaan leef. Hierdie wonderlike reg om te kies, is deel van die miljoene oomblikke in jou dag. Rig jou binne- gesprekke op hierdie heerlike werklikheid: Jy het die reg om te lewe! Soek die waarheid tot jy diep in jou vrede gevind het en maak jou keuses volgens dit wat ewigheidswaarde dra. Koester elke aspek wat daartoe bydra.

2. Wees jou eie bff:

Om met jouself ’n veilige vriendskap te vorm met onvoorwaardelike aanvaarding, bring ’n veranderingsmomentum in jou groei. Jy sien groeipotensiaal in ervarings raak en voel nie veroordeeld wanneer jy ’n slaggat op jou lewenspad tref nie. Maak dus die bou van gesonde selfliefde ’n prioriteit.

(bff = best friend forever)

3. Herstel jou binnegesprekke se ratio na meer positief

Wanneer jy na jou binnegesprekke luister, skryf die woorde, sinne en opinies neer. Indien jy sukkel om die negatiewe en kritiese binnekommunikasies te verminder, maak ’n lys van ten minste 25 mooi eienskappe van jouself neer.

Jy het nou twee houers: een opbouende en die ander kritiese opinies oor jouself. Maak seker jy kommunikeer 5 x meer positief met jouself vir elke stukkie selfkritiek. (Ratio 5 – 1)

4. Vergewe:

Om te vergewe behels die aflê van selfverwerping en selfhaat. Jy stel jouself vry van jou verledefoute en teleurstellings. Jy maak die stem van veroordeling stil. Vir altyd. Vergifnis is ’n uitdagende proses en moet geduldig deurgestap word. Maar die vrug is soet en gesond en bring versoening met die lewe. Maak vandag jou oorwinningsdag deur te kies (jou reg) om jouself en ander te vergewe. (Altyd met die herstel van gesonde grenslyne)

5. Vier die lewe:

Trek jou draadrug-boekie en pen nader en skryf gereeld neer wat jy waardeer: in jouself, in ander en van die lewe. ’n Fokus om klein en groot dinge te waardeer is soos hart-medisyne wat jou hele menswees bedien met blydskap.

6. Veilige verantwoordbaarheid:

Kies vir jou twee of drie veilige vriende teenoor wie jy verantwoordbaar wil wees rakende hierdie pad van gesonde selfliefde. Deel soos jy gemaklik voel. Hou altyd ’n goeie sin vir humor byderhand wanneer julle gesels en sit ’n verbode teken op vir skok en veroordeling – die onwelkome indringers. Hou die fokus op groei en hoop vir die pad wat voorlê. Jy stap hom nie alleen nie.


Dr. Gerdi van der Berg is ’n kognitiewe gedragsterapeut. Besoek haar webwerf by www.heartmatters.co.za Stuur vir haar ’n epos na gercob@mweb.co.za. Volg haar op Facebook @heartmatterstherapy of Instagram @heart_matters_therapy

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Trix Viviers
Trix Vivier gesels oor die liefdesdriehoek van aktrise-, ma- en jouselfwees
error: Content is protected !!