Die 80’s en 90’s se trends is steeds volop in die winkels, en daarby ook plastiek juwele. Ons moet erken – ons het eers gedink “hou liewers verby” maar die prettigheid van die trend het vinnig op ons gegroei. Dit is dalk net tyd om vir jouself ’n “bubble ring” aan te skaf of deur jou ma en ouma se juweelkissies te soek vir daardie vergete plastiek juwele! Deur Justine Kroes
5 Redes hoekom ons van die plastiek juwele-trend hou:
- Dit is meer sakpas as goue of silwerjuwele.
- As jy dit mooi oppas sal jy selfs die stukke vir jou dogtertjie of kleinkind kan bêre – as ons iets geleer het van die 80’s en 90’s? Mode trends loop volle sirkels! (Ons wens so ons Ma’s en Ouma’s het al hul plastiek juwele vir ons gebêre!).
- Dit is ’n vinnige manier om jou uitrusting of klerekas meer trendy te laat lyk.
- Baie van die ontwerpe word gemaak uit herwinbare plastiek – groener juwele? Ja asseblief!
- Die nostalgie mag dalk net die rede wees waarom hierdie trend tans so gewild is, kleurvolle ringe en oorbelle wat ons dadelik terugneem na herinneringe van ons kinder- of tiener-dae!
Plastiek juwele?
Daar is verskillende tipes (duurder en goedkoper) plastiek juwele. Daar is die wat van ’n vloeibare epoxy resin gemaak word, en is gewoonlik sterker as gewone plastiek juwele. As jy aanlyn of in die winkel koop, loer gerus na die etiket van die juwele om vas te stel of jou juwele van hars, herwinbare plastiek of ’n kombinasie van verskillende materiale saamgestel word.
Die ‘Bubble Ring’
Die “bubble ring” soos dit in die modekringe bekend staan – ’n kleurvolle bonkige ring. Die ring-styl is beskikbaar in verskeie afwerkings of materiale soos plastiek, harsof selfs bedekte emalje en versier met stene, kristalle of luukse diamante.
Die ‘bubble ring’ het die afgelope jaar reuse hoeveelhede roem geniet te danke aan bekendes soos Dua Lipa, Bella en Gigi Hadid wat met hierdie kleurvolle juweelgier pronk op hul sosiale media.
Wenk – as jy dalk huiwerig is probeer eers ’n deursigtige ring, of een in ’n neutrale kleur. As jou modekeuses meer avontuurlustig is, stapel ’n klompie kleurvolle ringe bo-op mekaar aan jou vingers.
Hier is ’n paar ringe op ons wenslysie:
Plastiek oorbelle
As jy oorbelle bo ringe verkies is het ons goeie nuus – die trend is ook nou volop in die allermooiste oorbel ontwerpe beskikbaar. Die plastiek-oorbel trend is vir ons meer ’n duidelike terugblik na die 80’s. Hoewel vandag is plastiek oorbelle ook beskikbaar in simplistiese style en nie net oorgroot dramaties en kleurvolle ontwerpe nie. Beslis iets vir elke stylpersoonlikheid.
Die meeste ontwerpe is lieflik lig en laat nie jou oorlelle moeg en eina voel na die eerste paar minute se dra nie – en daarby is die sakpas pryspunt ’n wen-wen in ons mode-boekies!
Hier is ’n paar oorringe op ons wenslysie:
Lees ook gerus: Gaan vir groen!