Hoe kies jy tussen ’n glansende en ’n mat lipstiffie? Dis nie altyd maklik nie! Dit het ons agtergekom nadat Revlon vir ons nuwe lipstiffies gestuur het om te toets. Deur Suzanne Kotzé
Met die gedurige maskers af-en-aan, dra ons beslis minder lipstiffie as vantevore. Maar smeer jy ook deesdae sommer maar net vir jouself lipstiffie aan? Of ’n vinnige veegsel lipstiffie net voordat jy by vriende se huis instap of nadat jy jou masker afgehaal het in ’n restaurant? En vir hierdie seldsame spesiale geleenthede tussen vlakke en vlae, is daar maar min dinge wat jou so goed laat voel soos helder lippe, hakke en parfuum.
Glansende lipstffie
Revlon oor hulle nuwe Super Lustrous Glass Shine Lipstick: Dit bevogtig soos lipbalsem en skyn soos glas. Dit bevat voedende bestanddele soos aalwyn, hialuriensuur en rooskwarts.
Ons sê: Maskerdra laat ons lippe droër voel, en hierdie lipstiffie voed beslis ons lippe. Velsorgbestanddele soos hialuriensuur kom deesdae al hoe meer in lipstffies voor en ons is mal daaroor, juis omdat dit so bekend is vir bevogtiging. Die kleur van die lipstiffies is meer subtiel, dus is die kleur nie baie helder nie. Dit maak egter dat dit maklik aansmeer en presiese aanwending nie so nodig is nie. Hierdie is beslis ’n heerlike elke-dag-dra lipstiffie. Glansende lippe is glo besig om ’n terugkeer te maak as dit by grimeertrends kom, nadat mat lipstiffie jarelank regeer het
Gunsteling skakering? Glaring Coral is pragtige natuurlike koraalkleur wat nie té pienk of té oranje is nie. Die ideale natuurlike skakering vir elke dag.
Mat lipstiffie
Oor hulle nuwe Revlon Superlustrous Matte Lipstick sê Revlon: Ons het nuwe definisie (re-defined) aan die reëls van mat lipstiffie gegee met hierdie ligte, mat-formule wat nie jou lippe uitdroog nie.
Ons sê: Gewoonlik is ons skrikkerig vir mat lipstiffies omdat dit geneig is om jou lippe droog te laat voel. Hierdie lipstiffie voel egter sag en het nie ons lippe laat droog voel nie. Mat lipstiffies is daarvoor bekend dat dit meer pigment bevat en dus baie meer kleur gee. Hierdie lipstiffie voldoen beslis aan daardie vereiste. Die kleur is duidelik! Ons hou daarvan om mat lipstiffie te kontrasteer met ’n glansende vel/onderlaag. Veral vir elke-dag-dra. Omdat die kleur sterker en meer sigbaar is, is dit belangrik om hierdie lipstiffie perfek aan te wend. As jy nie goed is met netjiese aanwending nie, is hierdie nie vir jou nie. ’n Lippotlood saam met veral die helderder of donkerder kleure word beslis aanbeveel.
Gunsteling skakering? Rooi bly maar mooi, veral in mat en met die sterk pigment is Crushed Rubies beslis ons keuse vir rooi lippe.
.