Ly jy of ’n geliefde dalk aan hiperhidrose (oormatige sweet)?

Die meese algemene vorm van hiperhidrose of oormatige sweet begin gewoonlik reeds in jou kinder- of tienerjare. Genetiese faktore of sekere siektes of hormoonversteurings kan ook hiertoe bydra. Hier is kundige raad. Deur Suzanne Kotzé.

Kaapse dermatoloog dr. Suretha Kannenberg gee raad

Hoe weet jy of jy hiperhidrose het?

Dit is iets wat ’n mens begin vermoed as jou jouself met ander mense vergelyk.

  • As jou klere sommer vinnig nat word of heeltyd klam is.
  • As daar druppels sweet die areas is waar jy baie sweet. 
  • En natuurlik as dit jou pla dan sweet jy waarskynlik oormatig. 

Die mees algemene plekke waar hiperhidrose voorkom

Ons sien dit gewoonlik op die hande, voete of oksels. ’n Mens kry dit egter ook op die kopvel (die hele kopvel of net dele), voorkop and soms sommer oor die hele lyf.

Ouer tipe twee diabete kry soms ’n tipe sweet wat ons ‘Gustatory hyperhidrosis’ noem. Dit is waar ’n mens kort na ’n mens eet begin sweet op jou gesig, nek en kopvel.

Frey se sindroom is ook ’n interessante vorm van hiperhidrose waar ’n mens net op sekere dele soos op jou wange, slaap of rondom jou ore in kolle sweet. Dit is as gevolg van neurologiese skade.

Oorsake van hiperhidrose

Menopouse

Oormatig baie sweet kan ook verwant wees aan die warm gloede van menopouse.

Siektes

’n Ooraktiewe skildklier, diabetes of infeksie-siekte soos Tuberkulose kan ook oorsake wees.

Geneties

Dit kan geneties wees. Ek sien gesinne waar die pa en kinders almal oormatig baie sweet.

Die algemeenste  vorm: idiopatiese hiperhidrose

Indien ’n mens geen oorsaak kry nie, is dit idiopaties. Hierdie idiopatiese vorm is die algemeenste  vorm van oormatige sweet en is dikwels geneties. Dit begin gewoonlik reeds gedurende  die kinderjare, en selfs tydens  babatyd. Babatjies met sweterige voetjies mag  een van die eerste tekens wees.

Wat kan jy doen as jy aan hiperhidrose ly?

Klere van natuurlike vesel

Dit mag help om klere van ligte natuurlike vesel soos linne en katoen te dra.

Standaard anti-perspirant wat alluminium chloried  bevat

Die eerste linie van behandelling is om anti-perspirant wat alluminium chloried bevat te gebruik. Dit blok die sweetbuise en in die proses bou die sweet op en die buisie vergaan. Vichy het wonderlike aanrol anti-perspirante – daar’s een vir 48, 72 en 96 ure. 

Gespesialiseerde alluminium chloried produkte

Die aanwending van spesiale alluminium chloried  produkte werk ook vir sommige goed en is nie te duur nie. Dit is ongelukkig ’n bietjie van ‘n storie om dit reg aan te wend en selfs dan kan dit irritasie veroorsaak. Waar dit aangewend word  moet dit eers heeltemal droog wees. Neem  ’n koelerige stort en blaas  die area droog met ‘n haardroër op koud gestel. Wend dan aan en blaas weer droog. ’n Mens kry  ’n alluminium chloried jel wat beter werk vir hande en voete.

Dit is te koop by www.dermav.co.za, of by The Sweat Clinic South Africa.

Medikasie

Mens  kry ook voorskrif rome of selfs pilletjies wat die sweet verminder. Ek hou veral daarvan om die pilletjie-roete te volg as meer as een area of ’n moeilik bereikbare area soos die kopvel aangetas is.

Hierdie medikasie kan dowwe visie veroorsaak (baie raar) en jou mond laat droog voel. Hou maar ’n waterbottel byderhand. Gewoonlik begin ’n mens die behandling met laer dosisse en dan word die dosis stadig opgestoot. Die droë mond word dan ook minder met tyd.

Een van die newe-effekte hier is  dat jou hande kan kraak as gevolg van die droogheid veroorsaak deur die verminderde sweet. ’n Mens het sweet nodig om jou vel te bevogtig. Die meeste mense verminder die dosis gedurende die winter, aangesien ’n mens in elkgeval dan minder sweet.

Iontoforese

Hierdie is ’n proses waar jou hande of voete in ’n tipe bak met vloeistof (meestal water) geplaas word. Jy kry ’n spesifieke toestel  vir jou oksels. ’n Elektriese stroom word dan deur die water gestuur wat die sweetkliere ‘afskakel’. Dit werk baie goed vir sommige mense maar dit neem baie tyd. Dit word gewoonlik by medi-spa’s, estetiese klinieke of dermatoloë gedoen, alhoewel toestelle beskikbaar is vir tuisgebruik.

Botoks

Botoks is die nuwer behandeling wat ’n mens daarvoor kan doen. Dit is ongelukkig duur omdat ’n mens baie eenhede benodig. Dit is ongemaklik (seer op handpalms en veral voetsole), maar dit werk baie goed. Dit is natuurlik nie permanent nie so dit moet so elke drie tot ses maande herhaal word.

Baie mense verkies om dit veral gedurende die somermaande te doen en minder gereeld gedurende die winter.

’n Mens doen gewoonlik eers die eers die jodiumstyseltoets (as ’n mens natuurlik nie allergies vir jodium is nie) om die presiese area te vind waar ingespuit moet word.

Liposuigings, Miradry masjiene en operasies

Daar word soms liposuiging daarvoor gedoen en dan is daar ‘n paar Miradry masjiene in die land wat die sweetkliere vernietig.

In die verlede (en daar is steeds  vandag mense wat dit doen) is simpatektomies gedoen vir hiperhidrose. Dit is waar die senuwee-voorsiening na seker liggaamsareas vanuit ’n mens se nek vernietig word. Dit werk nie altyd nie, en is ’n gevaarlike operasie. ’n Mens sien dan ook in die algemeen dat die sweet dan elders uitslaan. Jy begin dan dalk op jou gesig sweet in plaas van onder jou arms.

Help deur die anonieme sweet-vraelys in te vul

Dr. Kannenberg en ’n mediese student van Stellenbosch Universiteit benodig Suid-Afrikaanse data oor sweet. “Met hierdie wil ons slegs kyk hoe erg oormatige sweet in Suid-Afrika is. Dit is ook totaal anoniem.”

Klik hier om die vraelys in te vul

Vir meer inligting en ondersteuning volg gerus @thesweatclinic op Instagram

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
prinses catherine
Prinses Catherine leer om geduldig te wees met onsekerheid
error: Content is protected !!