Indien jy nou hou van sagte pastelle, skoon minimalistiese lyne of ’n meer-is-meer, kleurvolle dopamienstyl, deel ons die mooiste paas dekoridees met jou.
Ons was self op soek na vars dekorinspirasie en het op hierdie oulike en unieke idees afgekom.
Ontdek jou gunsteling Paasdekorstyl en kies en keur die nuutste Paas-items wat tans in winkels en aanlyn beskikbaar is. Saamgestel deur Justine Kroes
Paasfees dekor-idees
1. Sag en speels in pastel
Indien jy op soek is na iets tussen minimalisties en kleurvol, is ’n sagte pastelkleurige Paastafel die perfekte balans. Hierdie styl kombineer ligte, dromerige skakerings met ’n speelse, moderne aanslag. Dink aan sagte pienk, bottergeel, mentgroen en poeierblou gemeng met oulike, quirky detail wat steeds lig en vars voel. ’n Gevoel van ligtheid en vreugde sonder om oorweldigend te wees.
Begin met ’n pastelbasis
’n Goeie beginpunt is jou tafeldoek en plekmatjies. ’n Subtiele ruitpatroon (gingham) en natuurlik geweefde teksture skep ’n ontspanne, plaasstyl gevoel. Dit gee dadelik daardie informele, uitnodigende Paas-atmosfeer.

Jou borde kan hierby pas, ligte pienk, sagte groen of wit of afwit. Selfs borde met patrone of in blom en blaar vorms sal pragtig hierby pas.
Verskillende hoogtes
Speel met kerse, dekor en blompotte in verskillende hoogtes. Pastel kerse lyk besonders mooi wanneer dit in verskillende hoogtes en kleure gegroepeer word.

Meng kerse vann verskillende vorms om visuele belangstelling te skep en hou by sagte skakerings vir ’n samehangende gevoel.

Sagte kleurpalet
Hou by drie tot vier pastel skakerings en herhaal dit subtiel regdeur die tafeldekor in jou vertrek vir balans.

Sagte blomme vir afronding
Kies blomme in ligte, romantiese skakerings, dink aan ranonkels, rose of veldblomme wat by jou pastel pragdekor sal pas. Rangskik dit losweg in klein bud vases/mini blompotte vir ’n ontspanne, amper moeitelose voorkoms.

Gee aandag aan die klein detail:
Dink aan idees soos mini pastelkleurige paaseiers tussen die tafelrangskikking; Hasie-ornamente of subtiele figuurtjies en pastelkleurige servette wat speels gevou is (soos hasie-ore).

Al hierdie klein details en elemente dra by tot ’n feestelike gevoel.
2. Minimalisties mooi
Indien pastelle en oordadige skakerings nie vir jou is nie, probeer liefs ’n moderne, minimalistiese paastafel. Deur jou kleure en dekor-elemente te beperk, en met teksture te eksperimenteer skep jy ’n tafel wat modern, vars en uitnodigend voel, perfek vir ’n stylvolle Paasviering.
Begin met ’n sagte, neutrale basis

’n Skoon, eenvoudige basis stel die gevoel van die hele atmosfeer. Dink aan kraakvars wit tafeldoeke, natuurlike linne runners, of selfs ’n kaal houttafel vir ’n meer organiese gevoel. Hou die kleurpalet sag en skoon met min of geen patrone nie. Dink aan warm wit, sagte beige en ligte grys en skep ’n kalm basis en beginpunt vir jou paasdekor.

Hou paasdetail subtiel
Kies eerder verfynde, eenvoudige aksente.

Byvoorbeeld matte of keramiek-eiers in sagte neutrale skakerings, plaas dit in ’n eenvoudige bak of ’n eier hier en daar. Een klein hasie-aksent is meer as genoeg, onthou hier is minder meer.

Voeg ’n persoonlike detail by met ’n losgeknoopte servet, ’n handgeskrewe naamkaartjie of ’n enkele dekoratiewe eier, minimalisties eenvoudig en sjiek.

Voeg natuurlike elemente by

Bring die natuur by jou minimalistiese paasdekor in. Vars groenigheid soos olyf- of bloekomtakke bring die hele tafel tot lewe. Hierdie groen skep ’n aardse, gebalanseerde gevoel. Indien jy blomme kies, hou by een tipe blom en hou die rangskikking ontspanne en los vir daardie kenmerkende minimalistiese styl.

Hou jou tafelware lig en elegant

Klassieke wit of selfs grys borde, linneservette en moderne eetgerei skep ’n gepoleerde voorkoms. Deursigtige glasware en kandelare in silwer of goud lyk sjiek, skoon en elegant.

Sagte beligting

Rond die tafel af met sagte, warm lig. Lang dun kerse in neutrale kleure, in eenvoudige houers, voeg onmiddellik atmosfeer by sonder om die styl te oorheers. Hou dit gebalanseerd en rustig.

3. Maksimalisties met “kleur is meer” paasdekor

Indien jy graag ’n energieke paasfees wil geniet, dan is ’n kleurvolle dopamiene paasdekor styl vir jou. Jou dopamiene paasdekor gaan oor vreugde, energie en self-uitdrukking. Dit fokus minder op perfeksie en fokus meer op pret. ’n Tafel wat jou laat glimlag nog voor die eerste happie geneem is. Meng kleure, speel met teksture en moenie bang wees om die reëls te breek nie. Hoe meer persoonlikheid en onverwags, hoe beter.
Begin met ’n helder basis
Vergeet neutrale, hier is meer beslis meer. Kies ’n tafeldoek of -loperin ’n helder kleur soos pienk, koraal, heldergeel of selfs ’n onverwagse patroon.

Werk met 2 tot 3 hoof helder skakerings en bou dan lae met linne en dekorelemente in kontrasterende kleure en aksente.
Moenie bang wees om te meng nie:
Kombineer verskillende borde, kleure en teksture.
Jy word hier uitgenooi om kleure en patrone te meng vir ’n gelaaide, ekstra en speelse effek. Dink aan strepe by sirkels, anything goes.

Gebruik helder of kontrasterende servette (selfs neon!).
Voeg speelse detail by soos naamkaartjies in akriel, of mini-eiers by elke plek.


Wenk: Lae skep visuele impak, werk met onderborde, borde bo-op borde, servette en teksture.
Maak Paasdetail prettig en onverwags
Hier is jou kans om kreatief te raak:
Verf eiers in neon skakerings of voeg glinsterende glitter en patrone by. Dink “disco bal paaseiers”!

Gebruik ongewone elemente soos geverfde plastiek diere of abstrakte hasies as dekor- elemente. Nooi ander diertjie soos flaminke by jou hasie in!


Dink buite die boks en spuit jou ou paasdekor in helder neon skakerings, of verf met metaalverf vir ’n edgy en cool gevoel.


Verf gaste se gesigte of byname op hul eiers as naamplekke.
Blomme hoef nie tradisioneel te wees nie

Kies helder blomme soos gerberas of tulpe in allerhande verskillende kleure.

Kies interessante, kleurvolle en onverwagse blompotte wat verder bydra tot die “meer is meer” gevoel.

Verf of doop blom-stingels in kleur vir ekstra speelsheid

Meng blomme met onverwagse elemente soos lekkergoed, helder lint of selfs klein speelgoed.
Glinsterende lig vir ’n tikkie glam
Maak gebruik van kleurvolle kerse in gedraaide of unieke vorms.

Moet nie van glinsterende glitter vergeet nie – selfs al is dit hoe subtiel op eiers, kerse of dekor elemente soos ’n hasie.


Speel met reflektiewe materiale soos akriel, glas of metaal vir ’n ekste laag interessantheid en diepte.




























