Wanneer ’n geliefde uit jou lewe geruk word, kan dit voel asof ’n oop wond hom in jou hart hom tuismaak. Een wat stadig die lewe uit jou kan leegtap en jou laat voel of die lewe alle kleur verloor. En tog, bittersoet, hou die lewe aan om vorentoe te beweeg.
Rouverlies is ’n proses waardeur elkeen van ons een of ander tyd sal gaan. Sommige word lank daarvan gespaar, maar op ’n stadium ervaar elkeen dit. Hoewel elke persoon hulle eie padkaart vir rouverlies gaan vind, is hier vyf maniere hoe om die lewe met rou te navigeer. Deur sielkundige Gerda Kriel
1. Laat jouself toe om te rou
Skep vir jouself tyd en toestemming om te rou. Rouverlies gaan met ongelooflike swaar en moeilike emosies gepaard, en daarom is dit vir ander mense soms so ongemaklik om rondom mense te wees wat rou. Ongeag goed-bedoelde raad en advies is dit ongelooflik belangrik vir jou om te besef dat jy jou proses moet beskerm. Jy mag huil, jy mag kwaad wees, jy mag selfs voel asof jy wil hê die wêreld moet gaan staan. Jou proses behoort aan jou.
Skep tyd, skep ruimte, en maak tyd om jou emosies te voel en verwerk.
2. Kommunikeer jou behoeftes aan die mense naaste aan jou
Dis belangrik om te weet dat elke persoon rou anders ervaar. Dit beteken dat jy nie kan aanneem dat ander mense weet wat jy nodig het nie. Soms gaan jy praktiese hulp nodig hê, soos kos, of iemand om jou kinders op te laai. Vra jou vriendinne, lewensmaat of familie vir daardie praktiese dinge.
Maar kommunikeer ook jou emosionele behoeftes, sonder om te verwag ander moet dit vir jou beter maak. Soms gaan jy net nodig hê dat iemand langs jou sit, en soms gaan jy iemand nodig hê op wie se skouer jy kan huil. Verduidelik jou behoeftes, sodat jou geliefdes weet hoe hulle jou kan ondersteun.
3. Kyk na jou fisieke gesondheid
Om jou eie fisieke gesondheid te prioritiseer, stel jou meer in staat om jou emosies op ’n gesonde wyse te verwerk, en dit is belangrik om jouself in gesonde roetines te hou. Maak tyd om te oefen, al is dit net stap. Eet so gesond as wat jy kan. Slaap. Wanneer jy jou fisieke liggaam ondersteun, is jy meer gereguleerd en kan jy op so ’n manier ook jou emosies meer toepaslik verwerk en uitdruk.
4. Praat. Skryf. Sing. Kry dit net uit.
Sommige mense wil praat om die trauma van rouverlies te verwerk. Ander wil met niemand praat nie, en skryf eerder joernale vol, of skep die mooiste poësie van hulle pyn. Vind jou eie stem, vind die manier hoe jy dit wil verwerk, en maak genoeg tyd om werklik uiting te gee aan jou pyn.
5. Vind jou gemeenskap
Kry mense in jou binnekring op wie jy kan steun. Dit kan vriende, familie of selfs professionele hulp wees. Ek vind so dikwels in my praktyk dat mense soms in isolasie probeer rou, en dat dit die hele proses verleng en bemoeilik.
Dit is ongelooflik belangrik vir jou om ‘n ondersteuningsisteem te bou op wie jy kan staat maak en waar jy onbeskaamd jou emosies in ‘n veilige plek kan uitdruk en verwerk.
Dis so belangrik, as jy voel dat jou rouverlies jou normale funsionering vir langer as ses weke inperk, om professionele hulp te soek. Soms kan die omstandighede rondom iemand se afsterwe, of die aard van die verhouding, die proses moeiliker maak, en dit kan wys wees om jouself toe te laat om met iemand onpartydig en empaties te gesels. Neem ook hierdie woorde ter harte as jy iemand ken wie rouverlies ervaar, en onthou – jy kan dalk hulle hande sterk maak in ’n tyd wanneer hulle bitterlik alleen voel.
Luister gerus na Gerda se podgooie oor rou Intentional Grief en Navigating Grief op

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com
Luister gerus na haar podgooi ‘That Intentional Life‘ op Spotify Volg That Intentional Life op Instagram





