Hierdie is die natuurlike lipkleure vir elke dag se dra (almal met ’n effense koraal/appelkoos ondertoon) wat ek in my verskeie handsakke rondra. Die staatmaker lipkleure wat by alles pas en lekker voel op jou lippe. Deur Suzanne Kotzé
Al is ek hoe lief vir my rooi lippe, is dit op die ou end tog natuurlike lipkleure wat ek die meeste dae dra. Veral as jy jou masker afhaal en net vinnig lipstiffie wil aansmeer. Hierdie lipstiffies moes ek in my handsakke gaan soek, hulle is die wat saamgaan en nie in my grimeerlaatjie agterbly nie!
Ek het jare gelede die grimeerkunstenaar Bobbi Brown ontmoet by New York se modeweek. Ek onthou goed hoe fanaties sy daaroor was dat die vleiendste kleur lipstiffie die kleur is wat een of twee skakerings donkerder as jou natuurlike lipkleur is. ’n Mens is geneig om te dink ’n bruinerige lipstiffie is natuurlik. Dit kan jou egter baie bleek en uitgewas laat lyk. Ek verkies altyd ’n natuurlike lipkleur met ’n koraal- of appelkoos ondertoon.
Natuurlike lipkleure
Burt’s Bees Lip Shimmer in Apricot (R99)
Ek het al oor hierdie een geskryf, en dit bly een van my heel gunstelinge om te gebruik. Die lipbalsem (wat onder andere byewas, galambotter, en sonneblomolie bevat) bevogtig jou lippe, en die kleur lyk soos die van ’n lipstiffie. Die peppermentgeur voel heerlik vars, so asof jou lippe effens tintel.
MAC Glow Play in 451 Sweet Treat (R265)
Hierdie word ook eerder as ’n lipbalsem beskryf deur MAC. Dit bevat galambotter, mango en jojoba-saadolie en bevogtig jou lippe heerlik. Die kleur is glansend en dit voel heerlik sag.
Revlon Revlon Ultra HD Gel Lipcolor (R195)
Hierdie lipstiffie met die langer vorm wend so maklik aan, dit is asof dit die perfekte grootte vir jou lippe is. Dit bevat hialuroonsuur, wat dit baie bevogtigend maak. Dit het glo ’n deursigtige jelbasis met ’n hoë konsentrasie pigment daarin. Ek is gaande oor die kleur, dit is effens ‘bruiner’ as die res van die lipstiffies, maar dit laat jou nie soos ’n lyk, lyk nie.