Daar word min gepraat oor pa’s se emosionele welstand. Vra kinders ooit hulle pa uit oor hoe hulle voel? Leer ons dit vir ons kinders? Dalk is dit tyd dat ons dit normaliseer. Terence Mentor (Afrodaddy), Tim Theron en Ivor Swartz gesels met Milan Murray van The My Story Tribe oor maniere waarop Pa’s ’n blywende indruk kan maak.
Dis binnekort Vadersdag. Die kanse is groot dat jou kinders reeds hulle Vadersdagkaartjie versier het met ’n superheld of ’n gespierde kragman. “My pa is beter / groter / sterker as jou pa” spog hulle mos. Pa’s moet gereeld seker maak hulle voldoen aan hierdie verwagtinge. Die druk om standvastig te wees, sekuriteit te bring en in beheer te wees rus swaar op vele mans se skouers. Min word daar egter gepraat oor Pa’s se emosionele welstand.
Terence Mentor, die Pa en blogger wat bekend staan as AFRODADDY, het in ’n hartroerende onderhoud met Milan Murray van The My Story Tribe gesels oor hoe sy eie emosionele welstand dié van sy kinders beïnvloed. (Luister hier na die podgooi) Na aanleiding van sy gesprek het ons ook vir ’n paar ander pa’s gevra om saam te gesels oor hulle eie geestesgesondheid en hoe hulle hulle kinders kan lei na emosionele standvastigheid.
5 maniere hoe pa’s ’n blywende indruk kan maak.
1. Vee eers voor jou eie deur.
Kinders het hulle pa’s nodig. Dit het amper al ’n hulpkreet in Suid Afrika geword waar ongeveer 42% van gesinne sonder ’n pa in die huis funksioneer. Dis egter nodig dat Pa’s wat wel teenwoordig en betrokke is, die invloed van hulle eie emosionele welstand op hulle gesinne verstaan.
Terence benadruk dat pa’s eers vir hulleself in die spieël moet kyk:
“Die beste ding wat pa’s vir hulle kinders kan doen is om hulle eie emosionele gesondheid hoog op prys te stel. Ons kan nie van ons kinders verwag om emosioneel gegrond en standvastig te wees, as onsself stukkend bly nie.”
Terence Mentor
Terence noem ook dat die stigma van terapie hom baie lank weerhou het om hulp te soek en dat hy nou eers die volle waarde van daardie proses vir hom en sy gesin beleef. “Dis eers toe ek met ander mans begin het praat oor my eie seer en worstelinge, dat ek besef het ek is nie alleen nie! Mans word soms beskuldig dat hulle nie empatie het nie, maar dis omdat ons nooit empatie geleer is nie.”
Vervaardiger en akteur Tim Theron beaam die belangrikheid van selfsorg: “My eie emosionele welstand is ontsaglik belangrik. Ek én my vrou lê baie klem op geestesgesondheid en ook hoe ons mekaar ondersteun om die druk, angs en stres van elke dag gesond te hanteer. Dit help ook om ’n klankbord te hê van vriende en familie om oor die uitdagings van ouerskap te kan gesels sodat niks van daardie spanning oorspoel na die kinders nie. As mens ’n eiland is en nie hierdie bekommernisse en frustrasies kan deel nie, en heeltyd voel jy moet toneelspeel, is dit uiteindelik baie nadelig vir jou eie geestesgesondheid, en uiteindelik jou gesin s’n.”
2. Wees ’n voorbeeld
Ivor Swartz, pa, skrywer en prediker, bevestig dat weerloosheid, openhartigeid en rou emosies van ’n pa ’n groot, positiewe verskil maak vir ’n kind.
“As ’n pa afgestomp is, kort antwoorde gee en niks van sy eie weerloosheid in die huis wys nie, kommunikeer dit dat diep emosies nie in ’n huis welkom is nie.”
Ivor Swartz
“Ek probeer juis vir my seun Luther wys ‘Pappa is hartseer’, ‘Pappa sukkel’. My teorie is dat waneer pa’s hulle swakheid wys – in die vorm van weerloosheid – dink kinders baie keer dat dit hulle skuld is, en ons moet daardie tendens verander.”
Terence herinner ook dat kinders ongelukkig nie leer deur instruksie nie, hulle leer deur dit wat ons modeleer, wys en leef. “As ek sien hoe my pa sy teleurstelling hanteer, het ek ’n verwysingsraamwerk van hoe om dit self te doen.”
3. Trap maar op Mamma se tone – sy sal dit verwelkom!
Chantel Griesel, arbeidsterapeut by The My Story Tribe, voel baie sterk dat pa’s ’n groter rol kan speel in hulle kinders se emosionele welstand. “Ma’s is tradisioneel diegene wat intree wanneer kinders groot emosies beleef. Ma’s het ’n sterk instink om te troos en te koester. Pa’s neem soms aan dat hulle nie nodig is of ’n bydrae kan lewer waneer dit by gevoelens kom nie. Tog speel pa’s ’n kardinale rol in kinders se hantering van emosies.
’n Pa se teenwoordigheid bring sekuriteit en tree in baie gevalle op as ’n sterk anker vir onstabiliteit. Tree dalk volgende keer nader as jou kind groot emosies beleef. Hou hulle vas. Weerspieël wat jy sien. Die erkenning van hulle belewenis sal berge versit in hulle emosionele reis.
Tim meen dat kinders met twee ouers wat emosioneel betrokke is, ’n groot voorsprong in die lewe het. “Om te weet dat beide my ouers belê in my emosionele welstand en groei, skep ’n veilige basis vanwaar ek kan ontwikkel.
Daar is seker gronde vir tipiese, tradisionele rolle, maar emosionele betrokkenheid is nie eksklusief een ouer se werk nie.
Tim Theron
Elke ouer het ’n ander persoonlikheid en aanslag, so die verskillende invalshoeke en benadering tot daardie ondersteuning is tot voordeel van die kind.”
4. Ken jou kind
Kinders het verskillende emosionele taal en behoeftes. Tim verduidelik dat sy twee kinders baie verskillende emosionele ondersteuning nodig het. “Migael het ’n uitgaande persoonlikheid, hy gee baie van homself en heg gou aan mense. Hy het dikwels ’n veilige plek nodig om na terug te keer en homself weer te grond. Sophia is weer meer inkennig en het ’n veilige plek nodig om vanaf te beweeg – ’n betroubare wegspringplek wat vir haar ’n emosionele hupstoot gee.”
Deur ons kinders as unieke emosionele wesens te hanteer, bevestig ons hulle waarde en plek in ons huis.
5. Skep rituele en gewoontes
Waneer ons gesprekke oor emosie in huise normaliseer, skep ons gesonde fondasies vir die toekoms.
Groot emosies is oukei
Ivor se seun Luther is maar drie jaar oud, maar sy pa doen reeds moeite om uiterlik te wys dat groot emosies oukei is. “Dis soms vir my vrou ’n groot verleentheid, maar ek sal aangehardloop kom by die skool, my arms groot oopgooi en kliphard skree ‘Luther, Pappa het jou gemis!’ My seun moenie net sien dat ek my stem verhef as ek kwaad raak vir die sokker nie, hy moet dit ook sien in my vreugde.”
Spesifieke ná skool vrae
Nog ’n oulike gewoonte wat Ivor ingestel het is om ná skool sy vrae so spesifiek te maak met die doel om stelselmatig van algemene gebeure in die dag te beweeg na emosionele gebeure in die dag. “Ek sal eers vra ‘Wat het julle geëet vandag?’, ‘Wat het julle gespeel vandag?’ en dan oorgaan na vrae soos ‘Wie het jou kwaad gemaak vandag?’, ‘Wie het jou bang gemaak?’, Vir wie het jy ‘n drukkie gegee?’. Op so manier leer ek hom om te verbind met sy eie emosionele ervaringswêreld en ek wys vir hom dat ek daarin belangstel en betrokke is. “
Kwaliteit-tyd
Tim heg weer waarde aan kwaliteit-tyd. “Genoeg aleentyd met elke kind is ’n groot prioriteit vir ons. Die daaglikse stappies na ons naaste koffiewinkel bied kosbare tyd vir elke kind om spontaan te gesels oor hoe hulle voel en hulle leefwêreld met ons te deel. “Een ritueel wat ononderhandelbaar is in die Theron-huis, is die aandroetine. “Mense sal dit seker vreemd vind, maar ons klim nogsteeds elke aand met elke kind in die bed om nag te sê. Daardie fisiese nabyheid en onverdeelde aandag is van onskatbare waarde. Daarmee kommunikeer ons ‘ek sien jou’, ‘ek hoor jou’.
Mag die sosiale verwagtinge rondom manlikheid en Vaderskap so skuif, dat koestering, emosionele steun en gesonde weerloosheid sinoniem word met Pa-wees.
Gelukkige Vadersdag!