kleuter
kleuter

5 Dinge wat my kleuter my oor die lewe leer:

My jongste kleuter is twee. Jip, ek is reg in die middel van een van die grootste stryde om onafhanklikheid en wilskrag wat nog gesien is. Sommige dae is dit uitputtend, maar wanneer ek myself toe laat om effens terug te tree, en te sien hoe sy die lewe aanpak, besef ek dat ek eintlik baie by haar kan leer. Hier is vyf dinge wat ek by my tweejarige leer waarby elkeen van ons kan baat. Deur sielkundige Gerda Kriel

Dit leer my kleuter my oor die lewe

Gerda en Ameli

1. As jy iemand sien vir wie jy lief is: omhels hulle met oorgawe.

Elke middag as ek tuiskom na my dag op kantoor, hardloop sy laggend in my arms in, en druk haar lyfie styf teen my. Die vreugde op haar gesiggie kan ek myle vêr lees, en die geliefdheid wat ek ervaar is onvervangbaar. Maak nie saak hoe my dag was nie, wanneer daardie taai wangetjies teen myne vryf, voel ek soos die Prinses van Wallis.

As ons elkeen vir wie ons liefhet met soveel oorgawe kan liefhê, en met soveel liefde kan vashou, hoe wonderlik sal die wêreld nie wees nie!”

2. As jy wil hê die blommetjies moet groei: maak hulle nat.

Vroegdag gaan haal sy haar gietertjie om die “bloeme” in ons tuin nat te gooi. Gesiggies, laventel, clivia’s, alles word met groot deernis natgemaak en sy weet waar groei elke blom in ons tuin. Sy is gek oor blomme, en as gevolg van haar getroue natmaak, groei daar sowaar ’n paar in ons tuin.

Of jy nou groen vingers het of nie, ons het almal iets in ons lewe wat ons graag wil sien groei: verhoudings, besighede, stokperdjies. Die vraag is of jy dit water gee?

Gee jy jou tyd en jou aandag aan die dinge waarvoor jy lief is, of laat jy toe dat die dae verbygaan sonder dat jy enige daadwerklike verandering bring in jou lewe?

3. Moenie te vinnig opgee nie.

As derde kind moes my jongste vinnig leer om vir haarself op te staan. Soms probeer sy dinge doen wat Ouboet en -sus met gemak doen, ander kere hou sy vas aan daardie speelding waarmee sy eerste gespeel het. Ander kere hou sy aan om te vra totdat ek ingee! Die punt is, sy gee nie sommer op nie!

As ek dink aan al die halfvoltooide projekte en stokperdjies wat agter in my kas stof vergaar, of die onvoltooide manuskrip en halfgebreide serpe, dan besef ek dat die vermoë om met deursetting iets af te handel, my heel dikwels ontbreek.

As ons met ywer en deursettingsvermoë nuwe dinge probeer of aanleer, hoeveel ryker sal ons ervaringsveld nie wees nie?

Wat is die dinge waarmee jy tou opgegooi het? Of waar voel jy moet jy jou stem weer laat hoor. As dit vir jou werklik belangrik is, probeer net weer.

4. Leef in die oomblik!

Wanneer my jongste besig is met iets kan niks haar onderbreek nie, sy dink nie aan vanaand se badtyd nie, sy bekommer haar nie oor netnou se broccoli nie. Haar hele lyfie is besig waarmee sy besig is, en niks kan haar steur nie. Meestal is sy besig met iets ondeunds, en dan kan selfs my kwaai stem haar nie laat opkyk nie!

Wanneer laas het ek so in die oomblik geleef? Die meeste van die tyd leef ek óf gedeeltelik in die toekoms, óf in die verlede, heeltemal ontneem van die oomblik.

Daar is soveel navorsing wat die belangrikheid van mindfulness benadruk, en ek glo ons word met die vermoë om bewustelik te leef gebore, dan word dit bietjie vir bietjie by ons gesteel. Om bewustelik te leef is ’n geskenk: aan jou, maar ook aan almal rondom jou.

Jaag dit na, deur diep asem te haal, jou voete stewig op die grond te plant en rondom jou te observeer. En as jy werklik sukkel, soek ’n kursus of terapeut wat jou in hierdie besondere vaardigheid kan bekwaam.

5. Laat jou emosies toe.

Nou goed: ons is almal bekend met die allerliefste tantrum wat ’n twee-jarige kan gooi. Daardie soort waar die hele lyfie betrokke is by die emosie.  En hoewel dit enige ouer teen die mure kan uitdryf, is dit ’n natuurlike en gesonde manier om haar emosies te ontlaai. Maar net so vinnig kan sy uitbundig lag vir haar boetie se manewales. 

Voordat jy dink ek stel voor jy gooi jou lyf neer op die vloer omdat jy nie die mooi paar skoene by die uitverkoping kon bekostig nie, dink net vir ’n oomblik na oor hoe jy wel jou emosies op ‘n gesonde wyse kan toelaat? Wanneer laas het jy jouself toegelaat om te huil nadat jy iets hartseer deurgemaak het, of het jy uit jou maag gelag omdat iets skreeusnaaks is.

Om jou emosies toe te laat is ’n gesonde praktyk waarby ons almal meer kan baat. Emosies is gesond, en die ervaring van emosies is ‘n teken van ’n gesonde psige. So al is dit dalk ongemaklik – laat jouself voel!

Ons kan nie tyd terugdraai en weer self twee jaar oud wees nie, maar ons kan so baie leer by die kleinstes onder ons, oor hoe om ‘n vol lewe te lei wat in die oomblik geanker


Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
goeie gewoontes
Kweek goeie gewoontes só
error: Content is protected !!