Oorbelle is een van daardie bykomstighede wat blitsvinnig jou gesig kan ophelder en jou uitrusting kan opkikker. Maar het jy geweet jou oorbelkeuse behoort beïnvloed te word deur jou gesigvorm, die lengte, kleur en vorm van die oorbel – en natuurlik modeneigings ook? Voorkomskonsultant Helen-Anne Roux deel 5 elemente om in gedagte te hou vir wanneer jy oorbelle kies. Hier is haar raad: Deur Helen-Anne Roux; Saamgestel deur Justine Kroes
“My reël is altyd, die oorbel wat jy dra rond jou uitrusting af. As ek vergeet om die dag oorbelle aan te sit, voel dit vir my heeldag asof iets kort. Dit kan jou uitrusting maak of breek.”
Helen-Anne Roux
Daar is 5 belangrike elemente om in gedagte te hou:
1. Bepaal jou unieke gesigvorm
Daar is 9 verskillende gesigvorms en vir elkeen is daar die perfekte vorm, lengte, breedte en grootte oorbel.

2. Lengte van die oorbel
Die lengte van jou oorbel word gelei deur jou gesigvorm. As jy ’n langwerpige of reghoekige gesigvorm het, moet jy liefs wegbly van langer oorbelle. Dit kan jou gesig nog langer laat voorkom as wat dit werklik is.
Iemand met ’n vierkantige, hartvormige, omgekeerde driehoek, driehoekige, diamantvormige en ronde gesigvorm kan weer ’n langer oorbel dra. Dit skep die illusie van ’n langer, slanker gesigvorm.

3. Kleur van die oorbelle
Die kleur van jou oorbel word bepaal deur die kleure van jou uitrusting. As jy byvoorbeeld swart van kop tot toon dra, kan jy gerus kleur in die uitrusting bring deur die oorbel wat jy dra.
Die kleur van jou oorbel word ook bepaal deur jou kleurvloei/veltoon (daar is 12). Jou kleurvloei bepaal ook die tipe kleur, metaal en edelstene wat jy moet dra.
As jy onseker is oor watter kleure die beste by jou kleurvloei pas, kan jy met gerustheid universele kleure gebruik, soos navy, warm pienk, waatlemoenrooi, sjampanje en pruim.
As ’n item van jou uitrusting, of jou hele uitrusting, reeds “uitstaan” hou jou oorbel eenvoudig, maar tog sigbaar.
4. Die vorm van jou oorbel maak ’n impak op jou gesigvorm.
Die vorm van die oorbel bepaal of jou gesig langer, korter, breër ens. gaan voorkom, hier is ‘n paar wenke.
Ronde gesigvorm – kies oorbelle wat onderkant die onderpunt van jou ken eindig. Kies geometriese vorme soos reghoeke, trapezoids en vierkante om jou ronde gesigvorm uit te balanseer.
Reghoekige/Langwerpige gesigvorm – Iemand met ’n langwerpige gesigvorm moet liewers weg bly van ’n oorbel wat te lank is/ hang. Kies eerder oorbelle wat aandag wegtrek van lengte en eerder breedte byvoeg aan die kante van jou gesig. Kies korter oorbelle met wyer ontwerpe.
Diamant gesigvorm – sal baat vind by ’n lang, traanvorm, driehoekige- of peervorm oorbel; oorbelle wat dus wyer is aan die onderkant.
Vierkantige gesigvorm – kies ’n hoepel/ronde oorbel, dit is baie vleiend vir iemand met ’n vierkantige gesigvorm en versag harde lyne. Chandelier-style sal ook die truuk doen.
Hartjie gesigvorm – Traan-, driehoekige oorbelle, hoepeloorbelle met kurwes en ander style wat spasie tussen ken en ore sal vul en uitbalanseer.
5. “Trends” (modeneigings)
Met enige modeneiging is dit belangrik om te bepaal of jy gemaklik met die styl is. As dit by oorbelle kom, is dit vir my hoe meer, hoe beter.
Ander mag weer meer gemaklik voel met “less is more”.
Bly by een modeneiging op ’n slag, en laat die fokus daarop wees.
“Stacking earrings” en “ear cuffs” is nou hoogmode – probeer dit gerus – met die “cuffs” is dit nie nodig om ’n ekstra gaatjie te laat inskiet nie – die oorbel “knyp” eenvoudig vas om die vou van jou oor.
Sit aan jou oorbelle en dra dit met selfvertroue – en vir die wat daarvoor kans sien, laat skiet daardie tweede (of derde of vierde) gaatjie in, en stileer dit met styl.
Voorkomskonsultant Helen-Anne Roux
Volg vir Helem-Anne Roux op Instagram hier vir stylinspirasie en wonderlike wenke.
Bronne: South African Image Academy Coulour and Style Manuals