Opdienborde vir onthaalkoninginne

Die onthaalseisoen is hier en of jy nou ’n opdienbord soek om ’n peuselhappiebord uit te pak of een vir slaai of vleis; hier is van die mooistes nou op ons wenslysie. Plus kies-en stoorwenke. Deur Suzanne Kotzé

Kies só die regte opdienbord

Mervyn Gers van Mervyn Gers Ceramics gee raad

Neem die grootte in ag vir jou spyskaart

Die grootte van die opdienbord wat jy kies, sal grootliks afhang van jou spyskaart. Vir hartlike geregte soos ’n skaapboud of ’n heel gebraaide hoender met aartappels, is ’n groter opdienbord noodsaaklik om die lywiger items gemaklik te  akkommodeer. Daarteenoor benodig ligter geregte soos slaaie of ’n kaasbord dalk net ‘n mediumgrootte opdienbord.

Dit is ook belangrik om ‘n opdienbord met ‘n effense rand te kies om alles netjies vervat te hou. As jy geregte met souse of slaaisouse voorsit, sal die rand help om opdiening te vergemaklik.

Dink aan die ander items op jou tafel as jy ’n kleur kies

Die kleur sal bepaal word deur ander items op jou tafel soos die eetgerei. Ons hou baie daarvan om ’n opdienbord in ’n kontrasterende kleur te gebruik. Dit skep ’n bietjie drama. Dit werk ook goed indien die grootste opdienbord in die middel van die tafel is met kleiner borde of slaaibakke rondom dit.

Speel met vorms

Nog iets wat ons voorstel, is om te speel met vorms. Indien jou eetgerei sirkelvormig is, gebruik ovaal opdienborde. As jou eetgerei meer vierkantig is, gebruik vierkantige of reghoekige opdienborde. 

Bowenal, kies iets wat jou oog vang en by jou styl pas. Ons bied vele opsies van vorm, grootte en kleur.

Stoorwenke vir jou opdienbakke 

Groot opdienborde lyk altyd mooi as dit uitgestal word op ’n tafel of buffetkas. ’n Mens kan sommer ’n paar opmekaar sit – grootste onder sodat dit nie breek nie.

Indien jy van ’n meer minimalistiese voorkoms hou, kan jy ’n  paar vertikale verdelers in enige kas van jou kombuis maak. Bêre dan die opdienborde vertikaal, sodat jy dit maklik kan sien en uithaal vir gebruik. Jy kan dit wel in jou kas stapel. Ek organiseer dit volgens grootte – van klein (bo) na groot (onder) – maar dit maak dit moeilik om dan daagliks te gebruik.

Mooilykwenke vir jou peuselhappiebord

Hier by Stylvol is ons maar te lief om ’n peuselhappiebord uit te pak; of dit nou vir saam met drankies om die swembad is, of om hongergate voor die (lang) braai te vul.

Hier is ’n paar wenke

Kies kontrasterende kleur

As jy byvoorbeeld ’n blou bord gebruik, maak seker jy sit iets rooi by soos kersietamaties. Kies ook iets soos beethoemoes, in plaas van die gewone vaal hoemoes.

Wees versigtig vir vaal kaasborde

Voeg altyd bietjie kleur by, of dit nou in die vorm van ’n sous is (dink aan swartbessiesous saam met kaas) of iets groen soos mange tout of basilie pesto.

Skep hoogte

’n Maklike manier om bietje hoogte in te bring is deur iets soos kaasstrooitjies (cheese straws) in ’n leë glasflessie te sit.

Eetbare blomme

Eetbare blomme en blare kan jou bord ekstra mooi en spesiaal laat lyk. Daar is deesdae baie te koop, of kyk vir iets soos kappertjies wat in jou tuin groei.

Opdienborde op ons wenslysie

Mervyn Gers Churchaven Platter (vanaf R1600 epos info@mervyngers.com en beskikbaar by Yuppiechef vanaf begin Desember)
Mervyn Gers Scallop Ostrich Platter (vanaf R1600 epos info@mervyngers.com en beskikbaar by Yuppiechef vanaf begin Desember)
JAN White Oval Serving Platter, 38cm (R499, Yuppiechef)
Urchin Art Nawi Serving Platter Olive (R599, Superbalist)
Sixth Floor Scalloped platter – Natural (R499, Superbalist)
Pret-a Pot Teal Marble Large Platter – Teal (R699, Superbalist)

Sunbaked Abstract Platter (R399, Poetry)
Mason Cash Nautical Medium Shell Platter, Grey (R599, Yuppiechef)
Jenna Clifford Black Rose Oval Platter, 36cm (R549, Yuppiechef)
Ceramic Platter – Moss Green 38cm (R650, Babylonstoren)
Country Road Tapas Large Round Platter (R599, Woolworths)

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Jo-anne Strauss
Hakke-koningin Jo-Ann Strauss se skoenekas word georden
error: Content is protected !!