Natuurlike skoonmaakmiddels is nie net goedkoper en maklik om te maak nie, maar dit is ook beter vir jou huis se mikrobioom. Deur Vickie de Beer
Hoekom is natuurlike skoonmaakmiddels beter vir jou huis se mikrobioom?
Net soos ons ingewandsmikrobioom en velmikrobioom kan jy ook praat van jou huis se mikrobioom.
’n Mikrobioom is ’n gemeenskap van mikro-organismes soos bakterieë, fungusse en virusse wat in ’n ekososteem (soos jou maag of jou huis) leef.
Die mikro-organismes in jou huis is meestal onskadelik en as die ekosisteem in goeie balans is, help die mikrobes eintlik om jou te beskerm teen skadelike fungusse, skimmel en muf.
Indien jy jou huis met sterk skoonmaakmiddels soos ammoniak, bleikmiddel en antibakteriële middels skoonmaak, versteur jy die natuurlike balans.
Alle goeie probiotika (die goeie mikro-organismes) wat op oppervlakke leef en jou woonhuis beskerm, word deur die sterk skoonmaakmiddels vernietig. Dit beïnvloed ook jou eie mikrobioom en op die lang termyn kan dit lei tot verhoogde allergieë soos asma en ekseem.
Gewone seep en water blyk heeltemal effektief te wees teen slegte bakterieë sonder om die “goeie” bakterieë uit te wis. In 2015 het ’n navorsingsprojek 9 000 kinders in Europa bestudeer om die effek van bleikmiddel op hul imuunsisteem te meet. Die resultate het gewys dat kinders wat in huise woon waar bleikmiddel gebruik word, ’n 20% groter kans gestaan het om siektes soos griep en ’n 30% groters kans om mangelonsteking te kry.
Baie van hierdie skoonmaakprodukte kan jou ook op ander maniere negatief beïnvloed. Chemiese stowwe soos Parabene, Sodium Lauryl Sulphate en Triclosan is produkte wat jou hormone negatief beïnvloed. Dit boots die hormone in jou liggaam na en kan moontlik bydra tot hormoonkankers soos borskanker. Die produkte is antimikrobies en word in produkte soos skottelgoedseep, wasgoedseep, vensterwasmiddel, ontvetters, algemene kombuisskoonmakers, lugverfrissers en gegeurde kerse gevind. Die eenvoudigste manier om al hierdie hormoonontwrigters te vermy, is om natuurlike skoonmaakmiddels te gebruik.
Natuurlike skoonmaakmiddels:
Skoonmaakasyn
Gedistilleerde asyn wat spesiaal vir huisskoonmaak vervaardig word, is ’n wonderlike effektiewe skoonmaakmiddel. Skoonmaakasyn bevat 5%-10% asynsuur en kan nie in kos gebruik word nie.
Koeksoda
Koeksoda (Bicarbonate of Soda) is ’n baie effektiewe skuurmiddel en ook ’n goeie reukweerder. Jy kan dit direk op ’n kombuisspons gebruik om vetterige oppervlakke mee skoon te maak of ’n pasta daarvan maak met ’n bietjie water. Koeksoda en asyn werk goed saam om hardnekkige vuilheid soos in oonde skoon te maak. Koeksoda kan ook gebruik word om silwerware skoon te maak en roes van bakplate af te was.
Castileseep
Castileseep word nog op die outydse manier van seep maak gemaak. Natuurlike, plantaardige olies (soos klapper-en-olyfolie) work gebruik om ’n natuurlike emulsie te vorm. Dit bevat geen van die hormoononwrigters soos parabene, Phthalates, BPA’s en Triclosan nie. Castileseep word gewoonlik in water opgelos vir huishoudelike gebruik en nie direk gebruik nie, so ’n bottel hou ’n lang tyd. Vir algemende skoonmaakdoeleindes kan jy 60 ml (¼ k) Castileseep met 1 L water meng.
Sout
Ons het almal al sout op ’n rooiwynvlek gegooi, maar dit werk ook vir ander vlekke op tafeldoeke en servette. Week jou linne in 1 L warm water met 60 ml (¼ k) sout om hardnekkige vlekke uit te kry. ’n Halwe suurlemoen en ’n handjievol sout is ook ’n baie effektiewe skuurmiddel om potte en panne mee te skuur. Dit laat ook koperpotte weer blink.
Gebruik dit so:
Om kombuisoppervlakke, vlekvrye staal en vensters in jou huis skoon te maak: Meng 125 ml (½ koppie) skoonmaakasyn met 500 ml (2 k) water in ’n spuitbottel.
Om hout-, laminaat- of teëlvloere te was:Meng sowat 3 L warm water in ’n emmer en voeg 125 ml (½ k) skoonmaakasyn by.
Om onwelriekende dreine skoon te maak: Gooi 1L warm water by die drein af, gevolg deur 250 ml (1 k) koeksoda (bicarbonate of soda) en 250ml (1 k) skoonmaakasyn. Maak die drein toe met ’n prop en laat staan vir ’n paar minute alvorens jy weer warm water by die drein laat afloop.
Om jou oond skoon te maak: Meng 125 ml (½ koppie) skoonmaakasyn met 60 ml (¼ koppie) koeksoda en 2 L water.
Wees versigtig!
As jy natuurlike skoonmaakmiddels begin gebruik, gaan dit nie meer effektief wees as jy dit met chemiese skoonmaakmiddels soos ammoniak of bleikmiddel meng nie, dit kan gevaarlike gevolge hê.
Bleikmiddel moet nooit saam met skoonmaakasyn gemeng word nie. Die mengsel veroorsaak die afskeiding van chloorgas wat baie toksies is. Bleikmiddel en koeksoda kanselleer mekaar weer uit asook ammoniak en asyn, so dit help nie om dit te kombineer nie.
Hoe kan jy jou huis se mikrobioom herstel?
- Gebruik natuurlike skoonmaakmiddels. Kyk uit vir eko-vriendelike skoonmaakmiddels wat geen anti-bakteriese middels of kleur-en-geurstowwe bevat nie.
- Vermy antibakteriese skoonmaakmiddels, steriliseerders en handwassepe – dis ’n woonhuis en nie ’n hospitaal nie.
- Maak gereeld die vensters oop sodat vars lug en natuurlike mikrobes vrylik kan inkom.
- Potplante. Nie alleen is potplante mooi nie, maar die grond waarin die plante leef kan jou huis se bioom verbeter.
- Troeteldiere. Inwoners van huishoudings met troeteldiere is geneig om minder allergieë te kry.
- Stof jou huis gereeld af en stofsuig deeglik. Dit verwyder giftige stowwe uit die huis.
- Gebruik slegs natuurlike reukweerders en geurmiddels.
- Vermy gegeurde kerse, brand eerder natuurlike byewaskerse.
Om oor te skakel na natuurlike skoonmaakmiddels is ’n proses, maar dis ’n baie belangrike proses wat jou en jou mense se gesondheid positief kan beinvloed. Ek het besluit om die middels wat ons die meeste gebruik, soos skottelgoedseep en wasgoedseep, te vervang met eko-vriendelike middels wat geen kleur-en-geurmiddels bevat nie. Verder gebruik ek net skoonmaakasyn, Castileseep en koeksoda om my huis skoon te maak. Uiteindelik sal ek graag my eie waspoeier en skottelgoedseep wil maak, maar vir nou doen ek wat ek kan.