Dit is vir niemand ’n trotse oomblik om te erken dat hulle gebarste hakke het nie, of al gehad het nie. Tussen vriendinne deel ek wat vir my gewerk het, sodat my hakke binne twee weke weer amper normaal is. Deur Suzanne Kotzé
Wat veroorsaak gebarste hakke?
Te veel tyd in die swembad, langerige berguitstappies en te min voetroom was waarskynlik die wenkombinasie wat my gebarste hakke veroorsaak het.
Die oorsake van gebarste hakke sluit in:
- Droë vel – die kombinasie van droë vel en die konstante wrywing van stap of hardloop kan jou vel nog droër maak.
- Nat voete – net so belangrik as wat dit is om jou voete gereeld te bevogtig, so sleg is te veel tyd in die water. Ons velle verloor natuurlike olies as ons te lank in die water is.
- Lang tye op jou voete – terwyl jy staan, rus jou gewig op jou voete wat tot oormatige velgroei op jou voete en hakke kan lei.
- Koue weer – as jou vel aan koue temperature en droë lug/lae humiditeit blootgestel word, kan dit lei tot droë vel.
- Veroudering – soos ons ouer word, skei ons vel minder natuurlike olies af wat veroorsaak dat ons vel droër word en meer bevogtiging benodig.
- Langafstand hardloop – veroorsaak baie tyd op jou voete en baie wrywing, wat saam kan veroorsaak dat jou voete ekstra droog word.
- Gewig – as jy gewig optel, beteken dit meer gewig wat jou voete ook moet dra. As jy hiermee saam baie tyd op jou voete deurbring, sal jou voete/hakke meer vel vervaardig om dit te beskerm.
- Mediese toestande – diabetes, skildklierprobleme en sekere veltoestande kan dit vererger.
Hoe raak jy van gebarste hakke ontslae?
1. Bevogtig, bevogtig, bevogtig

Jy moet minstens twee keer per dag (of aanvanklik selfs meer) room aan jou voete smeer. Ek weet nie van jou nie, maar ek het beslis nie tyd om in die oggend te wag vir room om droog te word nie. Dit veroorsaak gewoonlik dat my houtvloere vol olierige voetspore is of dat ek rondgly in my skoene. Daarom smeer ek eerder saans room aan, en vroeg-oggend as ek wakker word terwyl ek nog bietjie in die bed vertoef.
Ek het onlangs hierdie oulik stellejie van Biosculpture gekry en dit is die ideale grootte om saam te neem op vakansie. Jy spuit eers jou voete met die Summer Heel Spritz, daarna skilfer jy dit af met die Pumice Stone en dan bevogtig jy met die Heel Balm.

Ek het die Heel Balm op my bedkassie begin hou en ook saans my voete daarmee begin smeer.
Die room bevogtig beslis en trek taamlik vinnig in. ’n Kombinasie van die sproei en vyl , gevolg deur die room daarna en ook room elke aand, het goed gewerk.
2. Slaap sokkies
Wat saam met die room en sproei ’n groot verskil gemaak het, is spesiale slaapsokkies.

Ek was huiwerig om dit te koop, want ek het gedink ek kan net so goed met gewone, dun sokkies slaap. Hierdie sokkies het egter ’n bevogtigende jel lagie op die hakdeel, wat ook help bevogtig. Die eerste oggend nadat ek daarmee aangeslaap het nadat ek my room aangesmeer het, was my hakke werklik sag. Steeds gebars, maar sag. Die enigste probleem was is dat die res van my voete nou sommer droog voel in vergelyking met my hakke. Die sokkies is ook beslis nie ‘sexy’s is nie, maar dit is seker beter as gebarste hakke.
3. Raak ontslae van dooie vel

Moenie hierdie dadelik doen nie! Behandel eers jou gebarste hakke, en as dít beter is, skilfer jou voete gereeld af. Vermy voetskuurders met korreltjies wat kan afbreek (veral as jou hakke nog gebars is, want dit kan aanleiding gee tot ontsteking).
Probeer die Biosculpture Metal Foot File (R275, by Biosculpture se aanlynwinkel.) Ek verkies hierdie vyl bo die een wat saam met die stelletjie (bo) kom. Die ‘pumice stone’ gooi ek in my vakansie of naweek sakkie, maar hierdie vyl het ‘n lekker greep vir behoorlik afskuur.
Ek hou dit naby die stort en elke keer as ek klaar gestort het, skuur ek liggies. As jy te veel, te hard skuur en te veel vel wegneem, maak jou voete net weer meer vel om dit te beskerm. Ek spoel die skuurder goed af en sproei dit sommer met ontsmettingsmiddels om seker te maak daar bly nie kieme agter nie.
My voete is soveel beter, nou moet ek net aanhou met die bevogtiging. Ek hou die room en ‘sexy’ sokkies in my bedkassie se laai sodat ek dit byderhand het.
NS Ons het die vakansie gesien iemand gebruik Superglue om gebarste hakke te heg. En al word Superglue tydens operasies ook gebruik, en bied dit dalk ’n onmiddelike oplossing, dit los nie die eintlike probleem (uitgedroogde hakke) op nie. Hiervoor is bevogtiging nodig.
Lees ook: Raad vir ekseem gedurende somer