Praat só met jou kinders oor menseregte

Wat is menseregte en hoe verduidelik jy dit aan jou kinders? Praat so met jou kinders oor menseregte. Met talle menseregteskendings wat plaasvind, is dit belangriker as ooit om met ons kinders hieroor te praat. Deur sielkundige Gerda Kriel.

Ek wieg my baba aan die slaap. Dis stil. Binne my woed ’n storm van vrae oor die onregte in die wêreld, maar in die waai van my arms vind my kind vrede. ’n Dreuning klink buite die venster. ’n Blits verhelder die vertrek. Weerlig. ’n Buitengewone Kaapse donderstorm. Buitengewoon, tog alledaags. Die oomblik laat my dink aan die mammas vir wie dreunings en blitse vanaand bomme en spervuur beteken. Wat hulle kinders teen hulle lywe vasdruk in die hoop dat hulle gekoester sal word teen die aanslae van oorlog. Die mammas wat nie weet wanneer ’n blits die laaste ding sal wees wat hulle sien nie.

Praat so met jou kinders oor menseregte

Om in die 21ste eeu konfronteer te word met oorlog en menseregte-skendings klink soos iets uit ’n fliek. Tog is dit ‘n realiteit. Met Menseregtedag wat in Suid-Afrika weer herdenk word, is dit meer dringend as ooit om met ons kinders oor hierdie abstrakte konsep te praat op ’n manier wat hulle kan verstaan.

Hier is raad oor hoe om die gesprek oor menseregte met jou kind aan te knoop, en hopelik saadjies van geregtigheid te plant wat lewenslank by hulle sal bly.

Wat is Menseregte?

Regte is dalk vir kinders ’n vae konsep, maar iets wat hulle baie goed verstaan, is reëls. Jy kan dus vir jou kind as volg verduidelik:

“Menseregte is reëls wat alle mense moet volg. Dit behandel alle mense gelyk, selfs al is almal anders as mekaar. Niemand is belangriker as iemand anders nie, en alle mense is ewe belangrik.” By hierdie punt kan jy dan ook vir jou kinders verduidelik dat sommige mense nie hierdie reëls volg nie, en dat hulle dan mense seermaak op verskillende maniere. Verduidelik egter ook dat die ideaal is dat almal die reëls volg, en dat dit ons verantwoordelikheid of plig is om ander mense binne hierdie reëls te behandel.

Die agtergrond van Menseregte

Om vir kinders die agtergrond van menseregte te verduidelik is krities, dit skets vir hulle die belangrikheid daarvan dat ons uit die geskiedenis kan leer en dat ons ook nie foute van die verlede wil herhaal nie. Jy kan begin deur vir hulle te sê dat het al die lande van die wêreld se leiers (Die Verenigde Nasies) in 1946 saam besluit het dat ons nooit weer een groep mense verskillend moet hanteer as al die res nie, en dat alle mense dieselfde dinge mag geniet. Verduidelik dat in Suid-Afrika sekere groepe mense vir baie lank anders hanteer is oor verskillende velkleure. In Suid-Afrika het ons hierdie reëls spesiaal vir ons land se mense geskryf, en die handves van menseregte is in 1994 bekend gemaak

So wat sê hierdie Menseregtereëls?

Hierdie reëls kan baie kompleks wees, maar jy kan vir jou kind verduidelik dat daar elf regte is in Suid-Afrika wat vir ons sê hoe ons mekaar moet behandel:

1. Gelykheid

Almal is gelyk, en niemand is belangriker of beter as iemand anders nie. Niemand mag jou terg of spot omdat jy anders as hulle is nie.

2. Menswaardigheid

Elke mens moet soos ’n mens behandel word, en niemand mag dit wegneem nie.

3. Vryheid en sekuriteit

Niemand mag net in die tronk gesit word nie, jy mag ook nie sommer net seergemaak word as iemand dink jy was stout nie.

4. Gearresteerde en aangehoude persone

Mag iemand hê wat hulle kan help om uit te vind of hulle regtig verkeerde dinge gedoen het.

5. Vryheid van uitdrukking

Jy mag sê wat jy dink, solank as wat jy nie iemand anders met jou woorde seermaak nie.

6. Vryheid van assosiasie

Jy mag kies wie jou maats is en met watter groepe jy wil meng. Jy mag deel wees van groepe wat jy kies, en nie wat iemand anders vir jou kies nie.

7. Politieke regte

Wanneer jy 18 is mag jy deelneem aan verkiesings (m.a.w. om ’n president vir die land te kies).

8. Onderwys

Elke persoon het die reg om skool toe te gaan en te leer, maak nie saak hoe oud hulle is nie.

9. Gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike dienste

Almal mag dokters toe gaan, kos hê, skoon water hê en ook mense hê wat hulle kan help met probleme as dit nodig is.

10. Slawerny

Jy mag kies vir wie jy wil werk, en jy moet betaal word vir jou werk.

11. Behuising

Almal mag iewers in ‘n huis woon, en niemand mag jou huis van jou af weg neem nie.

Leer deur stories:

Kinders leer deur stories. Daar is wonderlike hulpmiddels waarna jy kan gaan loer aanlyn om jou met die gesprek te help:

  1. Die boek A life like mine: How children live around the world (UNICEF)
  2. I have the right to be a child – Alain Serres
  3. Video: What is a human right?  – UN Human rights op Youtube

https://youtu.be/5RR4VXNX3jA

Soek vir geleenthede om met jou kind oor menseregte te praat in die alledaagse oomblikke, bv. As hulle ’n maatjie terg of as julle met iemand praat wat baie anders as julle is. Deur deurlopend jou kind te herinner is baie meer deurslaggewend as een gesprek. Verduidelik ook vir jou kind dat hulle ook geregtig is op die regte, maar dat hulle verantwoordelik is om die regte van ander te beskerm, deur ander met respek te behandel. Mag ons, deur gesprekke met ons jongste generasie, ’n beter toekoms vir ons kinders laat.

“Sometimes it falls upon a generation to be great. You can be that great generation. Let your greatness blossom.”

Nelson Mandela

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
13 tekens dat jy dalk volwasse AAHS het
error: Content is protected !!