Die Japanese is van die nasies met die hoogste lewensverwagting; hier is wat ons by hulle kan leer. Deur Suzanne Kotzé
20/04/2024
Stap jy in Japan rond, sien jy oral ou mensies, sommige so kromgevou van ouderdom dat jy wens jy hulle kon optel en neersit waar hulle moet wees. Maar hulle stap, dra hulle inkopiesakkies, lyk selfstandig (ons het niemand gesien wat aanbied om sakke te dra of te help nie) en kom waar hulle moet. Alles terwyl hulle doodtevrede lyk.
Op ’n onlangse vakansie in Japan, doen ons ’n kostoer in ’n tradisionele Japanese woonbuurt, Kichijoji in Tokio.
Ek gesels met ons gids, Ken, en vra hom uit oor die Japenese manier van leef, en hoekom die hoë lewensverwagting in Japan. Die gemiddelde lewensverwagting in Japan is 85.15 jaar, wat tans, naas Hong Kong, die tweede hoogste in die wêreld is!
Hoekom is die Japanese lewensverwagting so hoog?
Ken deel die volgende: “Ek sou sê dat dit is danksy ’n mengsel van daaglikse oefening, gesond eet (gebalanseerde maaltye met gefermenteerde kos soos pekels, umeboshi en miso) en sonlig is. ’n Streng daaglikse roetine wat die ‘enjin’ laat aanhou loop is ook belangrik. Nog iets wat dalk ’n faktor kan wees, is dat ou mense gewoonlik by hul kinders bly.”
1. Daaglikse oefening
Om daagliks te beweeg en ligte oefening te doen is geweldig belangrik in die Japanese kultuur. Behalwe dat hulle oral heen stap, word Japanese groot met ’n nasionale oefenprogram genoem Radio Taiso, wat ‘radio oefening’ beteken. Hierdie oefenprogram word reeds vanaf 1929 op die radio uitgesaai. En kinders word groot hiermee en beoefen dit ook daagliks by die skool voordat hulle moet begin leer. Selfs by groot besighede word mense aangemoedig om die oefening te doen voordat hulle begin werk. En dit is juis glo die idee van saamwees en oefen wat bydra tot die sukses van die program.
Radio Taiso fokus op mobiliteit en die oefening is eenvoudig en maklik en duur skaars vyf minute.
Kyk gerus na die video van The Japan Society op Youtube.
In die boek Ikigai: The Japanese Secret to a Long and Happy Life deel 100 van die oudste mense in Okinawa, Japan (bekend as ’n sogenaamde blousone, waar die inwoners besonder oud word) dat hulle gereeld hierdie oefenroetine beoefen. Ander gewilde oefening is joga en Tai Chi.
2. Gebalanseerde dieet
’n Wetenskaplike studie skryf die lae mortaliteit hoofsaaklik daaraan toe dat min mense vetsugtig is. As die Japanese die dieët met die van Kanadese, Franse, Italianers en Amerikaners vergelyk word, eet die Japanese veel minder vleis (veral beesvleis), suiwel, suiker, versoeters, vrugte en aartappels. Japanese eet meer vis, seekos, rys, sojabone en tee.
Sojabone word veral in sy gefermenteerde vorm, soos in sojasous, miso-pasta of tofu geëet. Soja is ’n belangrike bron van isoflavone, ’n molekule wat teenkanker-eienskappe het en ook voordelig is vir hartgesondheid. Prostaat en borskanker kom veral baie minder in Japan as die res van die wêreld voor.
Miso
Ons het tydens ons kostoer verskeie tipes miso geproe by Soybean Farm. Hier het ons die eienaar, Mnr. Tsuchihira, wat van ’n misoya familie in Aichi Prefecture af kom, ontmoet. Die familie verkoop al dekades lank miso.
Mnr. Tsuchihira is so passievol oor miso, en ook die gesondheidsvoordele, en hoe goed dit vir jou immuniteit is, dat hy graag sjefs en gewone mense wil inspireer om miso nie net vir sop te gebruik nie, maar as ’n geurmiddel vir verskeie kosse. Ons het selfs kaaskoek met miso in geëet en dit was heerlik. Hulle het meer as 30 verskillende tipes miso in die restaurant en winkel. (En ja, natuurlik moes ons koop om saam te bring.
Vis en seekos
Die Japanese eet veel meer vis en seekos en baie minder rooivleis en neem as gevolg daarvan minder versadigde vetsure in en meer mariene oversadigde vetsure. Dit dra by tot beter hartgesondheid.
Matcha tee
Die Japanese is bekende vir hulle matcha, ’n vorm van groentee in poeiervorm. Die tee is baie hoog in anti-oksidante, en moenie dink jy kry dit net in teevorm nie. Ons het selfs ’n matcha cappucino gedrink en matcha roomys geëet.
3. Son
Japan is natuurlik bekend as die ‘land of the rising sun’ (kyk maar net na die Japanese vlag). In Japanese mitologie is daar selfs ’n songodin, Amaterasu. Sonsopkoms en sonsondergang is veral belangrik vir die die Japanese. Tot so ’n mate dat daar selfs ’n spesiale naam is vir die eerste sonsopkoms van die nuwe jaar, Hatsuhinode. Om vroegoggend op 1 Januarie die Hatsuhinode te sien (mense kom dikwels in hoë geboue of op heuwels bymekaar) is veel belangriker as om die Nuwe Jaar om middernag in te drink.
Tyd in die fel middagson word dikwels vermy, want Japanese is obsessief oor ’n vleklose vel en sonbeskerming.
4. Roetine en Ikigai
Die Japanese glo in roetine en om elke dag op te staan met ’n doel (Ikigai) Hulle het verantwoordelikhede en voel nodig, met duidelike rolle om steeds by te dra, ten spyte van hul ouderdom. (En noudat ek dit weet, besef mens die kromgebuigde tannies met hul inkopiesakke het nodig om die take te verrig om ‘jonk’ te bly.)
Tydens ons kostoer ontmoet ons die 92 jarige mev. Kiida. Sy besit ’n winkel wat al vir sewe dekades lank handgemaakte ryskoekies verkoop. Sy werk saam met haar dogter in die winkel en gesels te lekker met ons oor die geskiedenis van die winkel en hulle familie terwyl sy en haar dogter ons rondwys.
Mev. Kiida is een van vele Japanese wat op ’n laat ouderdom nog werk, en baie op en wakker is. En dit is juis hierdie gevoel van nodig wees en ’n doel dien waarna Ikigai verwys.
5. Ouer mense bly by hul kinders
Ken vertel dat meeste ou mense by hul kinders intrek eerder as om in ouetehuise te bly. “Die vlak van sorg mag dalk ook bydra tot die hoë lewensverwagting.”