Dubai; wolk en vuur

’n Langbeplande ski-vakansie het baie anders uitgedraai vir die Hough-gesin wat tans in Dubai bly. Oupa en ouma is spesiaal uit Suid-Afrika gevlieg om na die kleinkinders te kom kyk, en toe gebeur die ondenkbare. Sandri Hough skryf oor hulle vreesaanjaende ondervinding in Dubai.

Die beplande ski-vakansie

Verlede Saterdag het begin soos enige vorige luilekker oggend, maar vir ons met ’n tikkie ekstra opwinding in die atmosfeer.

Die afwagting van vakansie vir my en my man, en ’n week wat voorlê vol van pret en plesier vir ons kinders saam met oupa en ouma. My ouers kuier tans by ons in Dubai, natuurlik met die toegevoegde waarde om na die kinders om te sien terwyl ons op ons eerste ski-vakansie in Frankryk gaan.

My man het net mooi die vorige aand laat van ’n werksreis na Suid-Afrika af teruggekeer, en daardie oggend, terwyl ons besig was met die laaste van die pakwerk, het hy vir ons van sy spesiale barista-koffie gemaak om te geniet. Die kinders was opgewonde, en my ouers in goeie luim om by ons te wees – daar was ’n gevoel van wedersydse rustigheid in die lug.

Niks kon ons voorberei vir wat voorlê nie …

Die Afrikaanse gemeente se woestyn-ervaring

Ons het besluit om nie vroeër op ons reis te vertrek nie, omdat ons Afrikaanse gemeente iets besonders beplan het vir daairdie aand: ’n woestyn-ervaring gesentreer rondom die Boek van Openbaring. Dit was al maande lank op die kerkkalender. Ses tente in die woestyn. ’n Visuele reis deur ’n boek waarvoor baie mense bang is – drake en gediertes met klomp koppe, die spoeg van vuur, veroordeling, die absolute onbekende …

Ons dominee Deon het die besondere gawe om enige ‘vreesaanjaende’ aspek van die bybel en Christenskap te neem en die inherente hoop daarin sigbaar te maak.

Ons het baie na hierdie geleentheid uitgesien! Veral omdat my ouers saam met ons daarin kon deel.

Die eerste gerugte

Omstreeks 09:45 het ons die eerste berigte begin hoor van ’n gesamentlike VSA-Israeliese aanval op Iran. Dit het egter vêr gevoel. Kommerwekkend, ja – maar nie naby nie.

Alhoewel, teen vroegmiddag het alles verander.

Gerugte het begin versprei dat die Amerikaanse ambassade in Abu Dhabi moontlik geteiken kon word, maar ons kon dit nie eens indink totdat ons die eerste ontploffing in Dubai gehoor het nie.

Die hardste, mees angswekkende geluid

Dit was die hardste, mees angswekkende geluid wat ek nog ooit gehoor het. ’n Diep, dreunende “boem” wat nie in ons wêreld tuishoort nie. Ons kon letterlik voel hoe die grond onder ons voete bewe, hoe die vensters ratel. Ons het nie geweet of ons getref word nie. Ons het nie geweet of missiele werklik inslaan nie. Ons het nie geweet of dit die begin van iets veel erger was nie.

Van ongeveer 14:00 af was daar herhaalde ontploffings. Die VAE-weermag het voortdurend inkomende missiele en hommeltuie onderskep en uit die lug uit afgeskiet.

Dit was absoluut surrealisties.

Ek kry steeds hoendervleis wanneer ek daaraan dink. Die gevoel van totale ontkenning … dit kan mos nie gebeur nie. Nie hier nie. Nie in Dubai nie.

Die VAE het nog altyd veilig gevoel. Ons woon nou al ’n jaar en ’n half hier. Ons kinders speel daagliks heeltemal sorgvry buite, die land is oor die algemeen ordelik en vreedsaam. Veral gedurende Ramadan – ’n heilige maand wat gekenmerk word deur kalmte en refleksie in die Moslem-gemeenskap. Vir die meeste inwoners het oorlog geen plek hier nie.

En tog is dit nou só, reg bo ons koppe. Ons kon die onderskeppings hoor en sien; wit wolke in die blou lug bedags en vuurbolle in die aand.

Bevrees

Die mees ontstellende deel was om die vrees in my kinders se oë te sien, veral toe ons hoor van ’n sterfte in Abu Dhabi weens vallende puin. In daardie oomblik het ek iets beleef wat elke ouer sekerlik vrees: die magteloosheid om iets wat verkeerd is nie te kan regmaak nie.

Daar is geen skuiling om in weg te kruip nie, geen veilige hawe om na te hardloop nie. Geen praktiese oplossing nie. Ons kon net wag. Luister. Bid.

Die Openbaring-ervaring in die Woestyn

Ons het gewik en geweeg of almal eerder tuis moes bly, of steeds na die woestyn moes gaan vir die Openbaring-ervaring. Ons het selfs op een oomblik daarteen besluit.

Toe kyk my man en ek na mekaar en besef: “Daar is ’n rede waarom ons nog hier is.”

Ons het gegaan.

Daardie aand in die woestyn, terwyl missiele bo ons ontplof en flitse die donker nag verlig, het ons deur daardie ses tente gereis. Daar is beelde aan ons onthul van oordeel, maar ook van herstel, die bevestiging dat Openbaring nie slegs ’n boek van vernietiging is nie, maar ’n boek van oorwinning. Van hoop. Van alle ewigheid.

Dit is amper onmoontlik om die ervaring te beskryf of vas te vang in woorde, maar terwyl ontploffings in die lug weerklink het, het ek absolute vrede ervaar.

Nie as gevolg van politiek nie.

Nie as ‘n resultaat van militêre mag nie.

Maar alleen uit geloof en genade.

Daardie aand het ons die kinders in die bed gesit met die woorde dat hulle niks het om te vrees nie – en vir die eerste keer in my lewe, te midde van werklike gevaar, het ek dit nie net bedoel nie, maar met absolute sekerheid geglo.

As ons vergaan, vergaan ons — ons WEET waarheen ons op pad is.

Die vreemde dae daarna

In die dae daarná het die lewe vreemd COVID-agtig gevoel. Werk van die huis af. Kinders wat tuisonderrig ontvang. Vlugte opgeskort. Onsekerheid oor wanneer “normaliteit” weer sal terugkeer.

Andreas in sy ‘shelter’ wat hy gebou het.

Ons het selfs besluit om ’n paar noodsaaklikhede aan te koop, onderlangs bewus van hoe afhanklik hierdie land van invoere is. Die toekoms voel wankelrig.

En tog is ons saam, dis al wat saakmaak!

As ek terugkyk, kan ons nie anders as om dankbaar te wees nie. Dankbaar dat my man betyds huis toe gekom het voordat die lugruim gesluit het. Dankbaar dat ons nie reeds Frankryk toe vertrek het en moontlik van ons kinders geskei was nie. Dankbaar dat my ouers hier is by ons, eerder as om van vêr af bekommerd te wees.

Steeds is daar ’n broosheid in die lug.

Die toekoms voel steeds onseker.

Trouens, terwyl ek hier sit en skryf, kan ek opnuut weer ontploffings en sirenes in die verte hoor.

Maar ek weet verseker God is met ons, en ons is presies waar ons moet wees.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Diereprater, Daniah de Villiers
error: Content is protected !!