Aktrise Melissa Willering het die afgelope jaar vele veranderinge beleef. Van nature hou sy van standvastigheid en roetine en die nuwe stad en vryskutroetine was ’n aanpassing. Sy gee goeie wenke vir ander vryskutte en ‘trekkers’. Deur Suzanne Kotzé
Melissa Willering; verlief en verloof
Melissa en haar filmredigeerder verloofde Regardt Botha het mekaar vier jaar gelede tydens die Silwerskermfees in Kaapstad ontmoet. “Dit terwyl ons altwee in Johannesburg net ’n blok van mekaar af gebly het en dit nie geweet het nie. Ek het altyd geweet wie hy is. Sy ma was ’n juffrou by my skool gewees. So ek het geweet van hom, maar ons het mekaar eers daar ontmoet en dadelik oor die weg gekom,” vertel Melissa.
Drie en ’n half jaar later het hulle saam die groot trek Kaap toe aangedurf en Regardt het die jawoord gevra.
So het hulle verloof geraak
“Dit was ’n baie groot verrassing,” vertel Melissa. “Ek het verwag dat dit in hierdie jaar sou gebeur. Ek dink as dit nie het nie, dan sou ek hom gevra het! Ek wou al met hom trou vandat ek hom ontmoet het. So dit was ’n baie maklike ja.”
Regardt was vir ses weke weg in die Noord-Kaap vir die verfilming van Nêrens, Noord-Kaap. Regardt het die redigering van die reeks gedoen en Melissa vertolk die rol van die Nederlandse meisie, Fleur. Melissa kon glad nie Nederlands praat nie, maar het gelukkig ’n Nederlandse oupa en ouma, dus was die aksent bekend en dit was maklik om aan te leer. Haar Nederlandse tannie en niggie het ook gereeld vir haar stemnotas gestuur om te help met die aksent.
Melissa het egter geen van die verfilming in die Noord-Kaap bygewoon nie. ”So baie mense op stel het geweet dat hy my gaan vra en ek kan nie glo niemand het dit verklap terwyl ek op stel was tydens verfilming in Kaapstad nie. Nêrens, Noord-Kaap sal op so ’n manier ook altyd ’n spesiale plek in my hart hê. Dit was nie net dit ’n ongelooflike projek om by betrokke te wees nie, maar agter die skerms was daar net so baie spesiale oomblikke.”
“Nadat ons Fleur en Andries (vertolk deur De Klerk Oelofse) se gedeelte verfilm het, was dit Regardt se verjaarsdag en hy wou graag vir die naweek weggaan. Melissa het vir hulle plek bespreek in Knysna. “Terwyl ons op pad was na die blyplek, ry ons verby die venue waar ons gaan trou (op 22 Januarie 2022) en ek sê tergend vir hom, ‘As jy my eendag vra om te trou, sal hierdie die perfekte venue wees.’ Regardt het dit toe net afgelag, min het Melissa geweet dat hy haar ’n paar uur later sou vra om te trou.
Die aand van die verlowing
Hulle het die aand gebraai en Melissa kon sien Regardt is senuagtig. “Ek het heeltyd in my hart gehoop die rede is dat hy my wou vra, maar ek het myself oortuig hy gaan nie, want hy het nie tyd gehad om ’n ring te kry nie. En ek wou nie hartseer wees as dit nie gebeur nie.” Sonder dat Melissa weet, het Regardt twee weke vantevore reeds die ring bestel sodat dit sou reg wees.
“Ek het by die vuur gaan staan en toe ek omdraai staan hy op sy een knie en sê vir my die naweek gaan eintlik oor my en nie oor hom nie. Toe maak hy eers of hy sy skoenveter vasmaak. Natuurlik was ek eers bietjie vies daaroor en stap toe weg. Hy roep my toe terug … om eerlik te wees kan ek nie ’n woord onthou wat hy toe gesê het nie, behalwe dat hy die ring vir my gegee het en my gevra het om te trou. Ek was so opgewonde en het gehuil en dit was net die perfekte aand.
Melissa Willering oor haar vryskut lewe
Melissa het reeds in 2019 by Getroud met Rugby bedank, waar sy die rol van Chrissie Bekker vertolk het. Danksy die feit dat sy vryskut is, kon sy ook maklik Kaap toe trek aangesien sy van beide Kaapstad of Johannesburg kon werk. Sy het juis rol van Fleur (Nêrens, Noord-Kaap) gekry pas nadat sy en Regardt aan die begin van 2020 Kaap te getrek het.
Net na die verfilming van Nêrens, Noord-Kaap het sy by Suidooster begin waar sy die rol van Linda (met hoog funksionerende outisme, oftewel Aspergers) vertolk wat so ’n lekker uitdaging was. Ek het baie navorsing gedoen voordat ek besluit het om die rol aan te pak. Ek wou dit eerlik en opreg doen. Omdat ek nie self te doen het met iemand op die spektrum nie, wou ek dit getrou navors. Dit was so ’n wonderlike geleentheid en ek het dit verskriklik baie geniet. Die Suidooster familie het my baie tuis laat voel.”
Melissa Willering oor haar liefde vir roetine
Melissa sê dat roetine beslis iets is wat sy nodig het.
“Ek is ’n ‘lysie’ mens en ’n baie presiese mens in enige iets wat ek doen. Hierdie werk het my gekies op ’n manier, want dit is vir my ’n uitdaging om te vryskut.
Ek hou van gemak en standvastigheid. Vandat ek vryskut het ek al so baie van myself geleer. Ek het baie gegroei. Ek moes baie leer om te vertrou. Ek sukkel nog steeds baie daarmee, maar dis iets waaraan ek elke dag werk.
Sy skep vir haarself daaglikse roetine as sy van die huis af werk deur elke oggend met ’n goeie koppie koffie by Seattle Coffee Shop te begin. Daarna doen sy haar gratitude journal en begin dan werk. As sy nie op stel is nie, doen sy onderskrifte en vertalings. “Ek doen ook ’n kort kursus deur Unisa in Child & Adolescent Counselling, want ek hou daarvan om te leer en my brein op so ’n manier besig te hou. Dit trek my aandag af in die tye wanneer werk skaars is.
Wenke vir ander vryskuttte
Kry iets om jouself mee besig te hou.
“Dit is so maklik om jouself te bekommer oor wanneer nuwe werk gaan inkom. Kry iets om op te fokus in sulke tye, al is dit volunteer werk. Dis nog beter as dit ’n stokperdjie is waarmee jy ’n ekstra inkomste kan verdien.”
Verskillende bronne van inkomste
Dit is altyd beter om verskillende bronne van inkomste te hê wanneer ’n mens vryskut sodat jy nie net op daardie één groot geleentheid wag nie. Dit is definitief nie maklik nie, maar ek is dankbaar dat ek die groot sprong geneem het, want dit is wanneer ’n mens groei, deur uit jou comfort zone te beweeg.
Melissa Willering oor die groot trek Kaap toe
Melissa en Regardt het einde 2020 Kaap toe getrek. “Ons het saam die besluit geneem en dieselfde tyd af getrek. Dit het so uitgewerk dat hy baie in die Kaap sou moes wees vir werk en toe neem ek die besluit om saam te gaan. Ek wou in elk geval graag ’n agent in die Kaap kry om oudisies hier ook te doen. En dit was een van die beste besluite en kanse wat ek geneem het.
Ek het Houtbaai toe getrek en dit was ’n aanpassing om van besige Johannesburg na ’n stiller plek by die see te trek. Gelukkig was dit ’n baie goeie verandering want ek het ’n wonderlike jaar gehad ten opsigte van nuwe werksgeleenthede en ek kon uitdagende karakters vertolk hierdie jaar. Nog ’n verandering is dat ek verloof geraak het en nou besig is met al die troureëlings ook tussendeur.” Melissa trek binnekort stad toe en sien daarna uit. “Ek hoop om dan die keer ’n rukkie langer op dieselfde plek te bly.”
Die grootste aanpassings
Dit was ’n baie moeilike maar ook opwindende besluit om Kaap toe te trek. Haar grootste aanpassing was:
- Om ver weg te trek van alles wat bekend was; koffieplekkies, werk, familie en vriende
- Die verlange na haar ma wat in Pretoria bly en by wie sy gereeld kon gaan kuier
- Om nie meer in dieselfde woonstelblok as van haar goeie vriende te bly nie.
- Om nie die Kaap te ken nie. Sy was nog net twee keer vantevore met vakansie in die Kaap.
- Om meer goed op haar eie te moet doen (die grootste aanpassing van alles)
- Die weer; verlange na die warmte van Gauteng.
“Wat die aanpassing makliker gemaak het is dat baie mense wat ons ken ook toevallig dieselfde tyd Kaap toe getrek het en baie van Regardt se familie bly ook hier.”
Wenke vir ander mense wat trek
1. Lewe in die oomblik en gaan explore!
2. Probeer om elke klein en unieke koffiewinkel uit te toets.
3. Kry jou gunsteling nuwe plek wat jou gelukkig laat voel.
4. Moenie uitstel en sê “Ek sal nog eendag daarheen gaan” nie.
5. Waardeer alles. Veral die klein dinge.
6. Voel tuis waar jy bly. Omring jouself met dinge waarvan jy hou en wat vir jou spesiaal is, byvoorbeeld fotos op die yskas, bekende reuke (kerse), spesiale meubels. Ek is ’n sentimentele mens en dit laat my tuis voel om die dinge waarvoor ek lief is naby my te hê.
Die jaar is nog ’n oop boek en ek sien uit om te sien wat alles nog gaan en kan gebeur. Die verandering (wat gaan lei na standvastigheid) waarna ek die heel meeste uitsien is om getroud te wees.
Nêrens, Noord-Kaap is Dinsdae om 20:00 op Kyknet te sien.