Hier by Stylvol fokus ons graag daarop om plaaslike mode en ontwerpers te ondersteun. Ons raak kinderlik opgewonde wanneer jong (of ouer!) ontwerpers ’n splinternuwe handelsmerk vrystel. Mar-Linde se kleurvolle ontwerpe het ons “Dopamine Dressing” (goedvoel mode) oog gevang en ons wou dadelik meer leer.
Lees meer oor Mar-Linde, die groeipyne daarvan om ’n nuwe besigheid te begin en die inspirasie agter haar trendy ontwerpe. Deur Justine Kroes
15/04/2022
5 redes hoekom ons van Mar-Linde se ontwerpe hou:

- Ontwerpe word van begin tot einde plaaslik vervaardig.
- Die ontwerpe word op ’n klein skaal vervaardig, dit beteken jy koop ’n meer ekslusiewe reeks – jy sal nie sommer ’n ander persoon raakloop wat dieselfde ontwerp as jy dra nie.
- Die reeks is weldeurdag en elke item in die reeks kan by ’n ander item van dieselfde reeks gemeng en gepas word.
- Mar-Linde deel haar slim stylwenke op die webstuiste vir elke item en daarby handige kleregrootte kaarte vir elke liewe ontwerp. Meet eenvoudig jouself tuis om seker te maak jy koop die regte grootte kledingstuk aanlyn.
- En dan natuurlik is daar Mar-Linde se oog vir ontwerp, stilering en noukeurige aandag op die kleinste detail (soos die knope-afwerking op die Lin Shirt!).
Sosiale media-beïnvloeder, inhoudskepper en model Katinka Oosthuizen oor Mar-Linde se reeks:

“Mar-Linde is besig om die ‘boring elkedag klere’ te verander! Wat lekker is van haar klere is dat jy dit op en af kan style! Koffie in die oggend en dan ‘n cocktail saam ‘n vriendin na werk”
Katinka Oosthuizen
8 vrae aan Mar-Linde
Is hierdie jou heel eerste reeks klere wat jy ontwerp het?
MAR-LINDE: Ja, dit is my eerste reeks. Om te ontwerp en my eie reeks vry te stel is ’n jarelange droom wat waar geword het. Ek het patroonontwerp studeer maar met hierdie reeks het my passie vir mode- ontwerp ontwikkel in ’n styl waarvan ek baie hou.

Waar vind jy inspirasie vir jou ontwerpe?
MAR-LINDE: Ek het vir 8 jaar oorsee gewerk. Ek het in elke land wat ek besoek het ’n kledingstuk gekoop wat my herinner het aan daardie spesifieke plek. Ek wil graag daardie lande na my kliënte bring, die gevoel van reis en om oorsee te wees. Baie van my ontwerpe word geïnspireer deur kledingstukke wat ek oorsee gekoop het – bright and bold like The Amalfi Coast! Ek wil hê jy moet my klere aantrek en die gevoel kry asof jy op die Cote d’Azur sit en ’n glasie sjampanje geniet!
Baie van my vriendinne het my ook, seker onwetend, geïnspireer om my eie reeks vry te stel.
Vertel ons meer van jou reeks
MAR-LINDE: Ek wou graag ’n stylvolle, gemaklike reeks skep. Veelsydige items wat gedra kan word vir enige geleentheid, afhangend van hoe jy dit stileer – ontwerpe wat jy kan dra vir beide formele en informele geleenthede.
Kleur is ook natuurlik iets wat vir my baie belangrik is. Jy kan ’n effense af dag hê maar trek jy ’n helder rok of mooi hemp aan en ek verseker jou jy sal beter voel.
Mar-Linde is boonop ’n 100% trots Suid-Afrikaanse reeks.
Wat is jou grootste droom as nuwe ontwerper?
MAR-LINDE: By MDV is ons missie om alle vroue, jonk en oud, met ‘n unieke liefde vir mode mooi en waardig te laat voel. Ek het nog altyd die droom gehad om vroue goed te laat voel oor hulself, en mode is maar my manier om dit te kan doen.
Hier by MDV sê ons:
“Wear your worth“. Gee vir mekaar komplimente. As ek ’n vrou sien met mooi skoene of ’n romp ek sal na haar toe stap en sê “jy lyk stunning”.
Ek sal soms vra of ek ’n foto mag neem om dit te kan hou as ’n reminder – wie weet dalk inspireer sy my om iets nuuts te ontwerp.

Is jou reeks ‘n beperkte uitgawe (limited edition)?
MAR-LINDE: Op die oomblik is alles limited edition. Ek kry baie navrae en indien dit aanhou sal ek die reeks ’n bietjie langer op die produksielyn hou. Ek sal graag elke reeks eksklusief wil hou. Ek het wel ’n volgende reeks in gedagte, maar dit is ’n verrassing wanneer dit vrygestel sal word.
Enige wense vir die toekoms vir Mar-Linde?
MAR-LINDE: Ek stel vir myself groot doelwitte maar ek glo en vertrou dat alles wat ons doen sal uitwerk soos dit moet. Alles het sy bepaalde tyd en plek.

Raad vir ander wat graag hul eie besigheid wil begin?
MAR-LINDE: Gaan uit en doen waarvan jy hou. Moenie dat negatiewe opmerkings jou van jou drome laat afsien nie. Beplan en hou aan droom. Waar daar ’n wil is is daar ’n weg!!! Jy kan, jy gaan en jy sal ’n sukses maak as jy in jouself glo.
Wenke wat jy wens iemand vooraf met jou gedeel het?
MAR-LINDE: Ek het nie baie geduld nie en dit is iets waaraan ek moes werk. As iets moet gebeur moet dit nou gebeur. So as jy soos ek is, kry eers geduld! Alle goeie dinge neem tyd. Soms het ons ’n prentjie in ons kop oor hoe dinge moet werk en moet gebeur. Moenie toelaat dat iemand jou inspirasie, jou droom kom beïnvloed oor “tyd” nie. It takes time and you will make it happen.
Besoek die Mar-Linde webstuiste hier en volg Mar-Linde op Instagram hier.