Ontmoet Mervyn Gers. Van ’n klein dorpie in die Noord-Kaap na Radio Kontrei (vandag se KFM) na ’n kleimeester wie se keramiek in die land se voorste restaurante en selfs Harrods verkoop word. Deur Suzanne Kotzé Foto’s André du Plessis, Stilering Sumien Brink
Mervyn Gers se grootwordjare
Mervyn het in die dorpie, Danielskuil in die Noord-Kaap gematrikuleer. Daar was slegs 12 matrieks in die klas (en pottebakkery of kuns was ongelukkig nie een van die vakkeuses nie.) Daarna het hy BA Kommunikasiekunde op Kovsies studeer, gevolg deur ’n onsuksesvolle jaar by UCT se dramaskool.
Van Kfm na huise restoureer
Mervyn is aangestel as programbestuurder van die destydse Radio Kontrei. “Ons het hard baklei vir ’n sender op Tygerberg en daarna die naam verander na Kfm. Die stasie het aan die SAUK behoort en is in 1996 aan ‘n konsortium verkoop, waarna ek as ’n bemarkingsdirekteur aangestel is.”
Nadat Mervyn weg is by KFM, het hy vir ’n paar jaar jaar huise gekoop, gerestoureer en weer verkoop. “Ek het dit baie geniet en selfs soms in die huise gewoon terwyl ons daar werk.”
Mervyn se artistieke reis en liefde vir keramiek
“Ek het my voltydse artistieke reis in 2007 begin en vase en potte van alle vorms en groottes in ‘n monochrome palet van swart, wit en grys geskep. Ek was nog altyd gefassineer deur keramiek uit die Verre Ooste, Japan, Korea en China, en is veral lief vir die Hagi-, Shino- en Celadon-glasure. Ek bewonder almal wat voor my gekom het en hierdie pragtige kunsvorm gemaak het wat dit vandag is, en is ’n versamelaar van pottebakkery vandat ek kan onthou. Dit was om die kunstenaar in my te bevredig.
Keramiek is ’n fassinerende en komplekse veld en ek leer tot vandag toe nog.
Mervyn Gers
Die stigting van Mervyn Gers Ceramics
Op die ouderdom van 50 stig Mervyn is in 2011 Mervyn Gers Ceramics met net agt pesoneellede. Met 14 oonde en meer as 50 personeellede in diens, is die maatskappy vandag ’n volhoubare werkskeppingsuksesverhaal wat sy aanbod voortdurend uitbrei na beide ondenemings en huishoudings plaaslik en oorsee. “Ons produkte word verskeep in herwinbare verpakking en ons is op ‘n missie om meer volhoubaar te wees. Ons herwin ook ons klei.”
Mervyn Gers Ceramics het ’n spesiale sterkte klei in samewerking met die Universiteit van Kaapstad ontwikkel, spesiaal met die oog op veral die restaurant- en hotelbedryf, waar die produkte gereeld gebruik word. (Ons lig gereeld die borde op in restaurante om te kyk of dit Mervyn Gers is). Dit is ook mikrogolf en skottelgoedwasservriendelik (mits dit goud in die kleur het).
Behalwe vir ’n wye versameling restaurante, gastehuise en hotelle in Suid-Afrika, verskaf hulle ook aan maatskappye in Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk, Switserland, Duitsland, België, Doebai, ens.
Mervyn se kleur en ontwerp-inspirasie
“Die Kalahari en Namibië inspireer my as dit kom by kleur. Wat die ontwerp betref, gaan dit vir my oor hoe dit voel in ’n mens se hande en die funksionaliteit daarvan. Ek hou ook baie van tekstuur.
Ons produkte is werklik handgemaak en gaan deur 22 pare hande. Dit is onvolmaak maar tog perfek.”
Die gewildheid van plaaslike, handgemaakte produkte
Mervyn skryf die gewildheid van Mervyn Gers Ceramics aan die volgende toe: “Individualisme het meer na vore gekom na die pandemie, sowel as die gebruik van kleur. Ons kan dit sien in hoe mense hulself uitdruk in die manier waarop hulle leef, aantrek en hul huise versier. Daar was ook ’n beweging na die natuur en die kleur groen. Studies het bevind dat selfs ’n groen uitsig vanaf jou venster tydens die pandemie gekoppel was aan verminderde simptome van depressie en angs. Nog ’n neiging is groentetuine in huisruimtes aangesien dit ontspannings-, gesondheids-, ekonomiese en omgewingsvoordele bied. Ons groene is tans uiters gewild. Massa-produksie dra deesdae nie dieselfde gewig as iets wat handgemaak is nie en Suid-Afrikaners hou daarvan om plaaslike maatskappye te ondersteun.”
Waaruit eet Mervyn tuis?
“Ek hou van onthaal en gebruik verskillende stelle wat ek by my ma geëerf het, op markte gekoop het voor ek enigsins gedink het ek sou eendag eetware maak. Ek glo keramiekware moet gebruik word, moet dit nie hou vir ‘n spesiale dag nie, die dag daag straks nooit op nie.”
In sy vrye tyd pak Mervyn die bul by die horings en maak die meeste daarvan
“My honde is altyd saam met my, selfs by die werk. Ek geniet ’n vroeë oggend swem in die see, winter en somer, en gaan daarna gimnasium toe. Ek wil ’n gesonde, doelgerigte en vol lewe lei. Jy moet elke dag die bul by die horings pak en die meeste daarvan maak. Dit is ook vir my belangrik om omring te wees deur my geliefdes.”
Jou eie kenmerkende styl Mervyn Gers
Mervyn Gers Ceramics is op verskeie aanlynwinkels (soos Yuppiechef en Superbalist beskikbaar). Mervyn sê egter:
Die uiterse luukse is heel waarskynlik jou eie kenmerkende stel eetgerei, verpersoonlik volgens jou spesifikasies, of dit nou jou gunsteling kleure is of ’n ontwerp met jou familiewapen. Ons bied hierdie pasgemaakte ontwerpdiens vir oordeelkundige interieurontwerp-entoesiaste en trendsetters. Dit is ook die perfekte trougeskenk. Jy maak ’n 90-minute afspraak en ons wys jou al jou keuses.
Stylvol se Mervyn Gers Ceramics
Ons is vroeër vanjaar genooi om by Mervyn Gers Ceramics in Kaapstad te gaan kuier en ons eie persoonlike reeks saam te stel.
Ons altwee se keuses was skakerings van groen
Ons kuier saam met Mervyn Gers
Ons het soos wafferse bekendes gevoel toe Mervyn en sy span met ’n fotograaf (André du Plessis) en stilis (Sumien Brink) by ons wou kom kuier om ons mooi eetware af te neem. En was dit nie ’n fees nie. Wat ’n voorreg om sulke lekker, kreatiewe mense beter te leer ken. Die lag en gesels was in oorvloed teenwoordig (saam met ons mooi eetware natuurlik!)