Of jy nou vir ’n naweek weggaan of iewers heen vlieg, hierdie reisgrootte skoonheidsprodukte is so handig om bagasie minder en ligter te maak. En hier is ’n paar oulike sakkies ook. Deur Suzanne Kotzé
Die hoeveelheid keer wat jy rondloop met ’n swaar tas, en wonder wat jy ingepak het! Al die botteltjies skoonheidsprodukte lyk dalk nie baie nie, maar as jy elkeen se gewig begin saamtel, weeg dit nie min nie. Reisgrootte botteltjies is handig. Ek was al verbaas hoeveel keer ek reisgrootte produkte inpak en wonder of dit genoeg sal wees, en dan kom ek sowaar met nog bietjies terug ook! Die ideaal is natuurlik om dit op te gebruik (veral as jy vlieg, en wil plek maak vir inkopies!)
Inpakwenke
Doppies toe
Maak seker jou doppies is goed toe, en as jy vlieg, sit eerder jou toiletsakkie in ’n ekstra plastieksakkie vir ingeval. Soveel keer bars ’n doppie af in die vliegtuig.
Hou jou tandeborsel apart.
Of dit nou in ’n plastieksakkie of spesiale houertjie (klik hier vir ’n oulike sakpas een by Dischem) is. ’n Skeermes en tandeborsel hoort byvoorbeeld glad nie saam nie. Of hoeveel keer het jy al jou tande geborsel net om jou gunsteling parfuum of sjampoe te proe.
Beplan mooi.
Dink aan die hoeveelheid dae, hoeveel keer jy gaan hare was. Die produkte wat jy elke dag gebruik, versus produkte wat jy dalk net een of twee keer per week gebruik. Dikwels kom ’n mens by jou bestemming en jy het dalk sommer twee gesigreinigers ingegooi maar geen dagroom nie.
Hidreer.
Reis, en veral vlieg, laat dikwels jou vel baie gedehidreerd voel. Onthou om ’n hidrerende serum of masker in te pak. ’n Hidrerende lappiesmasker is veral handig aangesien dit kompak is.
Aanbly hidrerende masker vir vlieg.
Daar is min dinge wat soos ’n vliegtuig jou vel kan uitdroog. Dra minimale grimering en wanneer dit tyd is vir jou aandvlug, smeer ’n masker aan wat kan aanbly. Ek het ’n Sisley Black Rose Mask wat ek spesiaal spaar vir vlugte. Hou gerus ook enige toetsgrootte produkte. Of vra by jou gunsteling skoonheidstoonbank of hulle enige toetsprodukte het. As jy ’n gereelde klant is, is hulle dikwels vrygewig.
Getinte lipsalf
Oorweeg dit gerus om eerder getinte lipsalf te dra wanneer jy vlieg. Dit hidreer jou lippe en gee kleur. En jy kan dit natuurlik aan jou wange ook aantik.
Kies jou sakkie slim
Bly jy op een plek, dan is ’n sakkie wat jy kan ooprits waarin al jou produkte kan regop staan, handig. Jy hoef nie eers uit te pak nie.
As julle op ’n padvakansie is, of elke paar dae na ’n nuwe plek gaan is ’n sakkie wat kan hang (aan die handoekreling of agter die badkamerdeur) ’n goeie keuse.
Onthou ook as jy vlieg, verkies die meeste lughawens vir internasionale vlugte steeds deurskynende sakkies. Dit maak dit ook maklik om te sien waar wat is.
Kies multi-funksionele produkte
- Olie wat jy op op naels, hare en lyf kan gebruik. (NUXE Huile Prodigieuse® sien pienk stelletjie onder)
- Roomblosser wat jy ook aan jou lippe kan tik.
- Getinte sonskerm in plaas van sonskerm en onderlaag.
Reisgrootte velsorgprodukte is wonderlik. Ek is altyd verbaas hoe lank mense aan hierdie kein houertjies gebruik.
Ons het onlangs Arc Store se mini’s ontdek, van klein maskara’s tot velsorgprodukte. Hulle het ’n wonderlike versameling.
Jy kan natuurlik ook jou gewone produkte uitgooi in kein reisvriendelike houertjies.