As jy bibber en bewe en besluit dit is nou tyd om daardie kaggel te kry, lees gerus hier. ’n Argitek deel met ons sy wenke, ons wys wenslysie-kaggels en ’n mooi voor en na kaggel-opkikker. Deur Suzanne Kotzé
Oop kaggel versus ’n toe kaggel
“Hierdie hang absoluut van persoonlike voorkeure af. Sommige mense hou van ’n oop vuur terwyl ander mense weer niks van die idee van rook in hul huis hou nie. Self hou ek van die ambience van ’n oop kaggel, maar ek sou dit nie noodwendig in my hoof leef-area en slaapkamers wou hê nie. ’n Oop kaggel is lekker in ’n meer informele leef-area, terwyl toe kaggels (geslote verbrandingskaggel of closed combustion fireplace) goed werk in jou hoof leefarea en slaapkamer,” sê Charles Pittaway, argitek by Kraft Architects.
Geslote verbrandingskaggel
Charles sê: “Met hierdie tipe kaggels moet jy in ag neem dat baie van die hitte van die pyp van die kaggel kom, en nie net noodwendig van die vuur nie. Om die pyp oop te hou is daarom belangrik.”
Hier kry jy verskillende tipes kaggels; vanaf ’n enkeldeur kaggel tot dié met twee glasdeure aan wat twee vertrekke tergelyk verhit. En dan kry jy ook kaggels waar geen vlamme sigbaar is nie, soos klei-kaggels (wat baie goeie hitte afgee).
Plus
- Dit gebruik minder hout.
- Dit maak lekker warm, veral as jy in ag neem hoe min hout jy gebruik.
- Dit hou ook die area langer warm.
- Daar is geen rook in jou huis nie.
Negatief
- Nie dieselfde ambience as ’n oop kaggel nie
- Jy hoor nie die gekraak van die kaggel so duidelik soos met ’n oop kaggel nie
Gaskaggel
Plus
- Dadelik warm
- Skoon
- Geen rook
- Min moeite
Negatief
- Nie dieselfde atmosfeer as vuur nie
- Het ’n gaspunt nodig
- Dit moet gereeld gediens word om veilig te wees
Oop kaggel
Om die regte trek en skoorsteen vir ’n oop kaggel reg te kry is ’n fyn kuns op sy eie. Baie van die ou Kaapse huise het dit reggekry. Om die proporsies reg te kry is regtig moeilik,” sê Charles. “Daar is ’n intensiewe wetenskap oor hoe hoog en wyd jou rookkanaal (flue; die deurgang in jou kaggel en skoorsteen) moet wees. Dit is daarom baie belangrik om kundiges te gebruik om hierdie vir jou te doen. Anders is dit net ’n gebou en ’n gebreek en jy spandeer later veel meer as wat jy dit van die begin af reg gedoen het.
Plus
- Heerlike atmosfeer
- Meestal goedkoper as gas of geslote verbrandingskaggel.
Negatief
- Gebruik baie hout
- Moeilik om die skoorsteen en flue reg te kry
- Rook in jou huis
Onthou jy moet kleistene of vuurbestande bakstene buite gebruik anders word dit warm.
Bio-etanol
Die opsies is nie soveel nie, maar wat heerlik is van die kaggels is dat jy nie ‘n skoorsteen nodig het nie.
Plus
- Geen skoorsteen nodig
- Geen rook
- Dadelik warm
- Losstaande opsies kan saam trek of rondgeskuif word
Negatief
- Minder opsies beskikbaar
- Het altyd bio-etanol nodig
- Bio-etanol brand vinnig uit
Kaggelopkikker
Kyk net hoe mooi het leefstylontwerper Gera de Wet haar kaggel opgekikker. “Ons wou graag meer diepte gee en dit in ’n meer interessante spasie omskep. Ons het ’n mantel laat maak met spesiale rook luggate Ons het die gewaste swart afwerking gekies om enige rookmerke wat met die tyd saam sal kom, weg te steek. Die klei aan die agterkant van die muur was ook eweredig en ons het houtpanele ingesit om dit weg te steek.”
Wees veilig met jou kaggel
Onthou as dit by die uitbetaal kom van brande veroorsaak deur jou kaggel is dit altyd goed om die fynskrif van jou versekeringsbeleid te lees. Algemene riglyne sluit in:
- Dit is jou verantwoordelikheid dat jou kaggel aan die nodige bou-vereistes voldoen.
- Die kaggel met deur ’n profesionele instaleerder ingesit word volgens die vervaardiger se instruksies.
- Laat maak jou skoorsteen gereeld skoon
- As jou kaggel op vloere wat vlambaar (soos hout en mat) is, moet jy ’n spesiale plaat/vloerbedekking hê wat minstens 5-10cm rondom jou kaggel is.
- Gebruik ’n vuurskerm voor ’n oop kaggel om te voorkom dat vonkies uitspat.
- Gaskaggels het ’n sertifikaat van nakoming nodig.