As jy al vantevore Pure Beginnings se produkte vir jou baba of kinders gebruik het, en soos ons, gewens het ons kan dit ook gebruik, het ons goeie nuus! Die nuwe lyfwas- en lyfroomreeks van Pure Beginnings is spesiaal ontwikkel met grootmense in gedagte, maar is steeds sag genoeg vir die hele gesin om te gebruik.
Pure Beginnings I am New Body Wash (R129,95)
Die lyfwasmiddel se bestanddele sluit rooibos, bekend vir sy anti-oksidantvoordele, baobab, hoog in vitamien C wat jou vel sag en soepel laat, in. Die pro-biotika in die lyfwas ondersteun jou vel se mikrobioom en laat jou vel met ’n normale pH vlak.

Justine sê:
Na jare van die Pure Beginnings-reeks vir my kinders gebruik, is ek nou so dankbaar daar is ’n reeks beskikbaar vir ons grootmense ook. Ek hou die handige pomp-botteltjie in die stort (die niks oop of toe draai is wonderlik). Dit laat my vel werklik sag voel en ruik boonop hemels, nes die kinderprodukte! Die bonus – as my dogtertjies besluit hul wil vanaand stort, hoef ek nie na die ander badkamer toe te hardloop om hul Pure Beginnings-lyfwas te gaan haal nie, ek gebruik sommer my eie een, dit is net so sag op hul velletjies.
Pure Beginnings I am Fresh Body Wash (R129,95)
Hierdie lyfwas bevat aalwyn, bekend vir sy genesingsvoordele vir die vel, en groenment met antibakteriële eienskappe, die kombinasie laat die vel vars en verfris voel. Die pH gebalanseerde bestanddele laat ook die vel sag en gehidreerd voel.

Suzanne sê:
My oudste (’n amper tiener) seun is mal oor die reuk van groenment. Hy het ’n sensitiewe vel en is geneig om ekseem te kry. As baba en jong seuntjie het ek dikwels die Pure Beginnings reeks vir hom gebruik (sonder reaksie). Maar aangesien hy nou ‘te groot’ is hiervoor, werk die ‘grootmens’ reeks goed vir hom. Baie van die gewone lyfwasmiddels is te hard vir sy sensitiewe vel, maar hierdie lyk en ruik wonderlik.
Pure Beginnings I am Calm Body Lotion (R129,95)
Bevat geen sulfate, parabene of sintetiese geurmiddels wat die vel se pH-vlak versteur nie. Die I am Calm lyfroom se bestanddele sluit pro-biotika en palmrosa in, wat saam jou vel voed en streel. Die lyfrome is geskik vir die hele gesin en gegeur met suiwer essensiële olies vir ’n rustige gemoed en gebalanseerde emosies.

Suzanne sê:
Ek verkies lyfrome wat nie veel gegeur is nie, aangesien geurmiddels in veral lyfrome my dikwels laat jeuk. Ek is ook altyd bang dat dit bots met my parfuum se geur. Die ‘I am Calm’ lyfroom se subtiele geur is vars en skoon en ek is mal daaroor omdat dit voor bedtyd aan te smeer. Dit is ook glad nie taai nie en trek vinnig in. Dit voel amper ook asof my brein nou hierdie geur met slaaptyd begin assosieer. Na so twee weke se gebruik begin ek sommer al lomerig te voel as ek die room aansmeer. Ek is ook gaande daaroor dat dit ’n pompbottel is, want draaidoppies (wat afval en rondrol) is nie vir my nie.
Pure Beginnings I am Gentle Body Lotion (R129,95)
Die Gentle lyfroom bevat Boabab, wat veral hoog in vitamien C en anti-oksidante asook vitamien A en B is, wat vrye-radikale skade beveg met anti-inflammatoriese eienskappe daarby. Die geure van ilang-ilangbalanseer emosies terwyl die klapperolie in hierdie room die vel gehidreerd hou. Veral goed vir die wat sukkel met ’n sensitiewe vel.

Justine sê:
Ek is redelik vol fiemies wanneer ek ’n lyfroom kies, maar hierdie room het baie vinnig ’n nuwe gunsteling geword. Die geur is beslis iets besonders, nie te sterk en oorweldigend nie. Wanneer ek die room aansmeer en sommer in my hande vryf en diep inasem voel ek sommer dadelik rustig. Die room is nie taai of dik nie, ek vryf dit maklik in en dit hou werklik my vel heeldag gehidreerd. Ek gebruik dit ook vir my dogtertjies en tot dusver is hul ekseemvelletjies nog gelukkig en gesond.
Lees ook: Netjiese naellak in ’n japtrap!