Probeer gerus hierdie positiewe bevestigings vir kinders (sommer as julle op pad skool toe is). Met die nuwe skoolkwartaal is daar dalk ’n hele paar kinders (en ouers) wat nie vreeslik lus is vir vroeg opstaan en vervelige roetines nie. En hulle (uhm, ons ook) het al die aanmoediging nodig wat daar is. Deur Suzanne Kotzé
Hoekom is positiewe bevestigings vir kinders so goed
Terapeut en eienaar van Therapy Now Elza Blerk deel met ons:
“Positiewe bevestigings help om ons (en ons kinders) om al die negatiewe goed wat ons oor onsself dink uit te daag. Dit help om die negatiewe woorde wat ons oor onsself dink, kleiner te maak. Dit laat ons toe om onsself in ’n positiewe lig te sien.”
Verder help dit ons as ouers ook om ’n bietjie meer insig te kry in ons kinders se denkwyse (en vrese). Dikwels kom goed uit waavan jy dalk nie eers bewus was nie.
Wanneer om positiewe bevestigings te doen.
Positiewe bevestigings kan enige tyd van die dag (of aand) gedoen word. Ek het dit met my twee kinders in die kar begin doen as ons skooltoe ry. Aanvanklik net om van die ‘urgh, skool’-negatiwiteit ontslae te raak. Dit het ook gehelp dat die kar-bakleiery (tussen boeties en ma en kinders) minder is, as ons hierop fokus.
Elza Blerk deel ook hierdie oulike plan wat sy met haar kinders doen.
‘Affirmation jar’
“Ons het ’n ‘affirmation jar’ by die deur. As ons soggens uitstap neem ons elkeen ’n bevestiging vir die dag. Ons het sommer ’n ou grondboontjiebotterfles geneem en een Sondagaand ’n klomp positiewe bevestigings geskryf wat ons daarin gesit het. Nou lees ons een in die oggend.”
Worry fles
Elza sê: “Wat ook werk is om ’n negatiewe/worry/angstigheidsfles te hê. Wanneer een van ons bekommerd is oor iets, gee ons dit vir die fles. As een van die kinders byvoorbeeld bekommerd is oor ’n eksamen die aand voor hulle skryf, bespreek ons dit. ‘
Het jy gestudeer?
Ja, maar ek is nog steeds bekommerd.
Okay, daar is nou niks wat ons daaraan kan doen nie, dit is 22:00 en jy skryf môre. Kom ons skryf alles neer waaroor jy bekommerd is.
Ek daan druip, gaan niks onthou nie, ken nie my werk nie ens.
Sit dit in die fles, laat dit gaan en dan kan ons môre weer daaroor praat, maar jy kan nou niks daaraan doen nie, so laat dit eers gaan.
Voorbeelde van positiewe bevestigings vir kinders
1. Ek is lief vir myself en dit is okay om foute te maak
2. Ek is my grootste cheerleader
3. Ek floreer deur konneksies te bou
4. Enige iets wat die dag vir my gee, kan ek hanteer
5. My gevoelens maak saak, en dit is hoekom ek my keuses kan vertrou
6. Kan ek een goeie ding oor myself sê, en wat ek vandag bereik het?
7. My brein het al die informasie wat dit vandag nodig het
8. Ek is ’n goeie vriendin/vriend en vandag gaan ek al die verhoudings in my lewe omhels (embrace)
9. As ek iets nie weet nie, het ek die reg om vir hulp te vra
10. Ek maak myself oop om vandag nuwe goed te leer al vind ek dit nie interessant nie
11. Vandag gaan ek met een iemand praat met wie ek nog nooit van te vore gepraat het nie – dit sal my selfvertroue bou en gaan my help om nuwe konneksies te maak
12. Ek omhels wie ek is.
13. Alles van my gaan ek vandag aanvaar – die positiewe en die negatiewe.
14. Ek het die reg om my waarheid te praat,
15. Ek is goed genoeg net soos ek is.
16. Ek is slim.
17. Ek is spesiaal.