Laat jou hipersensitiewe vel jou ook raadop voel? Een oomblik is alles nog reg en die volgende oomblik slaan jy in ’n rooi gloed uit of jou vel jeuk en brand onophoudelik! Hier is ’n dermatoloog se raad. Deur Suzanne Kotzé
Maar eers, wat is sensitiewe vel?
Dokters sukkel soms (in die algemeen) om sensitiewe vel te diagnoseer. Dekades lank het navorsers en medici gesukkel met ’n definisie vir sensitiewe vel. Die International Forum for the Study of Itch (IFSI) het onlangs hierdie definisie gegee:
“Sensitiewe vel is ’n sindroom wat gedefinieër word deur die voorkoms van ongemaklike sensasies soos
- stekerigheid,
- branderigheid,
- pyn,
- jeuk
- en prikkeling.
Dit vind plaas in reaksie op stimuli wat normaalweg nie sulke sensasies behoort te veroorsaak nie. Hierdie sensasies kan nie toegeskryf word aan enige velsiektes nie – velsiekte is dus uitgesluit. Die vel kan normaal lyk, maar kan ook rooi wees. Sensitiewe vel kan op die hele liggaam voorkom, maar veral in die gesig.
Wat is die verskil tussen sensitiewe en hipersensitiewe/reaktiewe vel?
Kaapse dermatoloog, dr. Suretha Kannenberg, verduidelik dit as volg:
’n Hipersensitiewe of oormatige reaktiewe vel vind ons wanneer die vel buitengewoon sensitief is vir gewone stimuli. Dis ’n moeilike toestand om te beskryf. Dit is hierdie vae, maar baie algemene konsep wat pasiente telkens ervaar (dus subjektiewe simptome) sonder duidelike fisiese tekens. Daar kan soms vlietende rooiheid van die vel wees wat ’n mens sekerlik tot ’n mate gerusstel omdat dit bevestig dat dit nie net in jou kop is nie. Maar selfs sonder die rooiheid is dit ’n baie ongemaklike toestand.
Dis onvoorspelbaar, het algemeen moeilik beheerbare snellers (soos emosies, wind en omgewings-/ temperatuursveranderinge) en maak dat ’n mens naarstiglik van een produk na die ander spring in die hoop dat iets sal help.
Dermatoloog, dr. Suretha Kannenberg
Hierdie mense het gewoonlik kaste vol produkte, waarvan byna elkeen hul vel irriteer. ’n Mens koop dit in die hoop dat dit gaan help, maar loop telkens ’n bloutjie wanneer daardie produk ook dan die vel se hipersensitiwiteit vererger.
Dr. Kannenberg noem ook dat sy ’n studie gelees het wat aandui dat hipersensitiewe vel twee keer meer algemeen was by mense wat aan prikkelbare dermkanaalsindroom ly. “Dit wys dat daar ’n duidelike korellasie met die senuweestelsel is.”
Die verskil tussen sensitiewe vel en ekseem, rosacea en psoriase
Dr. Kannenberg verduidelik:
Sensitiewe/hipersensitiewe/oorreaktiewe/intolerante vel
is ’n groep simptome, met of sonder rooiheid, wat soms duidelike snellers het, maar in die algemeen nie. Dit kan baie onvoorspelbaar wees en lei tot geweldige frustrasie – vir die pasient, maar ook vir die dokter. Dit is ’n diagnose van uitsluiting – dus moet ander veltoestande eers uitgeskakel word. Alhoewel dit tog wel saam met toestande soos ekseem en rosacea kan voorkom. Dit is baie algemeen, maar is tog baie moeilik om te diagnoseer.
Ekseem (meer korrek: atopiese ekseem)
is ’n chroniese veltoestand gekenmerk deur ’n geweldige jeukende en droë skilferende vel. Dit onwikkel as gevolg van ’n komplekse interaksie tussen genetika en die omgewing. ’n Klassieke aspek van die toestand is ’n abnormale ingekorte sperfunksie (skansfunksie) en die ooraktiewe immuunsisteem. Atopiese ekseem kom algemeen saam met hooikoors, chroniese sinusprobleme en asma voor. Dit mag soms ook saam met voedselallergieë voorkom. Ekseem is die veltoestand met die grootste impak op kwaliteit van lewe van alle nie-dodelike veltoestande.
Rosacea
is nog ’n chroniese inflammatoriese veltoestand, gekenmerk deur herhalende episodes van ‘flushing’ wat, as dit onbeheersd voortgaan, permanent kan raak. Hierdie toestand ontvang tans, soos met atopiese ekseem, baie aandag in die navorsing. Dis weereens die gevolg van ’n interaksie tussen genetika en omgewing. Histories vind ons verskillende vorms daarvan – deesdae word meer aandag geskenk aan watter spefieke velklagtes die meeste hinder. Aan die een kant van die spektrum kry ons erge rooi en warm wange, met gedilateerde bloedvaatjies wat algemeen saam met ’n fyn skilfering voorkom. In hierdie vorm speel die sperfunksie ’n groot rol. Veral hierdie vorm van rosacea word gekenmerk deur ’n baie sensitiewe vel. Verder in die spektrum kry ons addisioneel tot die rooiheid pynlike rooi puisies wat soms kan oorgaan in geswelde en geindureerde vel. Wanneer hierdie ekstreme vorm op die neus ongewikkel (die algemeenste area) noem ons dit rinofeem.
Psoriase
is nog ’n chroniese inflammatoriese veltoestand wat gekenmerk word deur geindureerde rooi letsels met groot silwerwit skilfers. Dit kom algemeen op elmboë, knieë en kopvelle voor en kan ook die naels en die gewrigte aantas. Hierdie toestand het ook ’n genetiese agtergrond. Dit word egter nie gekenmerk deur ’n sensitiewe vel nie.
Waar kom die meeste sensitiwiteit voor?
Die meeste mense wat met sensitiewe vel sukkel (60-70% van vroue en 50-60% van mans) ondervind groter sensitiwiteit in hul gesigarea.
Dit kan toegeskryf word aan
- meer produkte wat op die gesig gebruik word (veral vroue)
- ’n dunner sperfunksie
- meer senuweepunte in die gesigarea
Die mees algemene sensitiewe areas van die gesig

- nasolabiale voue (die voue aan die buitehoeke van jou neus tot jou mondhoeke)
- die verhewe deel van jou kakebeen
- die voorkop
- en bolip
Menstruasie en menopouse; so beïnvloed ons hormone velsensitiwiteit
Dr. Kanneberg deel: “Dit is inderdaad waar dat hormone die vel ekstensief beïnvloed. Een van die redes daarvoor is waarskynlik dat die sperfunksie ’n nou verband het met hormoonvlakke, maar so ook beïnvloed hormone die sensitiwiteit van die velsenuwees.”
Jou vel kan meer sensitief wees gedurende menstruasie. “Ek vind baie algemeen dat dames se velle baie meer sensitief is vir estetiese prosedures kort voor menstruasie, vertel dr. Kannenberg.
Jou siklus, saam met ander oorsake soos die weer, lugversorging, skoonmaak en persoonlike sorgprodukte en klere kan dit vererger. Die helfte van vroue voor menopouse se velsensitiwiteit is erger gedurende mensturasie. So wys ’n studie gedoen deur Falcone et al. Dieselfde studie bevind dat meer as 70% van vroue groter velsensitiwiteit ervaar na menopouse.
Die belangrikheid van ’n gesonde sperfunksie
Jou vel se sperfunksie is ’n beskermende lagie bo op jou vel wat onder andere irritante, koue, hitte en wind buite hou. As jy egter sensitiewe vel het, is jou sperfunksie foutief en kan dit nie genoegsame beskerming bied nie en van die irritante dring makliker deur.
Die boodskap wat na jou brein gestuur word
Sodra die irritante deurgedring het, is daar senuweepunte en reseptore wat vir jou brein ’n boodskap stuur. Met normale vel is die sensasie gewoon, maar omdat die senuwees oorsensitief en oorreaktief is, word meer boodskappe na jou brein gestuur met onbenullige of selfs sonder snellers. Die boodskap van ongemak, hitte, styfheid en branderigheid word oorgedra. (Irritante is een van die aspekte. Die senuweepunte is inherent meer sensitief vir normale stimuli.) Terselfdertyd dilateer bloedvaatjies as gevolg van hierdie ooraktiewe senuweestimulasie wat verder tot rooiheid en meer hitte kan lei.
6 Leefstylwenke as jy hipersensitiewe vel het
Dr. Suretha Kannenberg deel:
1. Probeer snellers identifiseer en dan vermy
Dit kan bitter moeilik wees; hoe vermy ’n mens spanning? Of wind? Onthou dat dit selfs huishoudelike produkte of haarkleur (veral die wat ammoniak bevat) kan wees.
2. Gebruik eerder nie-irriterende kosmetiese produkte
Produkte met so min as moontlik aktiewe bestanddele. Hou egter steeds in gedagte dat huidige regulasies nie maatskappye verplig om al die bestanddele op verpakking aan te dui nie – ongelukkig.
As hierdie eenvoudige produkte (ek praat altyd van ‘babakos vir die vel’) boonop nog produkte bevat wat die onaangename sensasies teenwerk of blok, des te beter!
Gesigwas moet strelend wees. Vermy growwe fisiese afskilfering. Eerste prys is om toetsgroottes te kry om te sien of jou vel hou van die produk of nie. As ons spring van een produk na ’n ander kan dit die probleem vererger. Vermy produkte met preserveermiddels, vrugtesure, kleurstowwe en parfuums.
3. Vermy die son
Die son (die hele UV spektrum – onthou ook alle tegnologie en skerms!) is ook betrokke in die ontwikkeling van hierdie toestand. So maak seker om die son te vermy, beskermende kleredrag (hoed) te dra en ’n goeie sonskerm (ten minste SPF30, verkieslik meer) aan te wend. Hou in gedagte dat ’n sonskerm natuurlik ook ’n sneller kan wees. Soek die regte een vir jou: veral die sonskerms wat slegs minerale bevat of die wat goedgekeur is vir gebruik vir kinders is goeie opsies. Jou dermatoloog kan jou hiermee help.
4. Beheer jou spanning
Spanningshantering meganismes moet nooit onderskat word nie. Professionele hulp is altyd ’n goeie idee.
5. Bly goed gehidreer
’n Gedehidreerde liggaam gaan bydra tot verdere sper (skans)-disfunksie.
6. Soek die regte dokter
Soek tot jy ’n praktisyn vind wat jou kan help – moenie moed verloor nie!
Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ‘n aanlyn konsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za