Paasfees gesinstradisies
Paasfees gesinstradisies

Paas-gesinstradisies

Stylvol-vriendinne en bekendes deel hulle Paas-gesinstradisies. Dalk is hier ’n paar nuwe idees wat jy en jou gesin kan probeer. Van avontuurlustige Paaseiersoektogte tot Paasbome en -kranse en natuurlik lekker eet. Deur Suzanne Kotzé

Paas-gesinstradisies

Maak seker julle het Paas-gesinstradisies sodat jou kinders ook eendag met heimweë terugdink aan díe spesiale naweek.

Paaseiersoektog

Maak die soektog pret deur oulike maskers en pyltjies vir jonger kinders uit te druk. Kry dit hier

Milan Murray (aktrise en skrywer)

Milan saam met haar man Schalk en hulle kinders, Lua en Steph
Maak die soektog ’n avontuur vir groter kinders

Ons het nog altyd Paaseiers weggesteek, maar ek het nou ’n tween en ’n teen in die huis en ons moes meer innoverend word. Die afgelope jaar of twee steek ons die Paaseiers in die dorp weg. 

Een jaar het ons ’n sonsondergang soektog gedoen. Ons het vir die kinders foto’s gegee wat leidrade was van waar die Paaseiers weggesteek is. Die kinders ry dan op hulle fietse en dan word dit ’n wedywering tussen boetie en sussie. 

Ons het selfs al ’n middernag-soektog gehad. Ons het almal saam in die motor geklim en ons het vir die kinders ’n foon gegee en GPS koördinate. Dan moes hulle vir ons verduidelik hoe om te ry. Wanneer ons die verskillende bestemmings bereik het, moes die kinders met flitsligte die Paaseiers gaan soek. Ons het amper in die moeilikheid beland, want ons het van die Paaseiers binne-in die skoolterrein weggesteek. Ons mag natuurlik nie na ure op die skoolgronde gewees het nie, en het eers na die tyd besef daar is sekuriteitskameras oral!

Marijke Coetser (Maryke in Getroud met Rugby)

Marijke Coetser Paasfees
Marijke en Werner Coetser (Blitz van Getroud met Rugby), Juwan (Marijke se seun uit ’n vorige huwelik) en haar en Werner se dogtertjie, Layla.
Familietyd en Paaseiers soek

Ons gaan kuier gewoonlik tydens Paasnaweek by my ouers in Bethlehem. Verlede jaar het ons saam met hulle nagmaal gevier en vir die kinders verduidelik waaroor Paasfees regtig gaan. Ons het ook vir die kinders Paaseiers weggesteek sodat hulle dit kon soek. Hierdie jaar gaan nie anders wees nie. My seun (Juwan) sien nou al maande lank uit na die “Paaseier-soektog!” En natuurlik is my eie groot bederf die witsjokolade-eiers. Ek gun myself my eie sespak tydens Paasfees!

Vicky Davis

Vicky, Lira en Jean-Luc
Vicky se man, Schalk Joubert en hulle kinders
Viering van familie en die lewe

Paasfees is vir ons ’n tyd om familie, saamwees en die lewe te vier. Ons het elke jaar ’n groot Paaseier-soektog in die tuin en maak beurte by wie se huis dit is. Dit is ’n groot gebeurtenis vir die nefies en niggies en altyd ekstra spesiaal as my suster en haar gesin uit Engeland kom kuier en by ons aansluit.

Vanjaar is dit veral ’n spesiale dag.

Presies ’n jaar gelede, op Goeie Vrydag, het my pa (Douglas Davis) ’n hartaanval gehad en ’n jaar later sterk hy goed aan.

Ons is baie bly hy kan vanjaar hierdie dag saam met ons vier. Al is ouma Heloïse en oupa Douglas steeds in isolasie omdat hy natuurlik baie broos is, kan ons darem veilig saamkuier buite in hulle tuin, maskers en al, solank ons net saam is.

Eet

Tracey Lange, radio-omroeper en TV aanbieder

Tracey Lange
Foto: Annemarie Marais
Kerk, hotcross buns en ingelegde vis
Ons eet reg deur die jaar hotcross buns, maar slegs Paasfees eet ons dit met ingelegde vis.

Ons het eintlik glad nie groot tradisies vir Paasfees nie. Net die gewone kerkdiens, Goeie Vrydag sowel as Paas-Sondag. Dan kom ons huis toe en geniet middagete wat natuurlik heel naweek bestaan uit ingelegde vis met heerlike hotcross buns.

Stylvol-vriendin Gerda Kriel

Lamsboud en Reddingsrede

Ons eet graag lamsboud, flatbread en bitter kruie by die feestafel. Ons deel dan saam nagmaal en herinner mekaar aan die Reddingsrede vir Paasfees.

Handwerk

Eiers blaas

Stylvol-vriendin, Laura Espey sê:

Gedurende ons kinderjare het ons altyd eiers geverf met koekkleursel. Jy blaas die binnekant van die eier uit (dit bly maar moeilik om nie die eier te kraak nie). Daarna spoel jy die eierdop uit en laat dit droog word voordat jy dit mooi versier. Hang die eiers aan ’n tak. 

Wenk: Plak ’n stukkie kleeflint bo-op jou eier en gebruik ’n skuifspeld of naald om ’n gaatjie aan beide punte te maak. Vroetel die gaatjie onder versigtig groter. Gebruik ’n strootjie en blaas die wit en geel uit. Hou ’n bakkie daaronder om die eierinhoud op te vang. 

Psst: ons het nie sukses gehad met ’n boor nie! 

Boomversier

Paasboom.
Stylvol-vriendin, Kerith Jensen sê:

Ons versier elke Paasfees ’n boom. Gewoonlik is dit ’n tak wat ons optel as ons in die bos gaan stap. Ek het oor die jare heen al baie versierings bymekaar gemaak. Sommiges selfgemaak en ander gekoop. Die kinders kan nie wag om elke jaar die boom op te maak nie. 

Paaskrans

Stylvol-vriendin Marie Crossoer het dié mooi krans gemaak

Ek het so baie ou droë blomme in my tuin gehad wat steeds so mooi was dat ek graag nuwe lewe aan hulle wou gee. Jy kan net gebruik wat jy het en wat tot jou beskikking is in jou huis. Ek het die krans net so met draad gevorm en sommer skuifspelde geneem om die blomme aan die draad vas te maak en ander net so by die draad ingedruk. 

Wasgoedpennetjie-eiers

Hierdie is ’n oulike en maklike aktiwiteit om kinders besig te hou. Ons het dit laasjaar gedoen, en selfs my tween het dit geniet. Hy het sy kuikentjie net cool laat lyk deur vir hom ’n sonbril op te teken. Kry instruksies hier.

As jy Paas-gesinstradisies genie het lees ook: 17 Besigbly-planne vir verveelde kinders

https://onelittleproject.com/peekaboo-clothespin-eggs/
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Tekens dat jy besluitnemingsmoegheid het
error: Content is protected !!