Matcha; wondertee of modefoefie?

Matcha is eeue lank al deel van die Japanese kultuur, maar eensklaps is dit so gewild, dat Japan skaars kan voorbly met voorsiening. Matcha-alles, van lattes tot gebak is selfs ook in Suid-Afrika te kry. Maar waaroor die bohaai? Saamgestel deur Suzanne Kotzé en dieetkundige Retha Harmse.

matcha

Gedurende ’n besoek aan Japan verlede jaar was matcha oral te sien. Behalwe in die bekende teeseremonies, was dit ook in verskeie ander vorms, van drankies tot roomys. En dit word deur baie gesien as een van die redes waarom Japanese so lank leef. Dit is nou wêreldwyd so gewild dat Japan nie kan voorbly met voorsiening nie. Die smaak is iets waaraan jy gewoond moet raak, maar met al die klaarblyklike voordele is dit dalk die moeite werd.

Dieetkundige Retha Harmse oor matcha

Ons gesels met Retha Harmse, geregistreerde dieetkundige en segspersoon vir ADSA (die assosiasie vir dieetkundiges in Suid-Afrika) oor matcha en sy deel selfs met ons ’n matcha plaatkoekie-resep.

Wat is matcha?

Matcha is ’n baie fyngemaalde groen tee wat gemaak word van die blare van die Camellia sinensis plant. Dit verskil van die tradisionele groen tee, waar die blare in warm water geweek en daarna weggegooi word. By matcha neem jy die hele plant in, wat fyn gemaal word tot ’n poeier. Dit beteken jy kry ’n veel meer gekonsentreerde bron van voedingstowwe, antioksidante, en kafeïen.

Matcha is baie gewild in Japan en het dit ’n wêreldwye fenomeen geword. Jy sal dit in kafees, supermarkte, en selfs in gesondheidstendense regoor die wêreld sien.

Matcha word dikwels gebruik in drankies soos lattés, smoothies, en selfs gebak. Dit is ook ’n gewilde bestanddeel in Japannese teeseremonies, waar dit tradisioneel geklits word met warm water om ’n skuimerige, heldergroen drankie te maak.

Matcah-voordele

Matcha is meer as net ’n modefoefie – dit is vol kragtige gesondheidsvoordele. Hier is hoekom dit so gewild geword het in gesondheidskringe:

1. Ryk aan anti-oksidante

Matcha is vol anti-oksidante, veral kategiëns (catechins), wat bekend is vir hulle vermoë om vrye radikale in die liggaam te beveg. Hierdie anti-oksidante help om selle te beskerm teen oksidatiewe skade en verminder die risiko van chroniese siektes soos hartsiektes en kanker.

2. Ondersteun metabolisme en gewigsverlies

Sommige studies dui daarop dat matcha kan help om die metabolisme te verhoog en vet te verbrand. Die kategiëns in matcha, veral EGCG (epigallocatechin gallate), is gekoppel aan verhoogde termogenese, die proses waardeur die liggaam kalorieë verbrand om hitte te genereer. Dit kan matcha moontlik ’n nuttige toevoeging tot ’n gewigsverliesplan maak, binne perke natuurlik, dit is nie ’n towerkuur nie.

3. Immuun-ondersteuning

Die anti-oksidante in matcha speel ook ’n rol in die ondersteuning van die immuunstelsel. Gereelde verbruik van matcha kan help om teen algemene siektes te beskerm deur die liggaam se immuunsisteem en verdedigingstelsel te versterk.

Wat beteken dit vir die verbruiker?

Vir die verbruiker verteenwoordig matcha ’n verskuiwing na meer intuitiewe en gesonde drinkgewoontes. Maar voordat jy jou matcha latté bestel, is daar ’n paar dinge om in gedagte te hou:

Pasop vir die suiker

Matcha lattes is baie gewild, maar baie kommersiële weergawes bevat bygevoegde suiker wat die gesondheidsvoordele van die drankie verminder. As jy vir ’n matcha latte kies, vra daarvoor om sonder suiker of versoeters gemaak te word.

Kwaliteit maak saak

Die kwaliteit van matcha is belangrik vir sy voordele. Hoë gehalte, seremoniegraad matcha bied meer effektiewe anti-oksidante en ’n ryker, gladder smaak in vergelyking met die kulinêre matcha, wat dikwels in smoothies en bakwerk gebruik word. Verbruikers moet matcha soek wat van betroubare verskaffers kom om te verseker dat hulle die maksimum voordele kry.

Gebruik bedagsaam

Matcha is nie ’n “one-size-fits-all” benadering nie. Terwyl matcha ’n fantastiese toevoeging tot jou daaglikse roetine kan wees, is dit belangrik om dit in balans met ander gesonde leefstylkeuses te gebruik. ’n Matcha latte of tradisionele koppie matcha tee kan as ’n gesonde alternatief vir suikerdrankies dien, maar dit is die beste om dit matig te gebruik om te verhoed dat jy te veel kafeïen inneem.

Uiteindelik bied matcha ’n gesondheidsverryking wanneer dit reg gebruik word, maar soos enige tendens, is dit belangrik om te verstaan hoe dit in jou groter dieet en leefstyl inpas. En jou koppie matcha te geniet saam ’n gebalanseerde dieët wat groete, vrugte, komplekse koolhidrate, maer proteïene, peulgroentes, neute en sade bevat. Asook matige oefening.

Matcha plaatkoekie

’n Nuwe interpretasie van die normale plaatkoekie-ontbyt.

Bestandele:

  • 1 koppie hawermeel (gemaalde hawermout / oats)
  • 1 eetlepel matchapoeier
  • 2 teelepels bakpoeier
  • 2 eetlepels suiker (of versoeter van jou keuse)
  • ¼ teelepel sout
  • 1 eier
  • ¾ koppie vetvrye melk
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 1 teelepel vanielje-ekstrak

Instruksies:

  1. Meng die hawermeel, matchapoeier, bakpoeier, suiker en sout saam in ’n groot bak.
  2. Klits in ’n ander bak die eier, melk, olie en vanielje-ekstrak totdat dit goed gemeng is.
  3. Giet die nat bestanddele in die droë bestanddele en roer dit tot net gekombineer. Moenie oormeng nie.
  4. Verhit ’n kleefvrye pan oor medium hitte en smeer dit liggies.
  5. Gooi ongeveer ¼ koppie beslag in die pan vir elke pannekoek. Bak dit vir ongeveer 2-3 minute aan elke kant, of totdat dit goudbruin is.
  6. Bedien met vars bessies en room of Griekse jogurt en (opsioneel)heuning.

Voedingsinligting per porsie (2 pannekoeke is een porsie):

  • Energie: 603.45 kJ
  • Proteïen: 8.15 g
  • Koolhidrate: 29.28 g
    • Waarvan totale suiker: 11.33 g
  • Totale vet: 3.09 g
    • Waarvan versadigde vet: 0.62 g
  • Vesel: 2.25 g
  • Totale natrium: 84.0 mg
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
eetsteurnis
6 algemene wanopvattings oor eetsteurnisse
error: Content is protected !!