Na ’n seisoen van “stille luuksheid” en minimalisme in die mode wêreld is patrone weer terug. Vanjaar word modepatrone gestileer op ’n luukse (maar steeds prettige) manier wat blitsvinnig jou wintervoorkoms verhef. Dink nostalgiese polkakolle, ryk patrone met tekstuur en selfs splinternuwe patrone wat ’n stelling maak. Hier’s die 7 modepatrone tans op ons mode-radar. Deur Justine Kroes
1. Polka-kolle

Volgens ons, gaan polkakolle feitlik nooit uit die mode nie en die 2026 manier voel meer gesofistikeerd en stylvol eerder as die retro stilering van die verlede. Ontwerpers eksperimenteer vanjaar met allerhande polkakol groottes, van mikro polkakolle tot oorgroot polkakolle, polkakolle op deursigtige materiale, satyn en sjiek gestruktureerde mode-items.

Die Dalmatian (swart en wit) honde patroon is nog ’n gewilde “polkakol” en voel natuurlik en sagter as jou koeël ronde polkakol. ’n Goeie alternatief vir iemand wat nie van perfekte polkakolpatrone hou nie.
2. Bambi patroon

Die “bambi”, “deer” of “fawn” patroon is tans die gewildste (en steeds groeiende) patroon onder modeliefhebbers. Danksy ontwerpers Tory Burch se 2025 modereeks vol Bambipatrone en bekendes soos Sofia Richie Grainge wat in haar eie klerereeks (SRG Atelier) Bambipatroon ontwerpe vrygelaat het, het die patroon behoorlik modetrendstatus bereik.
Ontwerper Brandon Maxwell het ook ’n wit en swart weergawe van die Bambipatroon gedeel op sy 2025 winter versameling wat net so gewild was en byna oornag mode faam bereik het.

Hierdie trend is ’n taamlike nuwe modepatroon tot die mode wêreld, juis hierom word dit as innoverend en trendy bestempel, en modeliefhebbers koop Bambipatrone een na die ander.
Kenners meen die patroon is die sagter (stiller en meer luukse) weergawe van die luiperdpatroon. Modefoendi’s glo die Bambipatroon is makliker om te dra en stileer danksy die verskillende neutrale bokkiebruin skakerings.

Die patroon voel sagter, meer klassiek en daarby ook meer subtiel. Met die patroon is daar min stileer-reëls, jou Bambipatroon kan fyner en meer delikaat wees of meer bont met groter wit kolle, of meer besig met ’n hele klomp fyner wit kolle.
Wenk: wees geduldig met jou Bambipatroon aankope, daar is tans maar min Bambipatrone beskikbaar in Suid-Afrika, maar ons glo die patroon sal binnekort volop wees!
3. Slangvelpatroon

Die slangvel modepatroon word hierdie seisoen as die “nuwe neutraal” geag. Slangvel is hierdie seisoen meer luuks en makliker om te stileer as die bekende “groot kat” (luiperd) patrone. Vanjaar se slangvelskakerings in dowwe skakerings soos grys, taupe, olyfgroen en bruin maak hierdie patroon makliker om te dra en te stileer.

Ons gunsteling manier om hierdie modepatroon te stileer is monokromaties, dink aan kop tot tone grys of bruin met tikkies van die patroon in jou uitrusting.
4. Koei patroon

Of jy nou die patroon haat of met jou hele hart liefhet, is dit een patroon wat hier is om te bly. Vanjaar sien ons ook minder van ’n harde kontras van wit en swart koeipatrone, maar eerder romerige bruine en sjokoladebruin koeipatrone.

Wenk: ingeval jy onseker is of jy hierdie patroon wil dra (in ’n rok, broek of jas) kies ’n bykomstigheid in ’n koei modepatroon soos ’n handsak, gordel of tekkie.
5. Check, ruitjiespatroon, argyle en plaid

Klassieke winterpatrone soos check, plaid en ruitjiespatroon beweeg weg van die tradisionele fyn “tartan” patroon en ontwerpers maak graag gebruik van ’n groter formaat patroon met onverwagse kleurkombinasies.
Wenk: Meng jou check/ plaid patrone by blompatrone of selfs polkakolle vir ’n ekstra moderne modepatroon voorkoms.

Die “check” patrone is beslis minder “quiet luxury” en tennis klub sjiek, en eerder meer dramaties en uitspattig vir hierdie volgende seisoen wat voorlê.
6. Buierige blomme

Winter 2026 se blompatroon is donkerder, buierig(moody), meer romanties en minder perfek. Dink aan dramatiese blompatroon muurpapier of vintage blompatrone met donker rose, kant, en fluweel, sommer almal in een gemeng.

Die gevoel van blompatrone vir winter 2026 is donkerder (veral donker agtergronde), dramaties maar steeds ultra vroulik.
7. Strepe (met ’n verskil)

Vanjaar se strepe is beslis nie vervelig nie. Die strepe lê boonop nie net in een rigting nie, maar eerder ’n kombinasie van horisontale en vertikale strepe sommer so gemeng.

Strepe is hierdie winter is minder tradisioneel, dink aan dunner en breër strepe saam in een patroon. Daarby ook ongewone en onverwagse skakerings van strepe saam.





