Marciel Hopkins droom al vir vyf jaar om terug te keer na New York. Sy besoek die Groot Appel met haar ‘broodjie in die oondjie’, voordat haar derde trimester begin en sy vir oulaas net op haarself kan fokus en ’n vakansie saam met virende kan geniet. En daar was selfs ’n ontmoeting met Katie Holmes. Deur Suzanne Kotzé
Marciel Hopkins se New Yorkse ‘mama-moon’, vriende en lekker tye

“Dit is my derde keer wat ek New York besoek. Die eerste twee kere (2018 en 2020) was ek daar vir modelwerk. Ek moes toe inderhaas terug kom voor ons landsgrense gesluit het vir Covid 19.
Marciel droom al vir vyf jaar om weer terug te gaan New York City toe. “Dit was ’n heerlike vakansie saam met baie spesiale vriende voor die begin van my derde trimester met die swangerskap.”
Marciel het saam met haar vriende Marguerite Harris en Jeandré Hammond gereis vir die eerste helfte, en vriendin Lisa Kleyn vir die tweede helfte. “Hierdie was my laaste kans voor baba kom en ek dan eers op hom wil fokus.”



Die ‘swangerskap’-reis

Marciel se reis-ondervinding was nie juis anders vandat sy swanger is nie. “Ek moes net bloedverdunners inspuit vir die lang vlug en baie rondbeweeg. Andersins het ek alles soos normaal gedoen. Ek voel nog baie fiks, sterk en gesond. Ek het mediese toestemming van my ginekoloog gehad om te mag vlieg, want ek het ’n lae-risiko swangerskap.”
New Yorkse verblyf
“Saam met Marguerite en Jeandré het ons regs langs Madison Square Park gebly en saam met Lisa basies in Times Square. Ons het in die aand die groot advertensieborde (billboards) se ligte deur ons kamervenster gesien. Ons het ook vir twee dae in New Jersey gaan kuier by ’n vriend voordat ek teruggevlieg het.
Verblyf-wenke
“Ek sê altyd, dit wat ookal jou begroting laat klop. Toe ek in 2020 daar was, het ek ‘n kamer in Williamsburg, Brooklyn gehuur waar ek baie gelukkig was. Ek moes heelwat langer daar bly as ‘n “model on stay”, so ek het ’n goedkoper opsie gekies.
Marciel se gunsteling dinge om in New York te doen

- gaan stap deur Central Park
- beleef en neem Times Square se energie in
- gaan kyk na ’n Broadway Show, Moulin Rouge was fantasties
- gaan stap die High Line en eet middagete by die Chelsea Market
- gaan stap deur die magiese mooi Central Park of huur ’n fiets om meer daarvan te ervaar
- Summit One Vanderbilt was ’n belewenis – ’n 360° uitsig van Manhattan van bo
- stap deur SoHo en die West Village, want dit is so mooi en lieflik as jy mooi inkopies wil doen
- besoek die MoMA kunsmuseum
En wat van shopping? “Ek het nie dié keer tyd gehad vir enige nuwe aankope nie, ek is iemand wat eerder op ervarings tyd spandeer soos Broadway, MoMA en SUMMIT One Vanderbilt. Maar ek weet NYC is sekerlik ’n paradys vir mense wat ernstig is oor shop.”
Eet en drink in New York

Van Marciel se gunsteling goed om te eet en drink in New York is: “Pizza, burgers en bagels is ‘n moet in NYC. En natuurlik goeie koffie en koekies daarna. ;)”
Van haar gunstelingplekke om te eet is Leon’s Bagels, Song’E Napule Pizzeria en ’n Shake Shack burger.
Geen moets en moenies
Enige moets en moenies as jy ‘n toeris in NYC is? “Nee wat, ek glo nie daar is ’n regte of verkeerde manier om ’n nuwe stad te ontdek nie, dit is uniek en persoonlik, solank jy veilig is. Om te verdwaal is ook soms goed, dan vind mens net weer jou pad. ;)”
Marciel se ontmoeting met Katie Holmes

“Sjoe, wat ’n wonderlike, onverwagse oomblik. Ons was op pad terug hotel toe van ons laaste ete in die stad toe dit skielik begin stortreën. In ’n poging om my hare te probeer droog hou sit ek toe ’n Whole Foods plastieksak op my kop … en dit is toe ook hoe ek haar ontmoet het in die straat voor ons hotel. Sy het uit ’n Broadway Show gekom van voor af toe ek haar groet en vra vir ’n eens in ‘n leeftyd foto (papnat gereën). Sy was lieflik en baie gaaf.
Ek het nogal gegrap en gesê ek manifest om weer ’n bekende raak te loop die keer.

In 2020 het ek vir Cindy Crawford ontmoet wat ook ’n groot hoogtepunt was.