Ontmoet ma en dogter kunstenaar duo Kim en Olivia Black

Kreatiwiteit vloei sterk in die Black-bloedstroom met ma en dogter Kim en Olivia Black wat altwee die mooiste kunswerke skep, elk in hul eie reg. En soms skep die twee ook saam kunswerke, sommer so onbeplan en vol intuïsie. Behalwe hul kuns, is die twee se besondere verhouding so inspirerend. Deur Suzanne Kotzé Foto’s: Kristina Stojiljkovic

Kim en Olivia Black

Terwyl ons by die Blacks se pragtige huis in Kommetjie kuier en in Kim se studio foto’s neem, val die volgende ’n mens op oor die twee se verhouding: kreatief, stylvol, pret, spontaan en teer.

Kim en Olivia se mooi rompe is van Kat van Duinen

Kim en Olivia Black se ‘saam-skildery’

“Ons het geweet watter kleure ons saam wou gebruik (baie pienk skakerings) en dat ons blomme in ’n pot wou verf.

Maar ons het nie veel meer as dit geweet of beplan nie. Die lieflike ding van saamwerk is dat een begin met een seksie en die ander met ’n ander seksie,’ vertel Kim. “Ons het net musiek aangesit en begin verf,” sê Olivia.

“Dit was ’n baie interaktiewe proses en ons het ook baie vinnig gewerk.

Na ons vorige saamskildery wat Me & B gekoop het, het ons besef dat ons twee baie meer colabs wil doen.

Olivia Black

Kim se jongste dogter Olivia is 24 en ’n finalejaar regstudent by die Universiteit van Stellenbosch, maar sy het besluit om na haar studies eerder voltyds kuns te doen as regte.

Regte, en haar passie vir impak en verandering

“Ek het ’n romantiese idee in my kop gehad, dat ek ’n verskil in die wêreld gaan kan maak deur die reg, maar dit is toe is dit nie heeltemal soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Ek het die grootste respek vir mense wat wel prokureurs is (my suster is ook ’n prokureur), maar dit is nie vir my nie.

Ek het besef dat ’n mens ’n verandering en impak kan maak, en ander mense kan help, deur enige loopbaan of werk.

As jy ’n platform het en mense om jou, kan enige iemand ’n verskil en ’n impak maak; jy hoef nie ’n pak te dra of ’n fancy graad te hê om dit te doen nie.

Ma Kim, as voorbeeld.

En met Kim as ma en voorbeeld (wat suksesvol is in haar kunsloopbaan) en self ’n impak maak, is dit geen wonder nie. “En al verf my ma meestal blomme, is dit iets wat so ’n groot impak maak op mense. Sy het so ’n ‘cool’ platform geskep, en soveel mense al aangeraak en sulke aandoenlike stories gehoor, dat dit werklik inspirerend is.

My ma gaan altyd uit haar pad uit om mense te laat goed voel. Selfs met ons huis het sy moeite gedoen om dit in ’n spasie te omskep waar mense welkom en geïnspireerd voel.

Toe ons grootgeword het, het my ma altyd kunswerkswinkels gedoen en ek onthou hoe my broer en sy vriende en ook ek en my vriende (op hoërskool) altyd na ons huis toe gekom het op ’n Vrydagaand en dan het ons net saam geverf en sulke gelukkige tye gehad.

Een van Olivia se vroegste kunsherinneringe van haar ma is dat Kim hulle gevra het om te kom verf spat en mors op haar studio (van die huis waar hulle toe gebly het) se vloer. “Sy wou hê ons moes help om die spasie ‘cool’ en kreatief te maak.’ As jy so na die foto kyk, hou Kim duidelik steeds van haar kreatiewe spasie net so.

My ma het ons grootgemaak om nie net altyd aan onsself te dink nie. Die oomblik wat jy net die heeltyd inwaarts kyk, kan jy maklik in jou eie kop verlore raak. Dit is goed en bevrydend om te besef dat alles nie net om jou gaan nie. 

Olivia se kunsloopbaan

Olivia het kuns op skool gedoen, maar sy het meestal geskets, eerder as geverf. “Ek het egter verlief geword op kleur, en ek het besef mens kan nie daardie juicy, yummy kleure kry met kleurpotlode nie. 

Ek kry gereeld die vraag of ek nie bang is om in my ma se skadu te wees nie, maar my ma is soos die son wat mense rondom haar verlig (en oplig) en ek baai in haar glorie.

Olivia Black

Ek voel nie geïntimideerd deur haar sukses nie, sy is my ma, en ek wil graag voortbou op haar nalentskap; sy het immers die kreatiewe gene aan haar kinders oorgedra.” (Olivia se ouer broer is ’n animator, en haar suster is ook kreatief).

Olivia verf graag eerder portrette, “maar ek het ook begin om nou en dan natuurgeïnspireerde werk te skep. “Natuurlik wil ek hê my werk moet anders as my ma s’n lyk, want ek het my eie styl en dit is belangrik om my eie kunsstem te hê. 

En watter raad sou Olivia aan haar ma Kim gee?

My ma is ’n baie wyse vrou. Maar soms word sy nogal senuagtig en sukkel met selftwyfel. Maar sy is so ongelooflik en suksesvol, dat dit nie nodig is nie. Maar aan die ander kant is dit ook goed om te sien sy is ook maar net mens, en dat ons almal daai oomblikke het.

Kim Black

Kim het grafiese ontwerp studeer, en fynere kuns was slegs een van haar vakke, maar grafiese ontwerp was nie vir haar nie. “My grafiese ontwerp agtergrond help my wel baie; veral as mense my vra om spesfieke kunswerke vir hulle te skep. Ek weet hoe om ’n ‘brief’ te volg, en om iets te skep waarvan die kliënt gaan hou”.

Mamma Kim

Toe die kinders klein was, het hulle baie rondgetrek. Van die Oos-Kaap na Botswana, Kaap toe (Durbanville), Engeland toe en terug Kaap toe.

“Gedurende hierdie tyd het ek net die kuns gedoen wat ek kon. Soms het ek kunsklasse of werkswinkels gegee. Soms was dit frustrerend, om nie net die heeltyd te kon kuns doen nie.

Maar soos ek dikwels vir ander jong ma’s sê:

Kies wat belangrik is op daardie tydstip. Wat die toekoms ookal inhou, of dit nou is om baie geld te maak of baie te werk, jy kan nooit daardie tyd terugkoop nie.

So kies wat belangrik is vir jou op die tydstip (en vir my was dit natuurlik my kinders).

Kinders gee ’n mens ook ’n kreatiewe uitlaatklep en ’n mens word ook meer speels as jou kinders klein is. My styl het geweldig ontwikkel toe my kinders klein was, want ek moes leer om vinnig te werk in die oomblikke wat ek kry; ek het die skilderdoek met wilde bevrylating aangepak.

Dit is belangrik om die seisoen van jou lewe waarin jy jouself bevind te omhels. Moenie baklei daarteen nie. Nou is ek natuurlik in die seisoen van my lewe waar ek baie meer tyd het.

Kim se suksesvolle loopbaan

Op die vraag oor wanneer sy ’n suksesvolle kunstenaar geword het, sê Kim: Ek het klein suksesse, soos solo-uitstallings gehad gedurende my dertigs, maar ek sou sê dit is eers vanaf my veertigs tot nou wat ek meer suksesvol geraak het.

’n Groot bydraende faktor is beslis sosiale media. In 2019 het ’n binneshuise versierder wat my op sosiale media raakgesien het, my genader om ’n groot muurskildery in die Mount Nelson hotel te doen. Dit was so ’n groot uitdaging, ek het werklik nie geweet of ek dit sal kan doen nie, maar ek het dit gedoen en dit het my drie weke gedoen.

En hierdie is eintlik my motto (al vandat ek jonk is):

Selfs as jy bang is om iets nuuts te doen, probeer dit net. Leer iets daaroor, en probeer dit net. So word jy net beter vir die volgende keer.

Kim Black

Die kreatiewe Black-familie

Behalwe vir Olivia wat kuns doen, is die kinders almal kreatief. Van haar animator-seun tot oudste prokureurdogter (wat die heel mooiste geskenke in die wêreld toedraai!).

Jy hoef nie net ’n kunstenaar te wees om kreatief te wees nie, jy kan die lewe kreatief leef.

En Kim se man (wat in die finansiële bedryf werk) is self ook betrokke by Kim en Olivia se kuns, deurdat hy al die kunsbestellings verpak en stuur.

Haar medekunstenaardogter: Olivia

“Dit is so lekker met Olivia wat ook kuns doen. Ons kan goed saam aanpak en dan voel dit nie so oorweldigend nie. Ons word saam uitgenooi na goed toe.” En nie net noodwendig kunsgoed nie, maar dinge wat met ’n kunssinnige lewe te doen het, van aantrek (albei is mal oor mooi aantrek en was juis in Me and B se winter mode-veldtog) tot die mooiste plekke wat hulle sien.

“Olivia het my ook baie gehelp met sosiale media. Aan die begin toe ek Instagram reels begin maak het, sou ek vir Olivia wys en dan sê sy: ‘Ek is al klaar verveeld’. En ons twee kan ook werklik eerlik wees met mekaar.

Ek sien so uit na volgende jaar, waar sy net voltyds kuns gaan doen en ons by mekaar kan leer.

Sy is trots op Olivia

Ek is regtig trots op Olivia dat sy haar regsgraad gaan klaarmaak. Op die kreatiewe front, is ek op trots op haar dat sy gemotiveerd bly. Dit is nie aldag maklik om selfmotivering en selfgeloof te hê nie. Elke dag sit jy iets persoonlik daarbuite met jou werk, en dit is nie altyd maklik nie.

Soos Olivia ouer word, kan ek ook sien hoe sy haar eie stem en wysheid vind met dit wat sy doen. Dit is wonderlik om te sien hoe sy groei en daar is beslis ’n trotse mamma-oomblik as ek dit sien.

Advies aan Olivia

Hou vas aan daardie stemmetjie binne-in jou.

Daar is baie stemme in die wêreld, maar daardie innerlike stem is wat jou roep na jou toekoms toe.

En ek kom dit nou agter, want ek is nou al aan die ander kant hiervan.

My wens vir Olivia is dat sy haar outentieke self kan bly en aanhou luister na daardie stem. Om aan te hou probeer (al faal jy, want dit is deel van die proses). Wanneer jy aanhou probeer is wanneer jy sukses behaal. Dit het nie net ’n impak op jouself nie, maar ook op ander mense.

As ouer persoon sien ek hoe jou sukses ook mense rondom jou beïnvloed. Dit is asof dit ander mense toestemming gee om dit wat hulle graag wil doen ook na te volg.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Oorkom jou skermverslawing
Oorkom jou skermverslawing so
error: Content is protected !!