Snoesige, sagte en plomp beddegoed; jou gids tot duvet-en kombers-sorg

Daar is iets heerlik luuks daaraan om in jou bed te klim met nie net skoon en vars beddegoed nie, maar met ’n plomp duvet en snoesige sagte kombers. Terwyl meeste van ons gereeld ons lakens en duver-oortreksels was, was ons dalk nie dikwels genoeg ons duvet-binnekante en komberse nie. Deur Suzanne Kotzé

Lees altyd eers die was-instruksies

Verskillende materiaal en vulsels benodig verskillende sorg.

Was duvet-binnekante en komberse só

Sintetiese duvet-binnekante

Sintetiese duvet-binnekante is oor die algemeen die maklikste om te onderhou. Was dit elke ses maande op ’n sagte siklus met koue of louwarm water en ’n sagte vloeibare wasmiddel.

Moenie jou wasmasjien te vol prop nie, want die duvet het ruimte nodig om vrylik rond te beweeg sodat dit goed skoongemaak kan word.

Los eerder versagmiddel, aangesien dit die vesels kan bedek en hul volume en absorpsievermoë mettertyd kan verminder.

Vere-duvet binnekant

Jou vere-duvet het ekstra aandag en sorg nodig, maar dit is die moeite werd. As jy ’n oortreksel gebruik, hoef jy dit slegs elke 12-24 maande te was.

Maak seker jou duvet pas in jou wasmasjien sodat dit vrylik kan rondbeweeg. As jy dit moet inprop en sukkel om die deur toe te maak, is dit die moeite werd om dit eerder na ’n wassery te stuur. Vere wod verbasend swaar as dit nat is, en het spasie nodig om rond te beweeg sodat dit eweredig gewas kan word. Anders sit jy met ’n papsopnat-duvet wat nie eens behoorlik skoon gewas is nie.

Gebruik ’n sagte siklus met koue of louwarm water en ’n wasmiddel wat spesifiek vir vere geformuleer is, of ’n klein hoeveelheid sagte vloeibare wasmiddel.

Moet nooit bleikmiddel of versagmiddel gebruik nie, aangesien dit die delikate vere en natuurlike olies kan beskadig wat vere sy sagtheid en isolerende eienskappe gee.

Komberse

Komberse moet ook volgens hul veselinhoud gewas word. Katoen- en vlieskomberse is gewoonlik elke een tot drie maande masjienwasbaar, terwyl wolkomberse dikwels op ’n sagte wolsiklus gewas moet word of handgewas word met ’n spesiale wol-wasmiddel.

Droogmaak is die belangrikste stap

Die droogmaak (veral as dit by vere-duvets kom) is baie belangrik.

Stel jou tuimeldroër op lae hitte en sit droërballe of skoon tennisballe saam met die duvet in die tuimeldroeër. Die balle help om ‘klonte’ in die duvet op te breek, en help dit om dit daardie sagte gevoel te gee.

Wees geduldig, want ’n vere duvet kan ’n paar uur neem om droog te word. Maak jou tuimeldroeër so elke uur oop, voel hoe nat dit nog is, en skud dit so elke nou en dan sodat die vere kan herverdeel. Maak seker jou duvet is behoorlik droog voordat jy dit terugsit op die bed.

Jy kan jou vere duvet buite laat droog word, as jy verkies, maar doen dit liefs uit direkte sonlig, aangesien die son op die lang duur die verevesels kan beskadig. Dit is ook moeilik om die nat, swaar duvet op te hang, aangesien die vere dan dikwels na een kant toe hang en oneweredig sal versprei. Hang dit oor ’n paar wasgoedlyne en draai dit gereeld om, dit mag dalk ’n dag of twee neem. ’n Ander opsie is om dit eers buite te hang totdat die ergste nat uitgedrup het, en dan oor te skakel na jou tuimeldroër.

’n Sintetiese binnekant kan makliker buite droogword. Hang dit ook oor ’n paar lyne, en draai dit elke uur rond sodat die vesels nie net na een kant versprei nie.

Sintetiese komberse kan in die tuimeldroër of op jou wasgoedlyn droogword. Wasgoedlyne is die beste opsies vir wolkomberse aangesien dit help om om sy vorm en sagtheid te behou.

Gee dit lug

Hang jou duvet-binnekant en komberse elke paar weke buite. Wag vir ’n droë winderige dag. Vars lug is goed vir die vesels en help om vog en reuke te verwyder.

Maak ook seker jy ruil gereeld die kante van jou duvet-binnekant as jy dit in die oortreksels sit. Sodat jou voetekant byvoorbeeld nie die heeltyd by jou voete is nie. Skud ook elke keer as jy jou bed opmaak jou duvet lekker uit sodat die vesels kan versprei.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
KI-binnehuise-versier
Gebruik KI só vir binnehuise-versiering
error: Content is protected !!