Martelize Brink deel meer met ons oor haar liefde vir braai; wat sy reken ‘al in haar ma se baarmoeder moes begin het’ en haar nuutste resepteboek ‘Oor die kole’. Deur Suzanne Kotzé
16/09/2022
Martelize Brink en haar liefde vir braai
“Ek dink die reuk van ’n braai het my al in my ma se baarmoeder gelukkig gemaak,” vertel Martelize. Haar pa (die bekende kosskrywer Martie Brink) het ’n geweldige passie vir kosmaak en natuurlik veral braai en potjiekos gehad. “My pa het vier resepteboeke in die 80’s daaroor vrygestel. Daardie liefde is by my van kindsbeen af gekweek.”
Braaiterapie
“Die reuk van ’n vuur maak my letterlik gelukkig. Ek dink feromone word afgeskei wanneer ek ’n vuur ruik! Voor ’n vuur is daar altyd geselskap;.of jy nou met vriende en familie die lewe vier en of jy rustig op jou eie met die vlamme gesels. Buiten die liefde vir ’n vuur smaak kos wat oor die kole gaargemaak is net soveel beter. ’n Tjoppie wat in die oond gaargemaak is, is lekker, maar het nie naastenby die geur van ’n tjoppie wat oor die kole gaargemaak is nie.”
Martelize vertel dat sy braai geweldig terapeuties vind.
“Daar is ’n groot sielkundige voordeel wanneer ’n persoon afskakel rondom ’n gesellige vuur.
Dit het menige mens deur die drif getrek wat elke week die stressors van die lewe in die gesig staar. Wanneer jy braai haal jy dieper en rustiger asem.”
Martelize en haar kêrel Marius om die vuur
“Ons steek die vuur ten minste drie keer per week aan. Die meeste weke vier keer. Dis ons gunstelingtyd van die week. Ons braai so saam-saam. Hy geniet dit so om die vuur aan te steek, ek laat dit aan hom oor.”
Martelize vertel dat daar gereeld vir haar gevra word: ‘Braai jy of Marius?’ “Ek dink nie dieselfde vraag sal vir ‘n man gevra word nie. Dis ook oukei. Ons kyk altyd saam na die temperatuur van die kole vir die spesifieke vleisstuk en of dit gaar is. Nie een van ons sit met ‘n ego om die braai nie.”
Wat is op die Braaidag-spyskaart?
“Oe, ek wil alles braai! Definitief ’n braaibroodjie. Ons bederf onsself nie gereeld daarmee nie. Ek dink ook dis weer tyd vir ’n stadige staanrib.”
Martelize Brink se boek ‘Oor die Kole’
‘Oor die kole’ word beskryf as ’n “om-die-vuur-kosboek met resepte vir elke okkasie in die buitelug: van ’n boere-ontbyt of kaalvoetkuier om die braaivuur saam met jou hartsmense tot ’n fynproewerfeesmaal met dekadente soetgoed.” Ons monde water nou vir die heerlike geregte.
Die boek is in meeste boekwinkels beskikbaar en jy kan ook ‘n getekende boek as geskenk by Martelize direk bestel.
Visburgers uit ‘Oor die kole’
Dié burgers is perfek vir braai én banting. Dit benodig geen meel of broodkrummels nie en danksy die vis se tekstuur val dit nie uitmekaar nie. Geurig en gewaarborg om selfs gaste vol fiemies te beïndruk!
GENOEG VIR 4 MENSE
700 g salm of forel, vel verwyder
2 e dijonmosterd, opgehoop
2 knoffelhuisies, gerasper sout en peper na smaak 1 klein uitjie, baie fyn gekap
1 e suurlemoensap fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
hand vol pietersielie of dille, fyngekap
olie vir smeer
1. Sny die helfte van die salm of forel in klein blokkies en hou eenkant. Plaas die ander helfte met die mosterd en knoffel in ’n voedselverwerker. Blits tot dit amper ’n pateetekstuur verkry.
2. Meng die blokkies vis met die patee. Voeg sout, peper, ui, suurlemoensap en -skil asook pietersielie of dille by en meng deur.
3. Plaas ’n bietjie olie op jou hande en vorm die mengsel in 4 burger-viskoekies (patties). Plaas op ’n oliegesmeerde bord en laat in die yskas rus tot jy gereed is om te braai.
4. Maak jou rooster lekker warm oor kole met ’n hoë hitte. Braai die viskoekies direk bo-op jou rooster (nie binne-in die rooster nie) by matig hoë hitte vir 1 minuut aan elke kant. Jy wil dit nie oorgaar maak nie.