kinders lees meer
kinders lees meer

Maak só kinders lief vir lees

Met Wêreldboekedag op 23 April, fokus ons graag daarop om kinders lief vir lees te maak. In vandag se digitale tyd moet kinders so baie informasie inneem en baie meer lees as wat ons ooit gelees het, daarom bly lees nou belangriker as ooit. Hier is kundige raad. Deur Suzanne Kotzé.

Maak só kinders lief vir lees – die leeskundige se raad

Maunette de Kock, is die stigter en verteenwoordiger van Little Pre Readers and Readers. “Ons het tans 49 sentrums in die land en duisende kinders is oor die jare deur ons hande. Ek self is ’n grondslagfase- en kleuterskoolonderwyseres met 26 jaar ondervinding.”

1. Begin vroeg!

Om sommer al van babatyd af boekies te lees en nie ’n dag verby te laat gaan in ’n kleuterdaggie waar daar nie boekies aan hulle voorgelees word nie.

2. Maak dit pret!

Jou kind moet lees assosieer met een van die mees opwindenste gebeure van die dag, hy moet “beloon” word met lees. Bv. ‘Kom ons ruim gou op’ of ‘help gou vir mamma hier, dan raai wat … dan gaan ons LEES!!

3. Blootstelling aan verskeie leesmateriaal!

Lees saam met jou kind verskillende teks op verskillende plekke soos; inligting agter op ’n papboks, artikel op ’n web of ’n brief van die skool. Natuurlik ook heerlike feite en storieboeke.

4. Wees proaktief

Begin die leesproses vroeër as wat normaalweg verwag word van ’n skoolgaande kind in Suid-Afrika, hulle is baie slimmer as wat ons dink en hulle breinpotensiaal om nuwe woordeskat te verwerk en te ontdek is legio! Moenie dat digitale vermaak hulle harte wen voor die genot van lees dit kan doen nie.

5. Spesiale leesplekkie

Lees moet tussen jou kind of tussen jou kind en sy boek as ’n koestertyd gesien word, ’n wonderlik ontspanne tyd. Die oomblik as jou kind dit met iets positiefs assosieer, dinge soos verbeelding, verskillende emosies soos vreugde, humor ens. maak al die breinpaadjies oop en word daar sommer ekstra woordeskat opgetel deur die linker- en regterbrein integrasie wat in die brein plaasvind! Kies ‘’n spesiale sagte bank, boom met ’n bankie vir die klein kindertjies iets soos ’n tentjie of ’n fort.

Besoek gerus:  www.littlereaders.co.za

Die Juffrou se raad

Juffrou Angelique is ’n graad 4 juffrou wat bekend is vir haar oulike Instagram-profiel en kreatiewe aanslag.

Volg haar gerus op Instagram hier: @juffrouangelique

1. Prentjieboeke

Begin met prentjieboeke

2. Onderwerpe waarvan hulle hou

Kies onderwerpe waarvan jou kind (en nie noodwendig jy nie) hou.

3. Moenie bang wees om apps te gebruik nie

Een van my gunsteling apps is Novel Effect.

4. Videos met byskrifte

As die video in ’n ander taal is, met byskrifte, nog beter. Dan dwing dit jou kind om die byskrifte te lees.

5. Speel die storie

Beeld karakters of gebeure uit die boek met speelgoed uit en laat die boek julle lei oor wat volgende gaan gebeur.

Boekwurm-mamma Suzanne se raad

Ek en my man is groot lesers en vandat ons kinders gebore is, was dit vir ons belangrik dat ons kinders ook van lees moet hou. (Ons het vinnig besef, dis die enigste manier hoe ons tyd vir lees gaan kry). Ek het egter vinnig besef dat net omdat ek van lees hou, dit nie beteken my kinders gaan ook noodwendig van lees hou nie. My tienjarige is, soos sy ma, ’n regte boekwurm en verslind boeke, terwyl ons dertrienjarige maar taamlik lank lees aan boeke. Hier is wat die mamma so oor die jare geleer het.

1. Stel die voorbeeld

Bêre jou foon en wys vir jou kinders jy kan ook ononderbroke lees (dis soms moeilik ek weet!) Dit help nie jy verwag van jou kinders om te lees, maar hulle sien jou nooit lees nie.

2. Weg met skerms

Neem naweke of skermvrye dae. Ons kinders mag nie gedurende die week ‘kyk’ nie, behalwe vir ’n episode familie-kyktyd. Dit was ’n stryd en ’n half om hierdie reël in plek te stel, maar toe die kinders dit eers gewoond geraak het, het hulle minder begin vra. Met so ’n bietjie “ek is só verveeld” het hulle die waarde van lees besef.

(Elke familie is natuurlik anders, en soms werk skermtyd beter vir julle gedurende die week. Neem dan skermvrye naweekleestyd. Dit is wel makliker as daar ’n vaste reël is, bv. elke Saterdag 3 uur is dit leesuur)

3. Besef dat kinders verskillende leespersoonlikhede het

Sommige kinders wil ’n storieboek van begin tot einde klaarlees, terwyl ’n ander kind stadiger lees (en soms dieper waarneem) of feiteboeke verkies.

4. Moenie voorskriftelik wees oor wat hulle lees nie

In ons huis het ons selfs al feite boeke oor ‘poo’ voorgelees, omdat dit is waarin die kinders toe belanggestel het. En hierdie mamma het lekker haar neus opgetrek vir die ‘simpel’ Kaptein Onderbroek en Hondman boeke, maar toe ek agterkom dit laat my oudste (wat nie ’n groot leser is nie) onophoudelik lees, het ek vinnig die hele reeks aangeskaf. Die Hondman (Dogman)-reeks was beslis ’n wenner onder vele seuntjie-maatjies wat nie van lees gehou het nie.

5. Moenie vergelyk nie

Moenie jou kinders se leesspoed en vaardigheid met mekaar vergelyk nie. Jy wil lees lekker hou, en nie ’n kind angstig om minderwaardig laat voel omdat hulle nie so goed soos boetie of sussie lees nie.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
prinses catherine
Prinses Catherine leer om geduldig te wees met onsekerheid
error: Content is protected !!