Vir Amalia Uys het tyd en oefening in die natuur’n ontwyfelbare direkte uitwerking op haar geestesgesondheid. Of dit nou lang staptogte, draf, yskoue seewaterswem, meditasie of net ’n piekniek saam met vriende is. Deur Suzanne Kotzé
22/01/2024
Die vakansiestaptog wat Amalia Uys se jaar ge‘kickstart’het
Ons het so twee jaar gelede vir die eerste keer die Outeniekwa-staproete gaan stap saam met ’n paar ander Afrikaanse vriende (soos Beer Adriaanse, Carla Smith, Marguerite van Eeden en vele ander vriende). Dit is waar die hike-gogga my gebyt het. Ek het nooit eintlik gedink ek gaan so vêr kan stap vir ’n paar dae agtermekaar nie.

Laasjaar het ons die Otter gestap saam met ’n paar van my man, Sean, se vriende.

Vanjaar het ons weer die Outeniekwa gestap saam met ’n paar Engelse vriende. Dit was net amazing. Dit was ’n wonderlike manier om die jaar te kickstart.
’n Minimalistiese bestaan in die natuur sorg vir behoorlike afskakel
Met vakansie rus ’n mens, maar ’n mens moet tog ook altyd beplan; wat moet jy eet, dra ens. Met ’n staptog soos hierdie is ’n mens net die hele tyd in asemromwende, beeldskone natuur. Die beplanning vind ook vooraf plaas, en dan het jy ’n vreeslike minimalistiese bestaan vir ’n paar dae.
Jy weet wat jy gaan dra en wat jy gaan eet en alles is by jou in jou rugsak. En al wat jy moet doen is om jou een voet voor die ander voor mekaar te sit en die natuur geniet en die geselskap om jou te waardeer.
Ons was ’n heerlike uiteenlopende groep vriende, meestal entrepeneurs, en almal geweldig interessant en ons het net heerlik ontspan en saam die natuur geniet.
En tyd weg van fone, sosiale media en nuus het natuurlik gehelp dat ’n mens nog meer afskakel.
Kinderlike verbeeldingsvlugte in die natuur
Om in ’n woud te stap is amper soos om weer terug te keer na jou kinderdae se verbeeldingswêreld. Jy kan sien wat mense geïnspireer het om te dink aan die bestaan van feetjies en trolle en towenaars, al die magiese fantasiewêreldkarakters. ’n Mens kan dit sommer so sien in die woud met al sy vorms, skaduwees en teksture wat teenwoordig is.
As ek so in die woud is, gaan my verbeelding heeltemal op hol en ek verbeel myself ek is ’n bosnimf wat haar koninkryk verken.
Skoon en kalm en reg vir die jaar
Dit was regtig ’n wonderlike reset vir die jaar. Toe ons terugkom was my kop skoon en kalm, en dit is regtig lekker om die jaar so te begin.
En om in die bergpoele te kon swem was so fantasties. Ons het ook gesien hoe ’n boom omval, en dit is ook nie iets wat jy elke dag sien nie.
Die natuur is terapeuties en goed vir jou geestesgesondheid
Soos ek ouer word, spandeer ek meer en meer tyd in die natuur, want ek besef hoe belangrik dit is. Hoe die vars lug help om depressie en moegheid te beveg.
Geestesgesondheid lê my baie na aan die hart. Hoe ouer jy raak hoe meer in ‘tune’ raak jy met daai stem wat vir jou sê wat goed is vir jou en wat minder goed is vir jou. Ek was nogal ’n wild child in my jonger dae en ek was baie rebels en eksperimenteel. Hoe ouer ek raak, is dit hoe suiwerder, hoe beter.
Hoe mooier ek na myself kyk, hoe meer ek oefen en tyd in die natuur deurbring, hoe gesonder ek eet, hoe meer natuurlik ek in die algemeen te werk gaan, hoe beter vir my en hoe rustiger laat dit my voel.
En ons sê altyd hoe lui jy is, of hoe moeg jy ookal is, of jy voel dalk dit is ’n schlep, ’n mens is nooit spyt oor tyd wat jy in die natuur deurbring nie.
Oefening in die natuur
My leefstyl het so verander nadat ons in 2016 Kaap toe getrek het. Ek het my gymnasium- lidmaatskap gekanselleer, omdat ’n mens hier baie meer tyd in die natuur spandeer.
Ek gaan so drie keer per week na ’n jogastudio toe; ek is baie lief vir joga, en probeer dit prioritiseer as ek tyd het. Ek wissel dit af met draf (ek is stout vir ’n draffie!) of ’n stap as ons rustig wil wees en dan ’n getypoel of seeswem na die tyd. Ons is so ’n swemgroepie wat al vir ’n tyd lank in Clifton swem. Dit was altyd getypoele, maar deesdae, met besoedeling, swem ons ook in die oop see.
Natuurlike ontspanning
Ontspanningstyd in die natuur is gewoonlik in die vorm van ’n piekniek of op die strand lê met ’n boek. As rooikop kan ek natuurlik nie lank in die son bly nie. As ek eers een keer in die water was, is dit ’n probleem, want dan moet ek van voor af sonskerm aansmeer.
Ons is in ons wese deel van die natuur
Deur meditasie of refleksie in die natuur te doen, herinner dit ’n mens ook net weer dat ons in ons selle en weefsel deel is van die natuur.
En soos jy is, is jy heel, in hierdie vorm, in hierdie lyf, en in hierdie hoedanigheid en op hierdie planeet, al is jy ’n gebroke mens. Tyd in die natuur kan ongelooflik helend wees, deur kwesbaarhede en kwellinge aan te spreek.
In ons moderne Westerse samelewing vergeet ons maar te dikwels hoe deel ons van die natuur is.