Groen was beslis een van die gewildste kleure op loopplanke vir 2021, van lemmetjiegroen tot gras- en neongroen. Loer hier om te sien waarom dit tans groot nuus is plus hoe om die regte groen vir jou veltoon te kies. Ons sê gaan vir groen! Deur Justine Kroes
Is groen die nuwe swart?
Bekende trendvoorspeller Li Edelkoort en haar agentskap Trend Union het reeds in 2021 groen as die trendkleur vir 2021 beskou, maar selfs in 2022 kraai die kleur steeds koning. Edelkoort beskryf die groen as ’n weerkaatsing van hoop vir die toekoms met ’n fokus op volhoubaarheid in die modewêreld.
Op die modeloopplanke vanaf 2021 tot 2022 is groen steeds ’n duidelike trend onder ontwerpers, ‘influencers’ asook bekendes en hul keuses van uitrustings op die rooi tapyt.
Die groen skakering wat die meeste uitstaan is “Kelly Green”; hierdie helder weergawe van groen sit tussen die blou en geel skakerings op die kleurwiel. “Kelly Green” was ’n gunsteling op loopplanke vir ontwerpers soos Molly Goddard, Bottega Veneta en Adam Lippes en nog vele meer.
Groen vir almal
Daar is beslis die regte skakering groen daar buite vir elke veltoon. Groen word gesien as ’n sekondêre kleur wat bestaan uit blou en geel. Daarom het groen ’n reuse reeks moontlikhede wat gebaseer is op koel en warm ondertone.
Susra Matthee, voorkomskonsultant en kleurkenner (volg haar hier), deel graag raad oor hoe om die regte groen vir jou veltoon te kies.
“Koue (cool) groene pas goed by mense met ’n “koeler” veltoon, en warm groene pas weer beter by mense met ’n “warmer” veltoon. As jy ’n “warm” veltoon het gaan jy nog kan wegkom met koue groene dra. Maar die met ’n “koeler” veltoon lyk nie so goed in warm groene nie.”
Susra Matthee
“Hoe onderskei mens tussen warm en koue groene? By ’n warm groen is dit die hoeveelheid geel wat ingemeng is in die groen skakering. Met ander woorde warm groene se geel is meer sigbaar omdat daar meer geel ingemeng, is, terwyl die koue groene meer blou bevat” verduidelik Susra.
Die groen skakering wat by die meeste veltone pas is ’n smaraggroen (emerald) omdat die skakering dieselfde hoeveelheid blou en geel bevat om die kleur te skep. Daarom pas dit die meeste warm en koue veltone.
Susra se raad “As jy onseker is watter groen skakering die beste by jou veltoon werk, dra dit eerder in ’n handsak of skoen – dit is in elk geval meer trendy om dit so te dra!”
Boek gerus ‘n kleur of styl-konsultasie met Susra, klik hier vir haar webwerf.