Die tyd het aangebreek om ons helder somer naelskakerings te verruil vir skakerings wat ons vermoed dié winter groot nuus gaan wees. Winter se naelskakerings het ons omtrent opgewonde vir naelafspraakdae met skakerings van donkerrooi, smaraggroen tot sjokoladebruin en dierepatroon naels. Bêre gerus hierdie nael-inspirasie vir jou volgende naelafspraak. Deur Justine Kroes
03/05/2024
10 Winter nael-inspirasie-idees om te probeer
1. Sjokoladebruin tot “latté” bruin
Bruin is in, van diep donkerbruin skakerings tot ligter sjokolade bruin en selfs nog ligter “latté” bruin (dink aan melkerige koffie). Hierdie skakerings van bruin word moontlik as winter 2024 se mees gewilde naelkleur beskryf. Op Tik Tok staan hierdie naeltrend ook bend as “chocolate milk nails”.
As jy huiwerig is vir die donkerste bruin – begin met ligter (melkerige bruin) skakerings.
Ons sien reeds hierdie versoek in ons volgende naelafspraak: ’n ombré naelstapel van ligbruin tot donkerbruin op elke verskillende nael.
2. Juweelskakerings
Verlede jaar was die helder (Bottega Venneta) groen nael skakering die kleur om te dra – vir hierdie winter verruil ons hierdie helder groen vir donkerder smarraggroen skakerings. ’n Diep juweelgroen op naels het ons opgewonde en ons kan nie wag om dit te toets nie.
3. Skakerings van rooi
Helderrooi (dankie Mob Wife Aesthetic!) tot diep donker en bessierooi skakerings is vir die winter ’n vuurwarm skakering om te kies.
As jy dalk terugverlang na jou helder somernaels iewers tydens hierdie lang koue winter wat voorlê – kies gerus ’n stopstraatrooi helder naelskakering wat enige grys en grou winterdag sal ophelder.
4. ‘Yserige naels’
Hoewel die skakering al die afgelope jaar ’n gunsteling versoek in naelsalonne regoor die wêreld is – bly dit steeds gewild. Almal ken dit as die “glazed donut” naeltrend. Ons is self steeds aanhangers van hierdie naelvoorkoms met daardie tikkie pêrelagtige glans wat omtrent net in sonlig so effens sigbaar is.
Hierdie winter roep naelkenners die “glazed donut” eerder “icy nails”.
Ons het onlangs Bio Sculpture se nuwe Abalone Evo jel skakering probeer – dra dit net so op jou naels of wend dit bo oor jou gunsteling skakering aan vir ekstra skitterende glans.
5. Neutrale, skoon en melkbadnaels
Die fokus hier is op gesonde naelvliesies en netjiese gemanikuurde naels. Steeds dieselfde “clean girl aesthetic” of meer onlangs “lipglans naels”. Dink aan neutrale nudes, pienke en sagte, natuurlike of effe skakerings wat ultra gesond lyk met ekstra baie blink.
Melkbadnaels verwys weer na ’n effense wit, deursigtige, glansende naels. Dink aan ’n water en melkbad – dit is omtrent die gevoel wat hierdie naellakeffek skep.
6. Swart ‘noir’ naels
Hierdie bly ’n klassieke gunsteling – ’n kleur wat werklik omtrent by alles pas en ’n sjiek afgeronde voorkoms skep.
Wenk: Ons dink hierdie naelkleur lyk veral goed op kort, netjiese gemanikuurde naels.
7. Fluweelnaels
“Velvet” oftewel fluweelnaels, is naels wat werklik lyk soos fluweel op jou naels danksy die ultrafyn blinkers wat 3 dimensioneel glinster in die lig en jou naels soos fluweel laat lyk. Fluweelnaels in meestal juweelskakerings is veral gewild vir die winter.
Baie naelkunstenaars gebruik magnete om die effek te skep. ’n Effek waar ’n magneet gebruik word om die fyn blinkers in die naellak rond te beweeg vir ’n fluweelnaeleffek. Die blinkereffek is so fyn dat die naels byna na fluweel lyk.
Ons dink hierdie naelverftegniek skep ’n interessante diepte en tekstuur en is so gepas vir winter!
8. Dierepatrone
Ons is natuurlik van die mening dat luiperdmotief ’n “neturale” skakering is! Daarom dink ons natuurlik hierdie dierepatroon sal goed lyk op enige naels (mits dit goed geverf is). Daar is selfs sebrapatrone wat net so gewild is op die oomblik.
Dit is natuurlik nie so eenvoudig om hierdie tegniek reg te kry nie – probeer gerus ook naelplakkers as jy nie aldag tyd het vir salon toe nie.
Hier is ’n paar opsies:
9. Skilpaddop (tortoiseshell)
Dink aan jou gunsteling “tortoiseshell” sonbril se patroon, maar vir jou naels! Nes jou sonbril byna by elke uitsruting pas, sal hierdie tegniek op jou vingerpunte ook pas. Iets unieks wat onverwags is maar steeds stylvol lyk.
Ons hou van hierdie naelpatroon maar glo nie dit is iets wat ons self tuis sal kan bemeester nie. Laat eerder hierdie een oor aan kundige naeltegnici wat weet wat hulle doen.
10. Strikke en linte
Nes die “balletcore tendens” of “Coquette” tans reuse modebewegings is met strikke op klere, skoene en selfs in jou hare, is strikke en lintpatrone op jou naels net so gewild.
Ons dink beslis minder is meer met hierdie naelkunspatroon – een fyn strik op een of ’n paar naels lyk sjiek en stylvol.