Dit is uitverkopingseisoen en SALE bordjies waar jy kyk – jy mag dalk (soos ons!) bang wees jy loop ’n wennerwinskopie mis– maar wees versigtig vir daardie impulsiewe kopies wat jare lank net in jou klerekas gaan stof opgaar! Drie stylkenners deel 7 uitverkopingfoute en 8 wenke vir slim koop op ’n uitverkoping. Deur Justine Kroes
Voorkomskonsultante en stylkenners Susra Mathee, Simone Lombard en Helen-Anne Roux deel hul beste uitverkopingwenke hier:
Sewe algemene uitverkopingfoute
1. Jy weet nie wat jy reeds in jou klerekas het nie
“Jy weet nie wat eintlik in jou kas aangaan nie, wat jy het en wat jy nodig het nie – gaan deur jou kas en maak seker oor dit wat jy nodig het” is Simone se raad.
2. Jy maak impulsiewe kopies
Simone sê “impulsiewe kopies gebeur wanneer jy nie beplan om iets te koop nie, maar die massiewe rooi woord ‘sale’ verlei jou net te maklik”.
Onthou goedkoop is nie verniet nie – wees versigtig om iets te koop net omdat dit op uitverkoping is. Vra jouself af: Sou jy volprys betaal het vir die item? meen Susra.
3. Jy beplan nie vooraf nie
Jy doen nie voorafbeplanning nie. Maak aan die begin van die jaar ’n lys van items wat jy nodig het en hou daarby (gebruik die kapsuleklerekas-konsep as jou beginpunt) is Simone se raad. Susra stem hiermee saam “Gaan winkel toe met jou lys om jouself te herinner waarna jy eintlik soek. Inkopies vanaf ’n lys is gewoonlik meer suksesvol as om uit te gaan met een spesifieke item in gedagte – jy sal dalk nie alles op jou lys vind teen ’n afslag nie maar hou die res vir later”.
4. Jy pas nie aan nie
Jy pas nie aan nie – Helen-Anne sê, selfs al hou jy nie daarvan om in die klein hokkies aan te pas nie – neem items huistoe en pas dit daar aan – onthou net om jou strokie mooi te bêre indien jy die items wil terugneem.
5. Jy koop oor en oor dieselfde klere
Susra verduidelik – ’n groot fout wat jy dalk mag maak – jy koop heeltyd dieselfde tipe klere. Het jy iets soortgelyks in jou klerekas wat presies dieselfde funksie dien? Maak seker jy koop nie die heeltyd presies dieselfde klere nie, dit veroorsaak dat jy gou verveeld raak met jou klerekas en te veel items het vir dieselfde funksies en niks vir ander nie.
Om veelvoude van dieselfde item te hêr kan onnodige volume by jou kas toevoeg, wat dit moeiliker maak om aan te trek. As jy iets kry waarvan jy hou, maar reeds iets soortgelyks besit, vra jouself af: Hoeveel hiervan wil ek regtig hê? Die antwoord is gewoonlik: nie meer as twee nie.
Simone stem saam – Jy koop net. “Want ’n mens kan nooit genoeg van dit of dat hê nie”. Op die ou einde sit jy met vyf van dieselfde items – en mors jou geld!
6. Jy koop items wat nie by jou liggaamsvorm pas nie
“Alhoewel dit goed is om nuwe style te probeer, maak seker dit pas by jou liggaamsvorm en dit is in ’n kleur wat by jou pas. Ons was al almal daar – jy sien ’n vriendin in ’n rok en jy gaan soek ’n soortgelyke een. Maar wanneer jy dit aantrek, lyk dit nie so goed aan jou nie. Dit is die moeite werd om tyd te neem om te dink of uit te vind – die grootte, kleur en materiaal waarvan jy hou en wat by jou pas en dan na hierdie spesifieke goed te soek eerder as om blindelings in te stap” sê Susra.
7. Jy koop klere wat nie pas nie
Helen-Anne sê “Jy koop klere wat te groot is – bly by jou regte grootte. Klere wat te groot is lyk onafgerond en onnet – natuurlik is die teenoorgestelde ook waar – moet liefs nie items koop wat te klein is nie.”
Simone se raad is ook “As iets jou nie regtig/reg pas nie, moet dit nie net koop nie! Moenie jou kopie regverdig deur vir jouself sê “ek moet net 5 kg verloor” nie.
Agt handige wenke vir uitverkoping inkopies
1. Wees geduldig
Die groot ‘deals’ is nie noodwendig op swart Vrydag of voor of na Kersfees nie, maar gewoonlik aan die begin van ’n nuwe jaar en aan die einde van elke seisoen. Hou net n bietjie langer uit sê Simone.
2. Koop vir ander seisoene
Simone sê “Koop somerkledingstukke in die winter, want daar is altyd ’n lekker uitverkoping om ontslae te raak van oortollige voorrraad, en vice versa in die somer”.
3. Maak ’n lysie
Hou ’n lysie van wat jy nodig het byderhand en fokus slegs op daardie items. Voor jy by ’n winkel ingaan, moet jy jouself herinner waarvoor jy soek, en slegs op daardie items “inzoem”, is Simone se raad.
Helen-Anne stem hiermee saam “dink mooi oor wat jy het, as jy graag ’n item wil hê, en dink vinnig in jou kop aan drie tot vyf uitrustings waarby jy dit kan dra. As jy nie aan minstens drie kan dink om dit by te dra nie, dan is daar nie ’n doel vir daardie item in jou klerekas nie.
4. Doen jou huiswerk
Susra sê – Vind vooraf uit wat die grootste trends van die seisoen is, watter kleure die beste by jou pas en wat goeie stapel-items vir jou leefstyl is. Alhoewel dit sin maak om te belê in stapel-items, is uitverkopings ook die geleentheid om ’n trendy item aan te skaf. Maak net seker die tendens het nie die einde van sy gewildheid bereik nie en dat dit steeds in die mode gaan wees die volgende seisoen.
5. Gee vir jouself tyd
“Gee vir jouself genoeg tyd wanneer jy op ’n uitverkoping inkopies doen – wanneer jy haastig is kry jy niks waarvoor jy soek nie, of jy koop dalk te veel – jy gryp als want jy dink dit is goedkoop so “kom ons vat alles”. Maak seker jy is rustig en het genoeg tyd om stadig deur al die opsies te gaan” is Helen-Anne se raad.
6. Gaan vroeg
“Vroeg-oggende is gewoonlik die beste tyd van die dag om te gaan. Nuwe voorraad sal uitgesit word en alles sal nog netjies uitgestal wees. Dit is ook die tyd wat die winkel nie op sy besigste is nie en rye na kleedkamers en betaalpunte sal korter wees. Moet ook nie te lank wag voor jy die uitverkoping besoek nie. Die klere word dalk weer afgemerk, maar wat aan die einde van die uitverkoping oorbly, is items wat niemand wil hê nie” sê Susra.
7. Ken die winkeluitleg
Sommige winkels stal die duurste uitverkopingsitems aan die voorkant van die winkel uit, in die hoop dat dit eerste sal gaan. As jy dus ’n regte winskopie wil maak, gaan na die agterkant van die winkel of rake, is Susra se slim wenk.
8. Lees die fynskrif
Susra noem: Dit is belangrik om die winkel se “teruggeebeleid” te lees. Dikwels het uitverkopings ander reëls as dit kom by teruggee. Die tydperk om om te ruil en terug te neem kan korter wees as normaalweg. Om ’n item vir goedkoop te vind is wonderlik, maar nié as jy dit nie kan teruggee as dit nie pas nie.
Volg ons stylkenners en voorkomskonsultante Susra Mathee, Simone Lombard en Helen-Anne Roux hier:
Les ook: Oorbelle vir jou gesigvorm