Met al die langnaweke het ons besef dit is tyd vir nuwe smuktassies. Hier is ’n paar gunstelinge; vanaf grotes vir die van ons wat alles inpak, tot kleiner sakkies waarin net die noodsaaklikhede kan inpas. Deur Suzanne Kotzé.
Groot smuktassies
Thandana Cosmetic MAXI Bag Set Laminated Fabric (R899, Thandana.co.za)
Ek gaan minstens een keer per jaar saam met vriendinne weg vir ’n naweek en weet nou al daar is twee kategorieë smuktassie-vriendinne; die wat alles (vanaf pille tot brille en verskeie haarborsels en grimering) inpak en die wat net genoeg inpak. En ja, laasgenoemde moet dalk ’n pil of ’n haardroër leen by die alles-inpakkers. As jy in die alles-inpak-kategorie val, is hierdie stelletjie vir jou! Dit is so mooi, jy kan dit selfs net so op jou spieëltafel laat staan en net toerits as jy weggaan en moet inpak. Die prys sluit die deursigtige sakkie, een vierkantige sakkie en twee kleiner sakkies in. Dit kan selfs ’n lekker gesinstelletjie wees.
Transparent Toiletry Bag Set (R329, Woolworths)
’n Deursigtige stelletjie is baie gerieflik om te sien presies wat jy wel (en wat jy nie) ingepak het (nie).
Ooprol smuktassie
Mr Price Makeup Bag (R149,99)
Hierdie tipe ooprol smuktassies bly een van my gunstelinge. Ek is daardie persoon wat dadelik wil uitpak as ek iewers kom. Hierdie sakkie maak dit maklik, want jy hang dit net in die badkamer en alles is ‘uitgepak’ en byderhand.
Kleiner smuktassie
Small Toiltery Bag (R240, A love Supreme)
Hierdie smuktassies is ideaal vir die wat daarvan hou om net die nodige te pak. Dit is groot genoeg vir jou standaard-grootte skoonheidsprodukte. Dit is ideaal vir een aand weg. Dit is ook ’n wonderlike keuse vir mans of kinders. Dit is in ’n wye verskeidenheid ontwerpe beskikbaar, vanaf wilde diere tot blare. Ek gaan sommer nou bestel vir my man en kinders, want ek is moeg dat my smuktassie vol van almal se goed is!
Inpak wenk
Ek gooi nooit toetsgrootte-skoonheidsprodukte weg nie – die klein botteltjies wat jy soms gratis kry of die klein koevertjies. Ek het ’n houertjie waarin ek alles bêre en pak hiervan in wanneer ek weggaan vir ’n naweek. Dit is ideaal wanneer jy min spasie het vir pak of nie wil swaar dra as jy vlieg nie.
Lees ook: Op ons wenslysie; pragtige oornagsakke