Sauna-terapie: 8 gesondheids-en welwees voordele

Sauna wat reeds vir eeue ’n integrale deel van lewe en kultuur in lande soos Swede, Finland en Rusland, is wêreldwyd tans so gewild dat dit as die ”nuwe kroeg’ vir jongmense bestemel word. Maar hoekom is dit so gewild, en is die voordele die moeite werd om die hitte en sweet aan te durf? Deur Suzanne Kotzé.

Die saunagogga het my gebyt gedurende die winter van 2024. Nadat ek vir my weeklikse kouewaterswem was, en gebibber het, ontdek ons ’n sauna op wiele net langs die seeswembad. Om saam met vreemdelinge te sit en sweet klink dalk nie lekker nie, maar die interessante gesprek, kameraderie en euforie daarna is wonderlik.

Juis terwyl ek oor die naweek tydens ‘n sauna-verjaarsdagpartytjie in die sauna sit, vertel Tom, wat tans in Londen, Engeland woon hoe gewild dit deesdae daar is. “Die nuwe generasie twintigjariges, drink aansienlik minder en is veel meer gesondheidsbewus.

Om te sauna is nou so gewild, dat vriende mekaar eerder by die sauna as in die ‘pub’ kry, Oral in tradisionele uitgaan-areas, soos Soho skiet saunas op.”

En nadat ek met ’n vriendin van Belarus gesels het oor die gesondheids-en welweesvoordele van gereelde sauna, het ek dit deel van my weeklikse roetine gemaak. Hier is wat ek geleer het oor sauna.

Die Russiese banya

’n Banya (sauna) of badhuis is ’n integrale deel van Russiese kultuur. ’n Banya sluit tipies ’n tipe sauna/stoomkamer in met houtbankies waarop jy lê terwyl jy liggies met blarerige takke, genoem ’n veniks geslaan word.

Die takke word eers in warm water en essensiële olies geweek om dit sag te maak.

“My ouma het altyd gesê dat ’n banya ’n tussenwêreld is waar tyd ophou. Mense gaan na die banya nie net om hul liggame te reinig nie, maar ook hul siele.

Lena Winters, afkomstig van Belarus.

Binne kom die drie energieë van vuur, water en die veniks wat die aarde verteenwoordig bymekaar. In Wit Rusland is daar ’n publieke banya waarna my ouma my een keer per maand sou neem as voorbereiding voor groot vakansies of lewensgebeurtenisse. Ons sou nie net ons huis skoonmaak ter voorbereiding nie, maar ook ons liggame.

Voor ’n besoek aan ’n banya koop ’n mens gewoonlik ’n veniks (tak) en tee. Mans het ’n tradisie om vriende by die banya te ontmoet en koue bier te drink, alhoewel ’n mens gewoonlik eerder kruietee drink. ’n Banya met ’n goeie parilschik (terapeut) kan waarlik terapeuties wees. Die hitteterapie en die unieke massering met die veniks (tak) en die aromaterapie is ongelooflik. Verskillende tipes veniks word gebruik na gelang van die probleem of voorkeur.

Selfs klein kindertjies wat dikwels siek is, word na die banya geneem. Die effense verhitte badhuis, bloekomtakke en kruietee is genesend.

Wanneer jy die banya besoek, is dit noodsaaklik om ’n vilthoed te dra om jou kop te beskerm teen oorverhitting, aangesien baie bloedvaatjies in jou kop gekonsentreer is en jou hare ook kan uitdroog.

Koud na warm

“Banyas word dikwels naby mere of riviere gebou sodat jy  na die tyd in die koue water kan duik. As dit ‘n openbare banya is, is daar gewoonlik eikehoutvate gevul met koue water,” vertel Lena.

Vanessa Yelseth, mede-eienaar van die Kaapse Hot Hutz (mobiele saunas wat dikwels langs die strand aangetref word) stem saam dat dit noodsaaklik is om na jou sauna in koue water te wees. Vanessa, ’n mede kouewaterswem-liefhebber, het juis met die idee van ’n sauna op wiele vorendag gekom nadat sy op die strand gebibber het na ’n swem en gewens het dat sy in ’n sauna kon sit om op te warm. “Nou trek ons saunas na verskeie strande, en ons het ’n mooi venster ook by ons ontwerp ingesluit sodat ’n mens die mooi uitsig ook kan geniet,” vertel Vanessa.

“Kontrasterapie (koud en warm) is een van die grootste bio-hacks op die oomblik, vertel Vanessa. Om van koud na warm te gaan, is iets wat al eeue lank in die Noordelike lande gebruik word, en ons is nou eindelik ook bewus daarvan. Die verskil in temperatuur is veral goed om inflammasie te verminder. Ons beveel gewoonlik aan dat mense wat nie gewoond is aan sauna nie, eers net vinnig in die koue water van die see spring, net om hulle kerntemperatuur te verlaag, en dan te sauna. En dan daarna weer in die koue water in te gaan. Dit is noodsaaklik om met koud te eindig.”

Die fisiese gesondheidsvoordele van sauna

Om te sauna het verskeie fisiologiese voordele, en dit word ook deur wetenskaplike navoring bewys.  

1. Kardiovaskulêre gesondheid

Een van die grootste voordele van saunagebruik is die positiewe impak wat dit op kardiovaskulêre gesondheid het.  ’n Grootskaalse Finse studie wat in 2015 gepubliseer is, staaf dit. Tydens die studie is meer as 2 300 mans vir ’n gemiddelde 20 jaar gevolg. Daar is bevind dat gereelde saunagebruik geassosieer word met ’n verminderde risiko van kardiovaskulêre siektes en sterftes. Die studie het gewys dat mans wat die sauna vier tot sewe keer per week gebruik het, ’n 50% laer risiko gehad om aan hartsiektes te sterf in vergelyking met diegene wat die sauna net een keer per week gebruik het.

Die rede hiervoor hou waarskynlik verband met die manier waarop sauna’s hartklop verhoog en ’n ligte vorm van kardiovaskulêre oefening veroorsaak. Soos die liggaam aan hitte blootgestel word, word die bloedvate wyer, wat sirkulasie verbeter en hartklop verhoog. Hierdie ‘passiewe kardio’-effek verbeter vaskulêre funksie, soortgelyk aan die effekte van matige fisiese oefening, sonder dat dit enige werklike fisiese inspanning vereis.

Nog ’n studie gedoen op mans en vroue het bevind dat dit voordelig is vir mans en vroue. Gereelde saunagebruik het beslis voordele vir diegene wat dalk nie oefen nie, maar dit is veral mense wat ook gereeld oefen en dit kombineer met gereelde sauna verbruik wat die meeste voordeel trek.

2. Detoks

Danksy die hitte in die sauna sweet ’n mens baie meer, en dit help om van gifstowwe in die liggaam ontslae te raak. Daar is nie klinkklare bewyse oor hoeveel sweet nou eintlik kan help om ontslae te raak van metale soos lood en kwik in ons liggame nie. ’n Studie wat in 2009 in die Amerikaanse Journal of Environmental and Public Health gepubliseer is, het wel bevind dat sweet van saunagebruik waarneembare vlakke van swaar metale bevat het. En dit dui daarop dat sweet kan help met die verwydering van sekere gifstowwe.

3. Pynverligting

Sommige studies wys dat saunagebruikers ’n vermindering in pyn ervaar het. Dit word toeskryf daaran dat bloedvate ontspan en bloedvloei vermeerder. Dit kan help om gewrigs- en spierpyn te verlig.

4. Verminderde risiko van respiratoriese siektes

Nog ’n potensiële voordeel van saunagebruik is ’n verminderde risiko van respiratoriese siektes, soos kroniese obstruktiewe longsiekte. Die European Journal of Clinical Investigation het bevind dat saunagebruik anti-inflammatoriese en anti-oksidantiewe eienskappe het. En gereelde sauna-baddens het gehelp om chroniese inflammasie en oksidantiewe stres te verminder.

Geestelike gesondheidsvoordele van sauna

“Behalwe vir die gesondheidsvoordele van die sauna, is dit die geestelike voordele wat werklik vir my uitstaan. Die manier waarop mense se oë glinster as hulle uit die sauna kom, is wonderlik. ”

Vanessa Yelseth, mede-eienaar van Hot Hutz

Neurowetenskaplike Andrew Huberman, ’n professor aan die Stanford Universiteit, het ook die voordele in verskeie van sy Huberman Lab podgooie aangespreek.  Hy beklemtoon dat hitteblootstelling, insluitend saunagebruik, ’n doeltreffende hulpmiddel kan wees om geestesgesondheid te bevorder, kognitiewe funksie te verbeter en selfs jou bui kan verbeter.

1. Verminderde spanning

Om spanning te verminder is een van die primêre maniere hoe saunas tot geestesgesondheid bydra. Dit hitte van die sauna veroorsaak die vrystelling van endorfiene, een van ons goedvoelhormone wat help om ons bui te verbeter en angstigheid te verminder.

Huberman beklemtoon dat gereelde saunagebruik, veral wanneer dit saam met ander vorme van hitteblootstelling soos warm baddens gebruik word, kan help om die liggaam se stresreaksiestelsel optimaal te gebruik.

“Hitteblootstelling deur sauna’s of warm baddens help om die liggaam se natuurlike stresverdraagsaamheid te verhoog. Dit help op sy beurt om jou bui ’n hupstoot te gee, geestelike helderheid te verhoog en selfs kognitiewe prestasie te verbeter.”

Professor Andrew Huberman

In ’n studie gepubliseer in Psychosomatic Medicine in 2018 is bevind dat waargenome spanning en angstigheid van deelnemers aan die studie, verminder is na sauna. Dit word toegeskryf aan aan die fisiese ontspanning wat deur hitte veroorsaak word en die sielkundige gevolge daarvan om tyd in ’n stil, strelende omgewing deur te bring.

2. Beter slaap

Gereelde saunagebruik is gekoppel aan beter slaapkwaliteit, wat noodsaaklik is vir die handhawing van geestesgesondheid. ’n Studie gepubliseer in The Journal of Sleep Research het bevind dat gereelde saunagebruikers laer, minder versteurde slaap gehad het en dieper, meer herstellende slaap geniet het. Dit is deels te danke aan die feit dat saunagebruik liggaamstemperatuur verhoog, wat, wanneer dit daarna daal, aan die liggaam sein dat dit tyd is om te rus, wat die natuurlike slaapsiklus help vergemaklik.

Huberman beveel aan dat jy in die aand moet sauna om beter te slaap. Aandsessies help met die vrystelling van jou groeihormoon wat help met slaap. Hy beveel ook aan dat jy nie eet vir twee ure voordat jy die sauna gebruik nie. Verhoogde bloedglukose- en insulienvlakke kan die vrystelling van die groeihormoon strem.

3. Helderheid en fokus

Die geestelike helderheid en fokus wat saunagebruik bevorder is nog ’n groot voordeel. Andrew Huberman het breedvoerig gepraat oor hoe hitteblootstelling breinfunksie kan bevorder. In sy podgooi verduidelik Huberman dat spanning veroorsaak deur hitte soos dié in ’n sauna, hitteskokproteïene aktiveer. Die proteïene is betrokke by sellulêre herstel en breingesondheid.

Volgens Huberman kan gereelde saunagebruik lei tot verhoogde kognitiewe funksie en verbeterde bui as gevolg van die impak op neurochemie, veral deur die aktivering van brein-afgeleide neurotrofiese faktore wat geassosieer word met breinplastisiteit en kognitiewe funksie.

4. Minder simptome van depressie en angs

Sommige studies het bevind dat sauna kan help om simptome van depressie en angs te verminder. ’n Studie wat in 2018 in The Journal of Affective Disorders gepubliseer is, het bevind dat deelnemers wat gereeld saunas gebruik het, in ’n beduidende verbetererde bui was, en minder simptome van depressie gehad het. Die veronderstelling is dat die kombinasie van fisiese ontspanning, beter slaap en endorfienvrystelling ’n sleutelrol gespeel het.

 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Kersfeespoedings vir diabete
Lae-koolhidraat Kersfeespoedings
error: Content is protected !!