10 goed wat jy van ekseem moet weet

Dermatoloog Dr. Suretha Kannenberg is passievol oor ekseem en bewusmaking van hierdie veltoestand. Sy deel 10 goed wat jy moet weet.  As jy of iemand na aan jou hiermee sukkel, is die artikel ’n moet lees! Saamgestel deur Suzanne Kotzé

1. Ekseem is kronies

Ekseem is ’n chroniese genetiese toestand met omgewingsfaktore wat ook ’n rol speel. Al het ’n mens se ouers of broers of susters dit nie, kan dit of ’n nuwe mutasie wees of dit mag net asimptomaties in familielede gewees het. Om meer presies te wees:

Ekseem is ’n komplekse veltoestand met ’n genetiese geneigdheid met ’n droë vel en ooraktiewe vel-immuunreaksie wat deur omgewingsfaktore, soos huisstofmiet of sepe wat skuim bevat, beïnvloed word.

Dr. Suretha Kannenberg

2. Ekseem is nie jou skuld nie

Met die genetiese geneigdheid is dit dus duidelik dat dit nie jou skuld is nie. Dit beteken nie dat jy byvoorbeeld die verkeerde kos vir jou kinders gegee het, wat dan gelei het tot ekseem nie. Dit sou altyd gebeur het. Voedselallergieë kom algemeen saam met ekseem voor en soms kan dit ekseem vererger. Moet dus nie die eerste ding spring om jou kind op streng vermydingsdiete te plaas nie. Daar is wel eenvoudige dinge wat ’n mens kan doen om episodes van opvlamming te voorkom. 

3. Vermy lang baddens

Beperk blootstelling aan warm water en beperk tyd in die bad tot ’n maksimum van 10 minute. Hierdie beteken nie dat ’n mens kinders se tyd in die water by die swembad wil beperk nie. Dit sou wel die beste wees, maar ons wil kinders so normaal as moontlik laat lewe en wil seker maak dat hulle water-wys is. Die belangrike ding hier gaan wees om onmiddelik na die swem vogrome aan te smeer.

4. Seep wat skuim is ’n nee

Vermy sepe wat skuim. Die bestandeel om voor uit te kyk is sodium lauryl sulphate. Vermy ook antiseptikums, parfuums en kleurstowwe in velprodukte.

Kies seepvervangings in plaas van tradisionele seep

Daar is seepvervangings wat onder andere Paraffinum Liquidum (Mineral Oil) en Petrolatum bevat, wat tweeledige doele verrig: dit maak skoon en dit bevogtig gelyktydig.

5. pH is belangrik

 Jou vel en produkte se pH is belangrik. Mens se vel het ’n suur pH wat bitter belangrik is vir normale funksionering van die sperfunksie. Blootstelling aan water verander reeds die pH na neutraal of selfs ’n bietjie alkalies. Normale velle neem 3-4 uur om terug te kom na die ideale 4.5-5.5 pH. Mense met ekseem, bejaardes en babas se velle het nie hierdie buffer-aksie om die vel terug te kry na normaal nie. Blootstelling aan sepe wat skuim verander ook die pH na neutraal of alkalies. Water en sepe wat skuim is dus baie sleg vir die pH en die gesonde sperfunksie van die vel.

6. Om jou vel se sperfunksie gesond te hou, is noodsaaklik

Vir jare het mense gedink dat die sperfunksie van die vel slegs uit die horinglagie (buitenste lagie van die vel) bestaan. Hierdie selletjies sit soos dakteëls oormekaar, met bietjie vetjies en seramiede tussenin om dit waterdig te maak en voorkom weliswaar dat ons verdamp. Nou weet ons egter dat die pH, mikrobioom (die bakterieë, virusse, swamme en miete wat op ons vellle bly om dit gesond te hou) en die immuunsisteem in die vel ’n bitter belangrike komponent van die sperfunksie vorm. Dit is die eerste blootstelling aan die omgewing en is dus baie belangrik om ons te beskerm teen die omgewing.

7. Bevogtig, bevogtig en bevogtig (met die regte room)

As deel van die daaglikse versorging van ekseemvelle behoort ons vogrome oral oor die liggaam aan te wend. Veelvuldige studies het getoon dat selfs asimptomatiese areas in die vel in mense met ekseem aangetas is – daarom dus: aanwending oor die hele liggaam. Hierdie vogrome behoort eenvoudig te wees, met geen parfuums en kleurstowwe nie. Meeste aqueous rome bevat sodium lauryl sulphate en behoort dus nie as aanbly-produk gebruik te word nie. Daar is egter van hulle wat dit nie bevat nie – hulle is veilig om aan te wend as vogrome.

8. Spesiale sorg tydens ’n opvlamming

 Indien ’n opvlamming gebeur, is die eerste stap om aanwending van vogrome te vermeerder. Soms is dit genoeg om die opvlamming te stop. Indien dit egter nie genoeg is nie, is aanwending van voorskrifsalf soms nodig. Dit sal meestal ’n kortisoonroom of -salf wees. Salwe wat nie kortisoon bevat nie, is ook beskikbaar en dit kan ook verligting bring.

Aanwending van voorskrifprodukte

’n Mens wend hierdie voorskrifproduk daagliks aan, volsterkte (dus: nie verdun nie) en slegs op die duidelike aangetaste areas (dus: nie op die vel wat op die oog af normaal is nie – hierdie kry slegs vogrome). Wend dit eers so ’n halfuur na jou vogroom aan. (Sommige dokters sal sê om eers die voorskrifproduk aan te wend en dan ’n halfuur later die vogroom; dit is ook korrek).

Hierdie aanwending behoort dan voort te gaan tot dinge onder beheer is. Verkieslik nie meer as twee tot vier weke nie; waarna dit gestaak of gespeen behoort te word.

Indien dit nie voldoende is nie, behoort ’n mens definitief ’n dermatoloog te sien. Onthou egter dat die goeie versorging van die vel deurentyd deel van die behandeling is; selfs op die ‘normale’ vel.

9. Kry professionele hulp

Indien die vermeerderde aanwending van die korrekte vogroom nie voldoende is nie, behoort ’n dokter geraadpleeg te word. In selektiewe gevalle gebruik dokters soms ’n kort kursus of inspuiting van kortisoon om die ekseem onder beheer te kry. Dit is egter NIE ’n langtermyn oplossing nie en behoort NIE gereeld gebruik te word nie – dit het baie newe-effekte.

10. Word deel van ’n ekseem-ondersteuningsgroep

Ons het in Suid Afrika ‘n ondersteuingsgroep op Facebook en Instagram – Atopic Eczema Support Group – South Africa (Facebook/) or saeczemasupport (IG). Raak gerus deel van hierdie gemeenskap, waar daar gereeld bruikbare informasie geplaas word en lede hulle ervarings en vrae plaas.

Suretha-Kannenberg

Kontak dr. Suretha deur skindoctorcapetown.co.za te besoek of bespreek ’n aanlynkonsultasie hier

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Jou haarkleur woordeboek: 25 moet-weet haarkleurtegnieke en -frases
error: Content is protected !!