Alles wat jy wil weet oor parfuumnote en hoe die geurwiel jou kan help om jou volgende fyngeur te kies. Deur Suzanne Kotzé
So werk die geurwiel
Geurkenner Michael Edwards het hierdie geurwiel (ook beskyf as ’n ‘neuskaart’)’ in 1983 ontwikkel. Vandag word dit miljoene kere gebruik. Met hierdie geurwiel klassifiseer hy parfuums/fyngeure in 14 verskillende fyngeurfamilies.
Dit maak dit makliker om fyngeure te kies as jy verstaan watter fyngeurfamilie jou gunsteling is, en ook te weet van watter parfuumnote jy hou.
Wat is fyngeurfamiles in die geurwiel?
Michael Edwards beskryf dit as volg.
“Fyngeure word net soos wyne in verskillende families ingedeel. Chardonnay, Sauvignon Blanc, Riesling en Chenin Blanc, is byvoorbeeld almal verskillende families van witwyn. Elkeen is wonderlik in eie reg, maar daar is gewoonlik een daarvan wat jy bo die ander verkies.
Net so is blommerige Oosterse geure, sagter Oosterse geure, ware Oosterse geure en houterige Oosterse geure almal binne geurfamilies wat onder Oosterse geur val. Hulle is almal Oosterse geure, maar elke geurfamilie het ’n kenmerkende geur en ander persoonlikheid. Mens hou instinktief meer van die geure van een familie en nie van ’n ander.”
Fyngeurfamilies volgens die geurwiel
Vars note
Water
Dink aan die reuk van ’n seebriesie, of die varsheid van ’n waterval of hoe die lug ruik na ’n donderstorm.
Groen
Reuke soos vars gesnyde gras, viooltjieblare en komkommer verlewendig jou sintuie.
Vrugtig
Boordvrugte, bessies en vars blomme skep ’n vrugtige blommemengsel.
Sitrus
Verfrissende lemoen, suurlemoen, lemmetjies, nartjies, pomelo en bergamot.
Blommenote
Blomme
Van enkelblomme to bosse vars blomme.
Sagte blomme
Sprankelende aldehiede vermeng met delikate blomme en muskus skep sagte, dikwels poeierige, abstrake blommegeure.
Oosters
Blommerige Oosters
Helder blomme met warm speserygeure, hars (resin) en vanielje.
Sagte Oosters
Wierook, soet speserye en hars (resin) skep sagte, sensuele geure.
Oosters
’n Sensuele vermenging van goue hars, weelderige blomme en soet vanielje.
Houtnote
Houterige Oosters
Speseryerige amber akkoorde met houtnote soos patsjoelie, oud en sandelhout.
Hout
Sederhout, patsjoelie, sandelhout en vetiver.
Mosagtige hout
Fluweelagtige note van eikemos en patsjoelie vermeng met amber en sitrus.
Droë hout
Leer en tabak voeg ’n droë, rokerige geur by houtfyngeure.
Aromaties
Laventel en malva vermeng met sitrus, kruie en hout.
Wat is parfuumnote
Net soos verskillende musieknote ’n liedjie maak, skep parfuumnote (individuele geurlae) ’n fyngeur of parfuum. Deur verskillende note saam te gebruik, kan jy verskillende geure skep. Tydens ‘n besoek ‘n paar jaar terug aan die Le Musée du Parfum in Parys was daar die wonderlikste uitbeelding hiervan met die orgue à parfum. Verskillende parfuumnote is gebruik om ‘n parfuum ‘orrel’ te maak wat liedjies speel.
’n Fyngeur bestaan gewoonlik uit drie hoof tipe note: topnote, middelnote (ook bekend as hartnote) en basisnote. Elke noot speel ’n spesifieke rol in die fyngeur se ontwikkeling en hoe lank dit aanbly.
Topnote
Topnote vorm die boonste lagie van die fyngeur, dit wat jy ruik nadat jy die geur aangespuit het. Hierdie note skep die eerste indrukke van die fyngeur. Hulle verdwyn gewoonlik na so vyf tot vyftien minute.
Algemene topnote
Vars note soos sitrus. Blomnote word as top of middelnote gebruik. Jasmyn is ’n gewilde topnoot, aangesien dit ’n vrugtige wit blommegeur het, terwyl ilangilang ’n meer tropiese gevoel gee. Vrugtige note word meer algemeen as middelnote gebruik, maar note soos swart bessies of appel of aarbeie word ook as topnote gebruik.
Middelnote
Middelnote is ook bekend as hartnote aangesien dit die ‘hart’ van die fyngeur is. Min of meer 70% van die fyngeur bestaan gewoonlik uit hierdie note. Hulle werk is om van die topnote se aroma te behou en om nuwe geur te gee wat diepte aan die fyngeur gee. Jy begin gewoonlik die middelnote ruik soos die topnote begin verdwyn.
Algemene middelnote
Aromatiese blomme soos jasmyn, malva, soetemaling en ilang-ilang. Vrugte. Speseryerige note soos kaneel, peper, swartpeper, sitroengras. Houtnote soos denne.
Basisnote
Basisnote komplementeer die ligter topnote en middelnote en gee diepte aan die fyngeur en help dat dit langer aanbly. Hulle ruik gewoonlik swaarder en jy begin dit gewoonlik eers na so 30 minute ruik.
Algemene basisnote
Speserye soos peper, kaneel en neutmuskaat. Kruie soos roosmaryn en basilikum. Houtnote soos sandelhout en patsjoelie help veral dat die geur langer hou. Sederhout en oud is houtnote met ’n effense soeter geur. Muskusnote is ook baie algemeen en dit gee ’n rykheid en help dat die fyngeur langer hou.
Hoe help kennis van note en die geurwiel jou om ’n fyngeur te kies?
Google gerus jou gunsteling fyngeure en kyk watter note dit het en in watter geurfamilie dit val. Probeer dan ander fyngeure wat in dieselfde familie, of net langs dit val.
Kyk gerus ook op Michael Edwards se geursoek funksie. Jy tik bloot die naam van die parfuum in en kry dan ‘n beskrywing (en voorstel van soorgelyke geure). Dit het ‘n groot verskeidenheid fyngeure, maar nie almal nie.