Ons het by Miladys ingeloer om na hulle Swart Vrydag-kopies te kyk, en op bypassende bruin stelle besluit. Hier is van ons stileerwenke vir bypassende stelle en nog ander lekker sakpas Miladys-kopies. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes.
Bypassende stelle

’n Bypassende stel is altyd ’n goeie modekopie, want jy kry eintlik verskeie uitrustings in een. Dra dit saam as ’n stel, of meng en pas die broek en hemp met ander items in jou kas.
Die geheim lê egter daarin om die voorkoms jou eie te maak en dit is waar stilering belangrik is, maar ook soveel pret word!
Ons R398 bypassende bruin stelle
Die Washer Cotton Shirt Choc Brown (R199) en Cotton Choc Brown Pants (R199) was ons altwee se keuse. En alhoewel jy dit gerus net so kan dra, is ons lief daarvoor om ’n paar stileertruuks te gebruik om uitrustings meer afgerond en modieus te laat lyk. So maak jy ook seker dat al het jy en jou vriendin dalk dieselfde pakkie gekoop, julle nie dieselfde lyk nie.
Justine dra dit so

Ek sal die stel beslis in my tas pak vir ’n somervakansie. Dit is perfek om sommer vinnig oor jou swembroek aan te trek. Omdat die bruin stel so mooi neutraal en monochromaties is, het ek besluit om ’n bietjie kleur by te voeg met ’n rooi swembroek. Die lang bandjies van hierdie swembroek maak dit so maklik om met verskillende style te eksperimenteer en vas te maak.
Ek hou van die hemp wat oop, los, effens van die skouer af hang, dit gee die uitrusting sommer dadelik daardie ontspanne vakansiegevoel. ’n Groot bruin hobo-styl handsak pas perfek by die gemaklike voorkoms. Hierdie roosgoud aanglipsandale gaan beslis ’n gunsteling in my Desember vakansietas wees. Ek kan ook natuurlik nie ’n mooi kat-oog-sonbril agterlaat nie, dit rond die hele voorkoms perfek af!
Suzanne dra dit só

Hierdie stel voel lieflik en lig, perfek vir my opkomende ‘girls’ weekend’. En aangesien ons waarskynlik heel naweek om die swembad gaan kuier, dra ek ’n swembroek hiermee saam. Ek was aangenaam verras oor hoe gemaklik en vleiend hierdie swembroek is (en dit pas sowaar ook om my groter borsmaat.) En ek is mal oor die groot strepe.
’n Goudkleurige skulp-en-bruin-tossel-halssnoer bring ’n tikkie glans en amper-Desember pret. (Ek kan op die oomblik nie genoeg kry van skulp-bykomstighede nie!). ’n Fyn goue beltjie rond die voorkoms af.
Die geweefde sak gee dit ’n somerse strandgevoel. Ideaal vir strand of winkel toe. Dit is heerlik groot. Die oorgroot sonbril met die fyn goue raam pas by die res van my goue bykomstighede en ek hou van die vorm. Groot genoeg dat jy nie grimering hoef te dra nie, maar steeds glansryk kan lyk.
Nog Miladys bypassende stelle
Die stelle begin vanaf R399
Hierdie is nog van die bypassende stelle waarvan ons hou. Daar is natuurlik veel meer.

Swart Vrydag rokkies
Van hierdie rokkies kos net R199, heerlik vir warm Somersdae.
Sandale vanaf R149
Ons was aangenaam verras oor hoe lekker gemaklik hierdie Textured Rose Gold Sandals R149 is. Dit is ook in room en swart beskikbaar.
















