Lentelippe; die mooiste lipkleure om nou te dra
Wees gereed om jou lentelippe helder skakerings van pienk, rooi en koraal te verf. En ’n moet saam met die helder kleure is ’n glansende vel. Deur Suzanne Kotzé
22/09/2023
Lentelippe pasmaats
Dou-agtige, glansende vel
’n Glansende (ook bekend as glow) vel saam met helder lippe is ’n groot trend op die oomblik,” sê bekende grimeerkunstenaar Reneé de Wit. “Vir hierdie voorkoms is dit beter om balsam- en roomteksture eerder as poeier te gebruik.”
Vergeet van harde kontoerlyne vir somer en lente, want nog iets wat groot nuus is, is ‘underpainting’. Volgens hierdie tegniek (bekend gemaak deur grimeerkunstenaar Mary Phillips) wend jy eers jou kontoerprodukte, verbronsingsroom en blosser aan, voordat jy jou onderlaag aanwend. So lyk jy meer natuurlik en glansend.
Bloesende wange
Skoon, natuurlike grimering met bloesende wange en helder lippe is ook goeie pasmaats. Kies gerus ’n roomblosser, wat die voorkoms ekstra vars sal laat lyk. (Psst, jy kan selfs langaanbly lipstiffie ook aan jou wange tik as jy nie ’n roomblosser het nie). Onthou om jou wange en lippe in dieselfde kleurfamilie te hou. Pienke en rooie saam, en warm perskekleure saam. Met ander woorde, rooi of pienk lippe saam met pienkerige wange en koraal lippe saam met perskekleurige blosser.
“Haley Bieber se ‘strawberry’ voorkoms is ook nou baie gewild,” sê Reneé. Verskillende skakerings roomblossers, faux sproete (ingeteken) en glansende, natuurlike lippe (wat lyk asof jy sopas ’n aarbei klaar geëet het). Lippe word omlyn met ’n natuurlike kleur lippotlood, roomblos word ook aan die lippe getik gevolg deur lipbalsem.
Kyk hoe Haley die voorkoms skep hier:
Helder pienk lippe

Ons sê Barbiecore pienk is vireers hier om te bly!
Die grimeervoorkoms is geskep om by die ‘Secret Garden’ gevoel van Carolina Herrera se SS23 se modeweek vertoning te pas. Douagtige vel, met bloesende wange en pienk skakerings is deur Carolinne Herrera se globale grimeerkunstenaar Lauren Parsons geskep. Kyk hoe die die grimeervoorkoms geskep is hier.



Rooi lippe

Klassieke rooi lippe sal nooit, ooit uit die mode gaan nie. Gebruik gerus jou ringvinger en tik dit liggies in die middel van jou lippe aan, as volrooi lippe vir jou te veel is vir elke dag.


Koraal lippe

Koraal lippe voel nou maar eenmaal soos somer! Dit laat ons dink aan eilandvakansies en lang drankies. Onthou as jy geneig is om effens rooi te word (jou vel het ’n koue ondertoon) kies ’n koraal wat meer van ’n koue ondertoon het, terwyl warm ondertone weer goed lyk met warm koraalskakerings.


