Al ooit ’n puisieplakker gebruik? Of gewonder wat dit is, en of dit werklik werk? en hoe? Volgens party mense is puisieplakkers die heel beste uitvindsel. Ons het dit goed gedink om ’n velkenner te vra: is puisie plakkers ’n velsorg gier of ’n slim oplossing vir seer en ontwikkelende puisies?
Dr Webster, spesialis dermatoloog en mede-stigter van www.dermastore.co.za deel sy kundige raad en beantwoord vrae rondom puisieplakkers; werk dit regtig? Hoe gebruik ek dit? En vir wie is dit bedoel? Saamgestel deur Justine Kroes
21/06/2024
Werk puisieplakkers werklik?
Dr Webster se antwoord: “Ek dink pimple patches (puisie plakkers) is ’n baie slim uitvindsel. Dit moet net genoem word dat hierdie plakkers vir spesifieke tipes aknee hoort gebruik te word”
Leer meer hier:
Hoe werk hierdie plakkers?
Dr Webster verduidelik: Die plakkers self word van ’n hidrokolloïede materiaal gemaak. Hidrokolloïede het vog absorberende voordele wat ook help om inflammasie te verminder. Hidrokolloïede verbande word in die mediese praktyk gebruik om wonde te genees. Deur net ’n wond klam en toe (occluded) te hou kan die genesingsproses versnel. Met ander woorde, die puisieplakker werk amper soos ’n genesingspleister op die vel.

Dr Webster voeg by: Boonop bevat die meeste puisieplakkers sekere aktiewe bestanddele, soos byvoorbeeld salisielsuur wat keratolitiese eienskappe het. Dit beteken hierdie bestanddeel skilfer die boonste lagie van die vel af en laat vog saambind. Salisielsuur is ook natuurlik anti-inflammatories wat die swelling van ’n seer puisie sal verminder.

Ander plakkers bevat weer bestanddele soos Groentee-ekstrak en Madecassoside, beide het anti-inflammatoriese eienskappe. Teeboomolie (tea tree oil) het ’n antibakteriese sowel as ’n anti-inflammatoriese aksie op die vel.
Ander plakkers bevat dalk Purslane, ’n voedingstofdigte bestanddeel wat herstellende eienskappe bevat asook ’n anti-inflammatoriese uitwerking op die puisie het.

Hialuroonsuur is nog ’n goeie bestanddeel om in jou puisieplakker se bestanddeellys te identifiseer – hialuroonsuur bevorder vogvlakke danksy die molekule se krag om water aan te trek, verduidelik Dr Webster.
Voordele van puisieplakkers?
Onder okklusie (iets wat toe is), kan aktiewe bestanddele die vel beter binnedring. Wat natuurlik ook die genesingsproses sal versnel. Die plakker seël die geaffekteerde area op die vel af.
Danksy die toemaak verminder dit ook natuurlik die versoeking om die puisie of letsel te krap of daaraan te druk, verduidelik Dr Webster.

Puisieplakkers net vir spesifieke aknee bedoel:
Dr Webster sê: Puisieplakkers werk gewoonlik die heel beste op persone wat minder en groter ontwikkelende tipe puisies het.
Puisieplakkers is ook natuurlik perfek vir die wat spoedig ’n groot en seer blinde tipe puisie wil laat verdwyn.
Dit werk ook vir persone wat geneig is om aan hulle ontwikkelende puisies te krap en druk (veral terwyl hulle slaap).

Dr Webster sê “Ek sou nie hierdie plakkers aanbeveel vir die persone wat sukkel met die volgende nie:
Nodulosistiese aknee (nodulocystic acne), ’n ernstige vorm van aknee waar nodules en siste ontstaan en gewoonlik letsels agterlaat.
Dit is ook nie gepas vir die persone wat sukkel met seborree (seborrhoea) en komedonale aknee nie. Hierdie verwys na swartkoppies en witkoppies op die vel. Dr Webster sê in hierdie geval is daar verskeie jel en room formules wat beter gepas sal wees om die probleem op te los.

Hou hierdie in gedagte wanneer jy ’n puisieplakker kies
Dr Webster se topwenke: Kies ’n puisieplakker wat deur ’n betroubare, goed gevestigde farmaseutiese maatskappy vervaardig word.
Maak seker dit is ’n hidrokolloïede tipe plakker wat bestanddele soos salisielsuur (salicylic acid); teeboomolie (tea tree oil); groentee ekstrak en Madecassosidebevat.
Dr Webster waarsku, “Daar is ’n klein hoeveelheid mense wat ’n allergie teen teeboomolie kan ontwikkel. Indien jy dus ’n jeukerige, rooi dermatitis ontwikkel na gebruik van ’n plakker wat teeboomolie bevat – staak dadelik die gebruik van daardie plakker.
Dr Webster se voorstelle:
Vice Reversa Pimple Patch (R380 vir 8 plakkers Dermastore)
’n Innoverende plakker met fyn “mikronaaldjies” wat aktiewe bestanddele bevat en oplos sodra dit aan jou vel geplak word. Hierdie plakkers teiken puisies in hul ontwikkelende groeifase om die puisie te neutraliseer voordat dit verder ontwikkel. Die plakker kan op gesig en lyf gebruik word.
Hierdie hidrokolloïede plakkers bevat bestanddele salisielsuur, groentee ekstrak, Madecassoside, hialuroonsuur
Skin Republic Spot Clear patch (R80 vir 48 plakkers Dermastore)
Die bestanddele van die bio-afbreekbare plakkers is: salisielsuur, teeboomolie en Purslane, ’n voedingstofdigte bestanddeel wat herstellende eienskappe bevat.
Stylvol stel voor:
Hero Mighty Pimple Patch Original 24’s (R169 vir 24 plakkers by Clicks)
Hierdie plakkers is dun en deursgtig jy sal byna vergeet jy dra hul. Bevat hidrokolloïede voghoudende plakkers wat inflammasie verminder en vog absorbeer.
Starface Hydro Stars Party Pack (R202,23 vir 32 plakkers)
Plakkers is gemaak van hidrokolloïede plakkers, ’n bestanddeel wat bewys is om vog te absorbeer en inflammasie te verminder om sodoende puisies oornag weg te toor.
GloPotion Salicylic Acid Pimple Patches (R75,89 vir 36 plakkers)
Beloof verminderde rooiheid en swelling. Bevat salisielsuur, ’n bestanddeel wat vir aknee en probleemvelle voorgeskryf word, ’n sagte afskilferaar wat anti-inflamatories is en effektief werk om puisies onder beheer te kry.
COSRX Acne Pimple Master Patch (R90 Shop glow theory vir 24 plakkers)
Hidrokolloïede plakkers. Hierdie plakkers is deursigtig en so dun, dit kan selfs onder grimering gedra word.