Droë hakke is byna sinoniem met ’n somervakansie. In en uit die water, plakkies dra en kaalvoete loop en nie genoeg voetroom aansmeer nie, is van die oorsake. Dis terug werk toe en sandale dra vir die meeste van ons, maar die hakke lyk dalk nie op hul beste nie. Voetheelkundige Nelfrie Kemp deel haar beste wenke vir droë, en ook gebarste, hakke. Deur Suzanne Kotzé
Waarom jy met droë hakke sukkel
Droë hakke word veroorsaak deur
- droë lug,
- humiede lug,
- lugverkoeling en die dra van
- plakkies of plat, oop skoene
- of kaalvoet loop.
Sommige mense is ook bloot meer geneig tot droë, gebarste hakke weens ’n droë veltipe.
Wat kan jy doen as jy ’n diep seer bars ontwikkel?
Onthou as jy ’n seer, diep bars ontwikkel is dit die beste om eerder ’n voetheelkundige te spreek.
Tot tyd en wyl jy die voetheelkundige spreek, kan jy ’n antiseptiese salf aansmeer en ’n pleister oor plak en sokkies en toe skoene dra. Jy kan ook voetroom aansmeer en slegs sokkies en toe skoene dra.
Behandel droë hakke deur daagliks voetroom aan te smeer (en sokkies aan te trek).
Soggens
Dit kan ’n uitdaging wees om jou voete bevogtig te hou gedurende die somer. Wat die beste vir my werk, is om direk na ’n oggendstort voetroom aan te smeer en sokkies aan te trek wat jy dan vir minstens ’n halfuur aanhou. So kry die room kans om behoorlik in jou voete in te trek/te absorbeer voordat jy sandale aantrek.
“Ek ry dikwels werk toe in sokkies (nadat ek voetroom aangesmeer het) en trek dan my sokkies uit en sandale aan wanneer ek by die werk aankom.”
Nelfrie Kemp
Saans
As jou voete steeds droog voel, smeer saans ook voetroom aan en trek sokkies aan.
Voetroom voor oefening
Ek smeer ook voetroom aan voordat ek gimnasium toe gaan of voordat ek gaan hardloop. So verseker ek nog sokkie en voetroom tyd.
Kyk jy gaan dalk nie hierdie elke dag doen nie, maar as jy minstens een doen is dit klaar ’n begin vir voete wat bevogtig is.
As jou voete baie droog is, dra eerder toe skoene en sokkies vir ’n paar dae.
Vyl daagliks vir instandhouding
Jy kan ’n voetvyl daagliks gebruik om jou voete sag te hou. As jou hakke egter erg gekraak is of as jy voete harde dele het wat opgebou het of eelte het, sou ek voorstel dat jy ’n voetheelkundige (podiatris) spreek wat dit vir jou professioneel kan minder maak sodat jy net jou voete tuis met ’n voetvyl (en room!) kan onderhou.
As jy eers ’n diep kraak of eelte het wat opgebou het, is die gebruik van ’n voetvyl tuis nie effektief nie, en kan dit ook ongemak veroorsaak.
Onthou jy gaan nie gebarste hakke kan regmaak met ’n voetvyl nie, al vyl jy hoe baie. Vyl is vir instandhouding, nie vir regmaak nie.
Ek hou nie daarvan om eers my voete te week en dan te vyl nie, aangesien dit minder effektief voel. Ek smeer wel gereeld room aan, en gebruik ’n voetvyl voordat ek room aansmeer. Dus, wanneer ek byvoorbeeld die aand room aan my voete gesmeer het, sal ek die volgende oggend vyl en weer room aansmeer.
Besoek gerus nelfriekemp.co.za of volg Nelfrie op Instagram vir meer inligting.