As jy Binnelanders kyk, sal jy vandeesweek aktrise Luandri Reynders, oftewel ‘Karen’, met haar nuwe kort hare te sien kry. Sy deel met ons hoe sy haar nuwe haarstyl in stand hou. Deur Suzanne Kotzé.
10/06/2023
Luandri Reynders oor haar kort hare
Ek geniet my kort hare en die verandering so baie. Dit is vinnig om te was en dit neem nie so lank om dit te ‘style’ nie. Dit is ook nog steeds lank genoeg om vas te maak as ek moet. Met my lang hare het ek net ’n punt bereik waar dit te veel geraak het vir my.
Ons vroue weet mos as jy jou hare verander voel jy net soos n nuwe mens.
Luandri se kuif
’n ‘Trim’ elke drie tot vier weke is nodig
Onthou, as jy ’n kuif knip, verg dit instandhouding om dit mooi te hou. Luandri deel: “Afhangend van hoe kort dit gesny was die vorige keer, laat ek my kuif so elke drie tot vier weke sny.”
’n Kuif wat mooi plat lê
’n Nuwe kuif is geneig om effens óf te wip, óf nie te lê soos dit moet nie. Jou hare moet dikwels eers ‘geleer’ word om op ’n nuwe manier te val.
Luandri sê: “Ek maak seker my kuif is altyd nat voordat ek dit droogblaas; veral by die wortels. Anders gaan lê dit skeef en dit is nie wat jy wil hê nie. Ek deel dan my kuif in twee lae. Ek blaas eers die onderste laag droog en dan die boonste een. Ek maak seker dat ek die borsel tot op die wortels kry om dit eksta glad te kry. Daarna spuit ek ’n bietjie haarsproei op ’n kam en kam ek my kuif daarmee. Dit help net om dit mooi in plek te hou.
Droogblaas
“Ek begin altyd met hittebeskerming. Ek gebruik ’n ronde borsel met sagte hare. Ek verdeel my hare in seksies en blaas dit dan stuk vir stuk droog. Maak seker dat jy die borsel by veral die boonste hare tot by die wortel kry vir eksta volume,” is Luandri se raad.
“Dit hang af op watter styl ek vir die dag besluit, maar soms sal ek net met my haaryster oor die punte gaan om dit meer reguit te maak.”
Luandri se staatmakerprodukte
Ek gebruik Joico produkte. (Beskikbaar by uitgesoekte haarsalonne en aanlyn haarwinkels)
Joico Kpak Colour Therapy
Joiful Volumising Conditioner
Hittebeskerming: Blonde Life Brightening Veil
Hair Shake Texturizing Finisher
Hair Spray – Flip Turn
Luandri se stileerwenke
’n Produk wat tekstuur gee werk goed
“Ek stel voor almal met dié styl kry Joico se Hair Shake Texturizing Finisher. Dit werk so goed. Dit gee jou hare net daai exstra volume.” (Luandri het van nature fyn hare)
Die regte borsel is belangrik
“Maak seker jy gebruik die regte grootte borsel om jou hare mee te blaas. As die borsel te groot is, gaan jy nie jou hare so glad kry soos jy dit wil hê nie.”