Vir die meeste van ons is ’n haardroër nie net ’n sommerso ’n kopie nie. Met honderde verskillende tipes en handelsmerke op die mark is dit uitdagend vir enigiemand om ’n haardroërkeuse te maak. Weet jy hoe om jou haardroër reg te gebruik, waarvoor die “cold shot” knoppie is, en hoe en om jou haardroër skoon te maak? Hier volg die beste haardroër-raad en wenke wat jy nie geweet het jy nodig het nie. Deur Justine Kroes
Bygewerk 06/11/2024
7 Beste haardroërkeuse en gebruikswenke
1. Haardroër hittestellings
Dit is belangrik om ’n haardroër te kies wat ten minste drie verskillende hittestellings het sodat jy jou hare blaasroetine kan pasmaak tot jou unieke haartipe. Die met dikker, langer hare behoort ’n haadroër te soek wat die droogmaaktyd verminder. Die met dunner hare sal weer ’n laer hittestelling verkies.

Kaapse haarstilis Charles Junior Louw sê “Probeer om liefs nie die heel hoogste hittestelling gereeld te gebruik nie. Mediumhitte is gewoonlik gepas vir die meeste haartipes en dit verminder die kanse vir hittebeskadiging.
Hou die hoë hittestelling uitsonderlik vir wanneer jy hare vinniger wil droogmaak of spesifieke style wil probeer.
Al ooit gewonder wat die “cold shot” knoppie op jou droër is? Charles Junior Louw verduidelik: Wanneer jy die “cold shot” knoppie druk, word daar koue lug vrygestel, wat die meeste stiliste gebruik om ’n spesifieke styl te set. Dit is handig om seker te maak ’n styl hou en laat ook die hare gladder lyk”
2. Haardroër spoedstellings
Nes die hittestellings het haardroërs ook spoedstellings. Die verskillende spoedstellings op ’n droër bied verskillende vlakke van beheer wanneer jy hare blaas en stileer.

’n Laer spoed gee vir jou baie meer beheer oor die hare blaasproses, byvoorbeeld wanneer jy ’n ultragladde styl wil blaas. Met die heel vinnigste spoed sal jy nie soveel beheer hê nie, en word meestal gebruik om hare rofweg of vinnig droog te blaas.
3. Die “watt” krag is belangrik
Hitte en lugvloeispoed is die twee belangrikste meganismes wat ’n haardroër gebruik om jou hare droog te maak. Die watt telling/getal op die haardroër verwys na die hoeveelheid krag wat ’n haardroër het.

Een van die belangrikste aspekte om in ag te neem wanneer jy op soek is na ’n nuwe haardroër, is die “watt” of Wattage” wat uiters belangrik is, verduidelik haarkenner Charles Junior Louw. “Die “wattage” affekteer jou droogmaaktyd en hare blaas effektiwiteit. Gewoonlik het ’n haardroër met ’n hoër watt telling (om en by 1800 tot 2000 watt) ’n vinnige droogmaakspoed met min hittebeskadiging. 1800 watts is gepas vir ’n haardroër vir tuisgebruik. ’n Haardroër van 1200 watts en laer sal beteken dat dit langer mag neem om jou hare droog te kry en te stileer omdat die haardroër minder krag gebruik.
Charles se beste wenk: Kies ’n haardroër met ’n watt sterkte wat jou haartipe en stileerbehoeftes pas.
4. Die tegnologie is belangrik
Al die verskillende haardroërs op die mark maak gebruik van verskillende materiale en tegnologie soos byvoorbeeld ioniese elemente, keramiek of toermalyn materiale. Hierdie materiale stel negatiewe ione vry wat die positiewe ione op jou hare teëwerk en neutraliseer om wegvlieghare en statiese kroes hare te verminder.
Charles Junior Louw stel voor “Kies gerus ’n haardroër met ’n keramiek, toermalyn of ioniese materiale. Die keramiek verseker eweredige hittevrystelling op jou hare terwyl die toermalyn en ioniese tegnologie jou kroes (frizz) hare verminder en die droogmaaktyd versnel. Elke materiaal en tegnologie het spesifieke voordele – die truuk is om die regte een te kies vir jou haartipe.”
Haarstilis Wessel Gerber van Vat Dit Kop Toe harsalon in die Kaap noem “Dit is ook belangrik om na aspekte soos die droer se motor te kyk. ‘n Digitale motor is gewoonlik ligter en werk meer effektief. Materiaal soos keramiek, tormalyn en ioniese tegnologie is almal goed om hitte eweredig te versprei en kroes te verminder”.
5. Haardroër bykomstighede
Kies die haardroër met die regte bykomstighede en aanhegsels vir jou haartipe. Byvoorbeeld om met ’n “nozzle” of spuitstuk aan die voorpunt van jou haardroër te blaas, sal ook kroes (frizz) verminder. Indien jy krulhare het sal ’n “diffuser” wat jou krul set en definieer, meer sin maak. is Wessel Gerber se raad.

6. Haardroërsorg en onderhoud
Nes jou kar is dit belangrik om jou haardroër gereeld te diens. Dit beteken om gereeld die filter van jou haardroër te verwyder en skoon te maak. Indien jy nie jou filter skoonmaak nie, sal jou haardroër sukkel om lug deur te laat wat in ruil sal veroorsaak dat jou haardroër oorverhit. Dit mag ’n negatiewe impak hê op die leeftyd van jou droër.
Indien jy onseker is, behoort jou haardroër handleiding vir jou ’n indikasie te gee oor hoe gereeld en hoe jy jou haardroërfilter beêhoort skoon te maak.
“dit is goeie haardroërsorg om jou haardroër na elke gebruik uit te prop. Daarby ook om jou haardroër ordentlik te laat afkoel voordat jy dit wegbêre – hierdie wenke sal boonop die leeftyd van jou haardroër verleng”.
7. Hou jou haardroër so vas
Hou jy haardroër teen ’n 45 grade hoek terwyl jy jou hare droogblaas terwyl jy aanhou om jou haardroër te beweeg – hierdie metode van droogblaas verseker dat jou hare eweredig droogword en verminder die risiko van hittebeskadiging op spesifieke areas, verduidelik Charles Junior Louw.
Wessel Gerber stem hiermee saam “Probeer om altyd van bo na onder te blaas om soedoende kroes te verminder en jou haarvliesies glad te maak en glad te hou”.
Haardroërs op ons radar:
Laifen Swift haardroër (R4499)

Laifen Swift is spinternuut in Suid-Afrika en ons is sommer baie opgewonde hieroor. Die motor van hierdie haardroër blaas ses keer meer lug as tradisionele haardroërs en gebruik meer lug, eerder as hitte om jou hare vinniger en met minder skade droog te blaas. Dit blaas teen slegs 80ºC en bevat spesiale ‘Swift Ionic Boost’ tegnologie wat jou hare gesond hou. Dit seël vog en jou haarvliesies, wat so ook help om kroes en statiese hare te verminder.
Varis Hardryer Airq (R7 000)
Hierdie haardroër kom met twee verskillende “nozzle” groottes asook ‘n “diffuser” vir krulhare. Spesiale kristale “hydronic crystals” vorm deel van die droër wat hare hidreer terwyl jy hare droogblaas. Die haardroër is sterk maar klein en kompak.
BHE Air Hairdryer (R4 519,50 retailbox.co.za)
Spesiaal ontwerp om gewrig en skouerpyn te verminder terwyl jy hare blaas, is die BHE Air droër tans een van die ligste haardroërs op die mark en weeg net 240g. Selfs al is die droër klein en lig, is dit steeds sterk teen 2000 watt. Die droër het 3 hitte en 3 spoedstellings asook ’n “cold shot” knoppie.
Dyson Supersonic Hair Dryer (R8 999 bash)
Is spesiaal ontwikkel om hare teen hittebeskadiging te beskerm. Die tegnologie en digitale motor van die droër is enig in sy soort met ’n krag van 1600 watt. Die droër beloof 75% gladder hare met 132% kans vir meer blink. Dit kom ook met ’n versameling van bykomstighede vir verskillende haarstyle.
Ghd Helios Professional Hair Dryer (R3 500)
Lig en ergonomies ontwikkel vir gemaklike gebruik, is die ghd Helios ook ontwikkel om akoesties sag te wees. Die spesiale Aeroprecis-tegnologie, ontwikkel deur die ghd span, bevorder lugvloei teen 120km/h se spoed, die gekonsentreerde lugvloei bied effektiewe reslutate soos vinniger droogmaakspoed, ekstra volume (tot 24uur) en meer blink lokke. Die 3m kragkabel is beslis ’n gunsteling vir ons!
Moyoko Professional E8 UltraBlast Hairdryer – Fast Drying Hair Dryer – 2400W – Lilac (R2 199 Superbalist)
‘n Professionele haardroër vir tuisgebruik. Die kragtige motor is 2400 watt sterk, 3m kragkabel, verskillende hitte en temperatuurstellings plus ’n “cold shot” knoppie. Met 30% minder geraas en die ergonomiese ontwerp beloof die Moyoko droër ’n salonkwaliteit hareblaas ervaring.