Sommige van dié dekades se modes laat jou dalk ril, maar hierdie vyf modegiere van die 80’s en 90’s is nou groot nuus. Modegiere van plakkies en sokkies, scrunchies (ja jy het reg gelees), emmerstyl-hoede. Ook groot volume (dink frille, valle en strikke) tot die prettige babydoll rokkies. Sal jy dit dra? ’n Bekende aktrise en mode-ontwerper gee haar eerlike opinie en raad oor hoe sy vanjaar die modes sal aanpak. Deur Justine Kroes en Suzanne Kotze
Modegiere van die 80’s (en 90’s volg)
1. Volume
Dis nie net hare wat groot was gedurende die tagtigs nie, maar modesilhoeëtte ook. Dramatiese en oorgroottte volume in die vorm van pofmoue, strikke, frille en valle was toe groot nuus en is ook nou weer terug.
Dra dit nou so: in die tagtigs was ‘meer is meer’ baie in. Die geheim om nie te lyk of jy vasgehaak het in die tagtigerjare nie, is om jou bykomstigheide, hare en grimering eenvoudig en skoon te hou. Kies ook een area met volume en hou die res van jou lyne skoon.
2. Scrunchies
Het jy geweet die haar scrunchie is ontwerp in die tagtigerjare omdat vrouens se hare so groot en swaar was dat dit moeilik was om met ’n gewone haarrekkie vas te maak? En so is die alombekende scrunchie gebore.
Die style wat vanjaar groot nuus is oorgroot organza-, fluweel- en satyn-scrunchies.
Dra dit nou so: Dra dit by ’n T-hemp en ’n denim. Selfs strand toe vir ’n trendy manier om jou hare vas te bind.
3. Babydoll-rokkies
Lospassende, amper vormlose babydoll-rokkies is gewoonlik ’n korter rokkie wat nie ’n gedefinieerde middel het nie.
Dra dit nou so: Kombineer jou gunsteling babydoll of metaalkleurige rokkie by jou bonkige 90’s styl stewels. Of selfs saam jou Birkenstock-tipe sandale.
Modegiere van die 90’s
Aktrise Donna-Lee Roberts sê die volgende oor die modes van daardie dekade:
Van my gunstelinge is ’n scrunchie of ’n bucket hoed, en selfs Birkenstock-styl plakkies”.
“Ek is so lief vir T-hemde en ek dra graag ’n gedrukte T-hemp met ’n fliek of groep vanuit die 90’s daarop saam met ’n denim en ’n scrunchie in my hare – dit is ’n prettige voorkoms wat ook nostalgies is!”
4. Emmerstyl-hoed
Die emmerstyl-hoed is beslis vanjaar die moet-hê hoed van die seisoen. Hierdie hoed, wat soos ’n omgekeerde emmertjie lyk, is ’n maklike manier om jou uitrusting te neem van 2019 na 2020.
Dra dit nou so: Wees uitdagend en probeer verskillende patrone, skakerings en materiaal. Veral iets soos denim, leer of kunsleer vir ’n moderne benadering van die 90’s trend.
5. Plakkies en sokkies
Ja ons weet, jy sien dit gewoonlik aan die voete van toeriste of Pa’s met geen benul van mode nie. Maar vanjaar is die plakkie-en-sokkie trend gesien op ’n hele klomp internasionale mode-ontwerpers se Lente/Somer 2020 reekse. Op die loopplanke van ontwerpers Anna Sui, Fendi en Salvatore Ferragamo het die plakkie-en-sokkie trend behoorlik gepronk. Of jy daarvan hou of nie is hierdie modegier uit die 90’s vanjaar hier om te bly. En as jy huiwerig is om dit te dra is dit net so ’n gemaklike sjiek tuisbly voorkoms.
Pssst: hierdie trend is perfek vir die van ons wat nog nie by ons somer-pedikuurafspraak uitgekom het nie!
Dra dit nou so: dra deursigtige sokkies hierby vir ’n meer moderne gevoel.