’n Sielsalige vriendinne-spadag by Babylonstoren

Daar is min dinge so lekker soos om saam met ’n vriendin te spa; ’n dag van ontspanning, lag en pure plesier by Babylonstoren se ‘Garden Spa’ het ons batterye herlaai en beslis ons winterweemoed afgeskud. Deur Suzanne Kotzé

Wandel deur Babylonstoren se pragtige tuine

Ons het ons oggend begin met ’n wandeling deur die pragtige tuin, ons het immers die ‘Garden Spa’ besoek. Die lug was nog koud en grou, wat gemaak het dat die pragtige pienk lentebloeisels soveel meer uitstaan.  Alles het lewendig en vars gevoel, en dit het onmiddellik die toon vir die dag wat voorlê aangegee. Daar is iets wonderliks daaraan om saam met ’n vriendin deur die natuur te stap en gesels. 

Ons Rasul behandeling by die Garden Spa

Van daar af het ons die spa binnegegaan en gestap (natuurlik deur die natuurskoon) na die pragtige rasul-kamer. (Wenk: trek die weggooi-onderklere aan wat hulle vir jou gee, want jy word sopnat).

En as jy dalk nie weet wat ’n rasulkamer is nie, dit is van Arabiese afkoms en is ’n private stoomkamer waar jy gewoonlik self ’n tipe skoonheidsritueel doen. Ons het haar, gesig en lyfprodukte in klein bakkies gekry wat ons kon aanwend terwyl ons op die pragtige geteëlde bankies gesit het.

’n Kleimasker, ryk in minerale en afkomstig vanaf ’n plaaslike varswatervlei, gemeng met botaniese olies vanaf eie bodem (aloe vera, malva en Kalaharispanspek) help dat gifstowwe en onsuiwerhede vrygestel word. Daar is ook storte waar jy dit kan afspoel.

Maak seker jy doen hierdie saam met ’n goeie vriendin of maat voor wie jy nie skaam voel om halfkaal te wees nie. Gelukkig stoom dit later so baie, dat jy nie veel kan sien nie.

Die hitte was intens (op ’n goeie manier, maar ons het dalk, of dalk nie, in ons handdoeke buite in die reën tussen die vrugteboorde gestaan om af te koel!).

Ons het gloeiend te voorskyn gekom, met vel so sag soos sy, en ’n bietjie giggelend uit die gedeelde ervaring om saam in ’n stomende kamer te sit.

Vollyfmasering

Ons volgende bederf was ’n vollyfmassering.

Elke spanningsknop is wegmasseer en toe die klokkie lui wat die einde van ons massering aankondig, wou ons behoorlik van plesier wegsmelt in die masseerbeddens. Die terapeute was ongelooflik, en het die druk net reg toegepas om ons in ’n ontspanne beswyming te laat. Ons het gesukkel om reguit te loop hierna, amper asof jy dronk is van ontspanning.

Die swembad area

Na ons massering het ons swembroeke aangetrek en die swembad-area besoek.  Daar was juis ’n groep vriendinne wat saam in een van die vitaliteitspoele gesit het, en so lekker gelag het, dat ons beslis weer wil terugkom saam met ’n hele groep vriendinne.

Die lang swembad is ’n binne-buite ervaring om in alle weersomstandighede te geniet, met ’n smal waterstrook wat twee omringende binnenshuise swembaddens verbind. Die swembad spog met twee pragtige mosaïek-alkowe wat in die agtermuur ingebou is, met ’n kaggel en lopende watervalle om by te dra tot die unieke, koesterende ervaring. ’n Sauna, soutkamer en twee verhitte vitaliteitspoele (amper soos jacuzzi’s) voltooi hierdie holistiese spa-ervaring.

Maak seker jy ruim genoeg tyd in om hierdie wonderlike geriewe ook te gebruik. Jy kan nie anders as om van jou probleme en verantwoordelikhede te vergeet nie.

Jy kan selfs middagete ook bestel om langs die swembad te geniet. Ons het verkies om aan te trek en in die Glaskas middagete te eet.

Wat die dag so spesiaal gemaak het, was nie net die luukse van die spa nie, maar om dit saam te deel, om te gesels oor wat (anders as Stylvol) in ons lewens gebeur, oor klein dingetjies te lag, en eenvoudig mekaar se geselskap in so ’n pragtige omgewing te geniet.

Babylonstoren se Tuinspa het ons alles gegee wat ons van ’n vriendinne-uitstappie wou hê: vrede, bederf en die kans om die prag van die natuurskoon te geniet. Ons het ligter en gelukkiger gevoel en reeds ons volgende besoek beplan.

Loer gerus na die  spa-behandelingslys

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
superkosse
“Superkosse” vir die somer
error: Content is protected !!