Het jy al ooit gewonder of modelle slim grimeertruuks leer na hulle dag in en dag uit in die mooimaakstoele van top grimeerkunstenars sit op stel?! Ons wonder gereeld hieroor– ons het vir twee top modelle Charie Botha en Collette Russel Smith uitgevra oor hul top grimeertruuks en gunsteling grimeerprodukte waarsonder hul nie kan klaarkom nie. Deur Justine Kroes
09/09/2022
Cool grimeertruuks wat jy al geleer het en regtig gebruik?
Colette se top grimeertruuks:

Iets eenvoudigs wat ek op stel geleer het wat dadelik jou grimeervoorkoms opkikker is om klein bietjie blink grimering in die binnehoek van jou oog aan te wend.
Colette
Ek dink dit is een van die maklikste maniere om met grimering rond te speel en het ’n reuse effek op hoe jou ooggrimering vertoon.

Ons neuse blok gewoonlik die lig in daai area en laat die donker kringe onder ons oë nog erger lyk. Met ’n bietjie ligte blink grimering in die binnehoek van jou oog verwyder jy die fokus op die donker areas en dit verlig dan die hele oog.
Ek gebruik altyd ’n ligter blink goud, brons shimmer kleur, dit werk goed met my veltoon. Ek hou veral van Urban Decay, ek gebruik hul bronze eyeshadow pallette en oogpotlode.
Charie se top grimeertruuks

Ooggrimering eerste
“Rose Bruins (bekende grimeerkunstenaar) het lang jare gelede vir my geleer om eers my oog-grimering aan te wend, en daarna my onderlaag en verbloemer. ’n Slim truuk – sodat enige oog-grimering wat op jou vel val, maklik met ’n wipe skoon gevee kan word.
Charie
As jy daarna jou onderlaag en verbloemer aanwend, het jy ’n perfekte vleklose basis.”
Die regte skakering onderlaag is belangrik
“Nog ’n wenk wat ek by grimeerkunstenaar Algria Ferreira geleer het – kies ’n onderlaag wat so na as moontlik aan jou vel se natuurlike kleur is. Algria se raad is dat my onderlaag byna onopsigtelik moet wees. En wanneer ek dit aanwend, ook om seker te maak ek blend, blend, blend!
Ek kyk altyd na die skakering van ‘n nuwe onderslaag in natuurlike sonlig op my vel voordat ek dit koop. Die beligting in die winkels is glad nie akkuraat nie.
Skilfer lippe af
Algria, wat ek al ken vandat ek my eerste modelwerk geboek het op 14, het al baie waardevolle dinge vir my geleer. Sy’t ook vir my geleer om altyd jou lippe af te skilfer sodat jy ’n goeie basis het vir jou lipstiffie, dit sal foutloos aanwend en boonop ure lank aanbly.
Modelle se beste skoonheidsraad:
Colette se raad;
Dalk nie die coolste raad nie – maar beslis super belangrik; dra elke dag jou 50 faktor sonroom. Ek koop altyd een wat sink bevat, party sonblokke laat my vel soms in knoppies uitslaan. Veral belangrik in Suid-Afrika waar dit so sonnig is.

Charie se raad
Begin met ’n goeie basis en hiervoor is goeie velsorg belangrik vir jou grimering om goed te lyk en langdurig aan te bly, veral op warm dae. Ek gebruik drie keer per week ’n afskilferaar (Skin Functional se Exfoliating Glow Tonic) om seker te maak my vel is sag en glad. Dit maak ’n reuse verskil aan my vel.
Goeie vogroom en daaglikse sonblok is ook ’n moet. Ek verkies La Roche Posay Anthelios, dit is nie te ryk nie, en laat geen wit skynsel op my vel nie.

Oefen! Ek het op stel baie truuks en wenke geleer, maar ook op my eie by die huis geoefen en gekyk waarvan ek hou. Veral met vloeibare oogomlyner bo-op my ooglede geoefen tot ek dit self kon regkry. Dit was vir my die moeilikste!
Probeer nuwe dinge, en oefen op jou gesig, dis net grimering, en indien dit nie werk nie, was jy dit af en begin oor. Soos hulle sê, aanhouer wen!
Charie
Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?
Colette sê

“Ek dra altyd ’n getinte lip-ice (lipsalf) saam my rond vir ’n bietjie kleur. Dit vlek so effens die lip met ’n tikkie hidrasie daarby, veral lekker op vakansie! As jy jou wange wil laat mooi lyk kan jy selfs biejie aan jou wangbene smeer vir ’n bietjie ekstra kleur.
Ek het op vakansie in St Tropez Vichy se Natural Blend Lip Balm gevind – beslis ‘n gunsteling en boonop sakpas daarby. Verlief daarop!
Ek kan ook nie sonder: Urban Decay se Naked Honey Eye Shadow Palette nie:
Charie sê:

Ek kan beslis nie sonder maskara en blosser klaarkom nie. My gunsteling is Maybelline Lash Sensational Sky High Mascara. Die borseltjie is van silikoon en dit skei jou wimpers mooi met elke swiep en laat nie groot klonte maskara agter nie.
My gunsteling blosser is Bobbi Brown se Brightening Brick in Pink. Dit is ’n verhelderaar, blosser en verbronser in een. Ek gebruik dit sommer op my ooglede ook as ek my daaglikse natuurlike grimering doen – so veelsydig.
