skoonheidsprodukte
skoonheidsprodukte

Nuut op die Stylvol-spieëltafel

Hierdie nuwe produkte het onlangs op die Stylvol-spieëltafel beland. Van die lekkerste lipsalf tot oogroom, afskilferaar en ’n strelende serum. Deur Suzanne Kotzé

18/03/2022

Op die Stylvol-spieëltafel

Exuviance Soothing Recovery Serum (R1050, Dermastore)

Namate ek ouer word, voel dit asof my vel beslis rooier word. Ek skrik altyd as ek ’n foto van myself sien en dink dan ‘ek het nie eers ’n glas wyn gedrink nie’ en my wange is rooi! En ek weet dit is ’n kombinasie van sensitiwiteit (onder andere as gevolg van die konstante toets van skoonheidprodukte) en veroudering wat dit veroorsaak.

Die nuwe Exuviance Soothing Recovery Serum is ’n ryk serum, speisiaal vir sensitiewe velle of vir na ’n kosmetiese prosedure. Dit bevat verskeie kruie en alg-ekstrakte wat help om jou vel te versterk, jou vel se reaksie op die snellers van sensitiwiteit te verminder, dit minder rooi te laat lyk en om jou vel te kalmeer.

Die tekstuur is heerlik strelend en vir my voel dit ryk genoeg dat ek nie ’n bevogtiger hoef te gebruik nie. Ek gebruik dit, gevolg deur sonskerm (bedags) en saans voor my nagroom. Ek weet dit help ook om my sperfunksie te herstel, sodat my vel meer bevogtig en minder droog voel. En ek kan beslis die verskil voel. Ek kan dink dat hierdie ook ideaal is vir die Gautengse en Vrystaatse winters se droë lug.

NeoStrata Glycolic Microdermabrasion Polish (R1130, Dermastore)

’n Glansende vel bly een van my grootste veldoelwitte. En ongelukkig word ons velle net dowwer soos ons ouer word. Dit is as gevolg daarvan dat ons velle se natuurlike velhernuwingsproses (soos baie van ons se metabolisme ook) al hoe stadiger word. Gereelde afskilfering help nie net om jou vel meer glansend te laat lyk nie nie, maar moedig ook selhernuwing aan. Natuurlik help dit ook dat jou skoonheidsprodukte (soos jou serum en bevogtiger) beter penetreer.

NeoStrata Glycolic Microdermabrasion Polish bevat 10% glikoliese suur wat help met velhernuwing en die produksie van kollageen en elastien wat help om jou vel helderder te laat lyk en help ook met tekstuur. Dit bevat ook laktobioniese suur (PHA) wat help met ’n plomper en fermer vel. Gebruik dit twee tot drie keer per week op ’n skoon, nat vel. Masseer dit LIGGIES vir so twee minute voordat jy dit afspoel met louwarm water. En onthou om jou gesig net droog te druk, en nie te vryf na dit tyd nie.

Litchi & Titch Rose Geranium, Lavender & Mint Lip Balm (R95, Fatithul-to-nature)

Toe ek hierdie lip balsem uit die Litchi & Tich pakkie haal wat ons ontvang het, het ek dadelik geweet dit is ’n moet vir Justine. Justine het onlangs Roaccutane begin gebruik vir haar vel en sy sukkel met droë lippe as gevolg daarvan. Ek onthou so goed hoe droog my lippe ook op hoërskool was toe ek Roaccutane gebruik het.

Papaja-ekstrak, ’n baie gewilde bestanddeel in verskeie skoonheidsprodukte, het ’n Afrika- kinkel gekry deurdat Baobab-ekstrak bygevoeg is. Saam help dit om droë lippe te heel en herstel. “Dit voel heerlik strelend op my lippe en bly nou sommer in my handsak,” sê Justine.

Filorga Time Filler Eyes (R644, skinmiles.com)

Volgens Filorga help hierdie Time Filler Eyes oogroom nie det vir plooie, donker kringe en ooglede wat hang nie, maar dit bevat ook ’n spesiale bestanddeel (pro-vitamien B5) wat jou wimpers dikker laat lyk!

Ek is nie so fluks soos Justine as dit by vals wimpers kom nie, so ek is altyd op soek na iets wat my wimpers laat voller lyk, en juis hierom het die oogroom my aandag getrek. Vandat ek die room gebruik, lyk my plooitjies vir my minder opsigtelik (hulle is natuurlik steeds daar) en dit wil amper vir my lyk asof die tekstuur van my ooglede ook beter is. Dit voel of my oogskadu gladder aanwend. En ek mag my dalk verbeel, maar dit lyk vir my ook asof my wimpers voller lyk!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Isabel de Villiers runway
Isabel de Villiers se klerekuns
error: Content is protected !!